Duisende sê nee vir Engelse Pukke

NWU se Potchefstroom-kampus. Foto: Media Club/Flickr.

Die Solidariteit Beweging het in die afgelope 48 uur reeds bykans 21 000 kommentare gekry uit die Afrikaanse gemeenskap wat teen die Noordwes-Universiteit (NWU) se planne is om sy taalbeleid op die Potchefstroom-kampus te verander.

“Ons het ook al meer as ʼn 1 100 SMS’e ontvang waarin mense ‘nee’ gesê het vir die taalbeleidsverandering by die universiteit,” het dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van die vakbond Solidariteit, gesê.

Die organisasie het hierdie week ʼn veldtog van stapel gestuur waarin dit die Afrikaanse gemeenskap gevra het om saam te staan om te verhoed dat Engels die voorkeurtaal op al die kampusse van die NWU word.

Maroela Media het Saterdag berig dat daar in verskeie kringe kommer heers oor planne om die NWU te verengels.

ʼn Dokument, wat in Februarie vanjaar deur prof. Robert Balfour, die NWU se adjunkvisekanselier vir onderrig en leer opgestel is, voer aan dat Engels die primêre onderrigtaal vir alle voorgraadse, nagraadse en voortgesetteleer-klasse by al die universiteit se kampusse moet word. Engels moet ook die taal word waarin al die administrasie by die NWU gedoen word. Die omskakeling moet reeds in 2019 begin plaasvind.

In ʼn verklaring wat Vrydag uitgereik is kort ná die dokument as besprekingspunt op die agenda van die konvokasie se vergadering geplaas is, het prof. Dan Kgwadi, die visekanselier van die NWU, die versekering gegee dat die universiteit nie uiteindelik ʼn taalbeleid of  -plan sal hê met ʼn eentalige taalvoorsiening nie.

Kgwadi het ook gesê daar sal eers ʼn konsultasieproses oor die nuwe beleid gevolg word.

Dr. Pieter Groenewald, leier van die Vryheidsfront Plus, meen egter die modus operandi is duidelik: “Die taalbeleid van die NWU se nuwe statuut van Maart 2017 bepaal die taalbeleid moet buigsaam wees en taalbalanse van die verlede regstel. Die taalbeleid moet ook ‘meertaligheid, toegang, integrasie en ʼn gevoel van tuiswees bevorder’.

“As dit egter by die praktiese toepassing van die beleid kom, word veranderde beleid ingestel. Die uitgelekte dokumente toon dat die beplanning is dat Afrikaans stelselmatig uitgefaseer sal word in kursusse, en ʼn oorgang word beplan waarna daar teen 2021 geen meer Afrikaanse klasse op eerstejaarsvlak aangebied sal word nie.

“Dit is dieselfde pad wat Kovsies en Tukkies gevolg het.”

Groenewald het ook aangevoer die konsultasieproses wat die universiteit nou oor die nuwe taalbeleid wil volg is eintlik maar net ʼn rookskerm. Hy het selfs so ver gegaan om Kgwadi daarvan beskuldig dat hy bloot die alumni probeer sus deur te sê die NWU se beleid sal veeltalig bly.

“Dieselfde sogenaamde konsultasieproses volg nou soos destyds met die kleure van die NWU. Die groot meerderheid was ten gunste van die maroen en teen pers, maar die pers korporatiewe kleure is net eenvoudig ingestel.

“Afrikaanssprekendes het ʼn grondwetlike reg tot Afrikaanse onderrig, maar dit word vertrap en selfs deur die grondwethof misken soos in die geval van Kovsies. Uit 38 universiteitskampusse is dit beslis nie te veel gevra om minstens een as oorwegend Afrikaans te behou nie,” het Groenewald gesê.

Hermann, wat self ʼn oudstudenteraadvoorsitter, raadslid en die uittredende visepresident van die konvokasie van die NWU is, het ook aan Maroela Media gesê die Afrikaanse gemeenskap is moeg vir herhaaldelike beloftes oor Afrikaans wat net verbreek word.

“Daar word altyd sousies van akkommodering van Afrikaans en mooi prosesse oor ʼn aggressiewe Engelse taalbeleid gegooi. Tukkies, Maties en Kovsies het die Afrikaanse gemeenskap van enige naïwiteit gestroop. By die NWU moet ons net eenvoudig nou sê: nee.

“Niks is blykbaar nog finaal nie, maar ons het ook toegang tot die Balfour-dokument gehad. Volgens hierdie dokument moet die universiteit se onderrigtaal, ook op die Potchefstroom-kampus, Engels wees.

“Ons moet nou in ons duisende nee sê. Ons moet die universiteit se konsultasieproses voor ʼn groot toets plaas: as tienduisende nee sê, gaan die universiteit steeds vir Engelse onderrig ja sê?”

Louis Jacobs, woordvoerder vir die NWU, het die afgelope naweek gesê dit is te vroeg om in hierdie stadium oor die universiteit se taalbeleid te bespiegel. Hy het benadruk dat die Balfour-dokument bloot ʼn gespreksdokument is en nie ʼn standpunt van die universiteitsbestuurskomitee nie. “Hierdie inset van die universiteitsbestuurskomitee wat in Maroela Media se besit is, is maar net een van talle insette van alle belangegroepe wat deur die taaltaakspan in ag geneem sal word.”

Volgens Hermann het die Afrikaanse gemeenskap net tot 31 Maart om hulle kommentaar oor die NWU se taalbeleid in te dien.

“Hierdie oorweldigende reaksie kan ʼn besluit vir ʼn Engelse taalbeleid by die NWU as irrasioneel bewys.

“Die taalbeleid by die NWU is veel groter as net dié universiteit. Dit gaan nou oor ʼn taal wat veg om haar oorlewing nadat Afrikaans se akademiese funksie oor ʼn honderd jaar ontwikkel is. Dit is te duur om net te laat gaan en niemand by die NWU het die reg om dit weg te vat nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Jerry ·

21, 000 kommentare vir Solidariteit uit 200, 000 Afri-Forum lede. Getalle gewys lyk dit nie vir my baie suksesvol nie. Is die een nie veronderstel om die ander te ondersteun?

JM ·

Hoekom moet Afrikaans af gebreek word net om dat die swart gemeenskap dit wil hê. Dit is baie van die blankes se moeder taal, ek stem dat dit so moet bly.

piper ·

ek is n ou puk. waarom kan daar nie n afrikaanse kampus uit n totaal van 38 wees nie. die rede is dat hulle weet dat as die puk afrikaans gaan bly, dat gaan ontwikkel as die beste kampus in die land. daar sal kwaliteit en wet en orde wees en nie die wanorde en anargie soos op ander plekke nie. hulle wil nie sien dat die afrikaner suksesvol is nie.

Gemaskerde Sopbeen ·

Tyd om die “Pro-Engelse” te “verplaas” na ‘n Universiteit van hulle keuse toe………waar hulle na hartelus kan “Engels” tot dit by hulle ore uitkom. Ek kon nog nooit verstaan hoekom iemand na ‘n Afrikaanse Universiteit toe gaan………..en daarop AANDRING om in Engels onderrig te word, en as dit nie gebeur nie, die plek af te brand. Ek het nie my kids na ‘n Duitse Skool, Engelse Skool, Joodse Skool, Griekse Skool, Italiaanse Skool, Sotho Skool, Zoeloe Skool toe gestuur en AANGEDRING op onderrig in Afrikaans, of ek brand die plek af, nie? As jy in Engels wil studeer………..gaan doen aansoek by een van 39 Engelse Universiteite. Ons is omring deur Engelse Universiteite…..en my kids kon uit die huis studeer as hulle wou, maar wat het hulle gekies? PUK en Afrikaans. Dit kos geld, reiskoste, en tyd……en hulle het hulle gerieflike huis verruil vir beknopte koshuiskamers…..maar hulle’s daar vir ‘n doel, en hulle bereik dit. Hulle verstaan die voorreg wat hulle geniet………en hulle presteer….sonder om “demands” te maak, te dreig, of die plek af te breek. Dis tyd dat PUK ‘n nuwe standpunt inneem: As jy NIE in Afrikaans wil studeer nie……..is hierdie nie die kampus vir jou nie!!!

Jorie ·

Ek stem.
Help nie hulle steek dit weg nie – hulle wil maar net die wittes laat swaarkry.
Dis so tragies dat Afrikaners na ons wette gryp om ons te verdedig teen wettelose mense. Wat sal hulle omgee selfs al is daar 1miljoen handtekeninge.

Jaco ·

Ek stem saam met Gemaskerde Sopbeen. Indien jy in engels onderrig wil word gaan na n engelse kampus of Universiteit . Die PUK moet afrikaans bly en die mooi tradisies moet uitgebrei en behou word. As jy nie te vinde is vir die nie gaan na n ander universiteit toe. Net soos met die kleur van PUK dink ek gaan hulle nie veel na insette van buite luister nie. Sal interessant wees om na al die betrokke rolspelers se gespreksdokumente en besprekingspunte te kyk rakende die aangeleentheid.

C.Maree ·

Tipies… weet nie eintlik wat hulle wil he nie… wil die “colonials” uit die land he maar wil in die “colonial” taal studeer en die “colonial” beurse benut!!!

Piet Potgieter ·

Indien ń behoefte bestaan vir nog ń Engelse Universiteit maak soos wat die Afrikaans sprekende mense gemaak het. Stig nog en ontwikkel dit self. Los die uit wat niks met julle( Engelsprekende) te doen het nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.