Duisende skape mag na Midde-Ooste uitgevoer word – hof

Argieffoto ter illustrasie (Foto: NDBV)

Die hooggeregshof in Grahamstad in die Oos-Kaap het tot die Nasionale Dierebeskermingsvereniging (NDBV) se skok beslis dat die verskeping van duisende lewende skape na die Midde-Ooste mag voortgaan.

Die hof het Dinsdag in die guns van die internasionale uitvoermaatskappy Al Mawashi beslis nadat die NDBV ’n tussentydse aansoek by dié hof ingedien het om die verskeping van lewende skape na die Midde-Ooste te stuit. Die hofstryd tussen Al Mawashi en die NDBV duur al sedert die begin van die jaar.

Al Mawashi word nou toegelaat om 56 000 skape na die Midde-Ooste uit te voer waar dié diere bestem is vir die vleismark in Koeweit en Oman. Die maatskappy wou aanvanklik sowat 70 000 skape vervoer.

“Ons is met afgryse vervul oor die beslissing van die hooggeregshof in Grahamstad om die verskeping in die warmste maand van die jaar na die Midde-Ooste toe te laat,” het die NDBV Dinsdag in ’n sosialemediaplasing gesê.

Dit is nie in dié stadium duidelik wanneer die skape nou vervoer sal word nie.

eNCA berig die hof het nie redes vir sy besluit verskaf nie, maar wel die regering opdrag gegee om te verseker dat die laai en vervoer van die skape in ooreenstemming is met die Wêreldorganisasie vir Dieregesondheid (OIE) se regulasies.

Die NDBV het reeds aangedui dat hy in kontak is met sy regspan oor die hof se beslissing.

Maroela Media het vroeër berig die NDBV meen die skape word in onmenslike toestande aangehou en uiteindelik geslag. Die organisasie wil hê dat die vervoer van lewende skape na die Midde-Ooste verbied word en dat skape eerder in Suid-Afrika geslag word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

marius ·

Geskok ? Die vordering van die saak teen spreker van die sirkus behoort lankal vir die mense aanduidend te wees van wat die howe se houding jeens belankrikes is .

Jaco ·

Soos wat ek die saak verstaan, is die Oos-Kaapse boere wat die skape vir uitvoer verkoop, almal sogenaamde opkomende boere en dus ramaphosa se “our people”. So dan verbaas dié hofuitspraak my nie.

Pieter ·

En vir die boere gaan dit net oor die geld hulle het nie n saak met die diere nie. Die boere weet wat is die toestand op daai skeep maar dit pla hulle glad nie. Hoekom maak die boer nie skaap vleis bekostig baar nie dan kan ons almal hulle ondersteun. Our people gee nie eers vir n mens se lewe om nie wat nog te se vir diere.

Drikus ·

Ek wonder net hoekom voer hulle nie die geslagte karkasse uit nie ? Dis mos baie makliker, en meer genadig .. Hoe dit ook al sy, niemand kan nou neus optrek vir uitvoere nie. Dit is darem bietjie geld wat inkom vir boere..

Toktokkie ·

Hulle voer nie karkasse uit nie want hulle is bestem vir ‘n moslem land. Hulle moet op die halaal manier geslag word. Hulle kele word op ‘n streep afgesny en daar word gewag totdat hulle hulself uitbloei. So buiten die 40 grade plus tempreture wat hulle moet verduur vir tot soveel soos 8 dae lank, staan hulle knie-diep in hul eie ontlasting vir daardie tydperk. Die wat wel oorleef word dan nog blootgestel aan die halaal manier van slag en moet hulself stadig doodbloei. So jammer as ek nie jou opgewondenheid oor geld wat inkom vir hierdie boere deel nie.

Stofdonkie ·

In die warmste maand maand van die jaar, en dan volgende sin is dit nie duidelik wanneer die skape Vervoer sal word nie. So hoe kan hulle sê die warmste maand van die jaar as hulle nie eers weet wanneer die skape Vervoer sal word nie? Die dbv speel so in die regering se hand in om help dat boere nie kan besigheid doen nie. Eers droogte wat die boere slaan en as hulle dan goeie prys kry prober die dbv en anc hulle weer keer. Boere, belê in toerusting om boerdery minder arbeidsintensief te maak en jaag die klomp arbeiders weg dat hulle by die anc of dbv kan gaan werk.

Helene ·

Baie ontstellend! Maar laat ek eerder stilbly en in stilte trane stort!

Kokerboom ·

Die ANC regime en sy tentakels het die bevolking al so afgestomp. Niks maak meer sin. Die oproepe vir selfbeskikking maak lankal sin!!!SA het ‘n verleentheid geword!

4ntj13 ·

Hoekom sou NDBV die saak verloor het? Het hulle jurisdiksie op see ook? Ek besef dis onmenslik, maar ek is bekommerd dit raak eers so lank na SA se gebiedswaters verlaat is. Is daar nie eerder iets wat doane kan doen saam met Dept Landbou nie? Hier is mos genoeg vraag na skaapvleis binne ons land.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.