Foto’s: Duisende stap teen geweld in Pretoria

Meer as 2 000 mense het Dinsdag in Pretoria byeengekom om vreedsaam teen geweld te betoog. Hulle boodskap was duidelik: misdaad in die land het handuit geruk en “ons sal nie langer stilbly nie”. Hierdie inisiatief is geneem in reaksie op die gru-moord van die 5-maande-oue Wiehan Botes en sy oppasser, Margrietha de Goede (66), in Delmas verlede maand.

Betogers het vroeg die oggend reeds by die Pretoria Kunsmuseum begin saamdrom waar nagenoeg 33 bekendes ook hul steun aan die saak verleen het. Hulle was almal in swart en wit geklee. Die swart klere simboliseer dat Suid-Afrikaners rou oor elke persoon wat vermoor is of deur geweldsmisdaad geraak is, terwyl die wit simboliseer dat daar in vrede vir vrede gestap word.

Steve Hofmeyr, Bobbie van Jaarsveld, Karlien van Jaarsveld, Corlea Botha, Jennifer Zamudio, Pieter Koen, Adam Tas, Derick Hougaard, Gerrie Pretorius, Quentin Prinsloo, Karen Ferreira, Andre Schwartz, Dewald Louw, Ricus Nel, Angelique Gerber, Rudi Claase, Armand Hofmeyr, Izak Davel, Gretha Wiid, Sorina Erasmus, Marnet, Elizma Theron en Janine van der Vyver is van die bekendes wat die voortou geneem het en die optog bygewoon het.

Wiehan se ouers, Wiets en Rita, het ʼn plakkaat van Wiehan gedra en saam die bekendes gestap.

Steve Hofmeyr het voor die optog aan die skare gesê: “Die regering is óf doof, óf hulle vee hulle g*tte aan ons af. Ek dink dit is albei. Of ek dink hulle weet nie waar hulle is nie, hulle is oorweldig. Ons vra dus net ʼn bietjie mag terug om onsself te mag help.” Hy het kruise op sy wang geverf ter nagedagtenis aan mense wat daagliks aan misdaad blootgestel word.

Die optog het by die Kunsmuseum in Arcadia begin en met Wesselstraat in ʼn noordelike rigting tot by die Uniegebou beweeg. Cornelius Jansen van Rensburg, die burgerregte-organisasie AfriForum se hoof van gemeenskapsake, het die volgende memorandum saam met Wiehan se ouers voorgelees:

“Geagte president Zuma,

Ons het vandag hierheen gestap in vreedsame protes omdat ons die impak van geweldsmisdaad in die lewens van gewone Suid-Afrikaners onder u aandag wil bring en ons eis dat u regering daadwerklike stappe hierteen doen.

Suid-Afrikaners leef in vrees omdat die regering sy primêre plig versuim het om sy landsburgers teen geweld en teen misdaad te beskerm. Dalk sukkel u om deur die ruite van gepantserdde motors of oor die skouers van u talle lyfwagte of oor u hoë veiligheidsmure te sien hoe Suid-Afrikaners rou. Terwyl ons belastinggeld vir u en u kollegas se veiligheid betaal, betaal ons in
bloed vanweë die gebrek aan veiligheid in ons land.”

Die memorandum eis ondermeer dat die regstelsel reggeruk en doeltreffend bestuur moet word; dat gevangenes nie meer kwytskelding van tronkstraf moet ontvang nie; dat plaasmoorde as prioriteitsmisdaad geklassifiseer word; en dat die regering sy onderneming gestand doen en spesialiseenhede vir landelike veiligheid instel.

Die memorandum is kort daarna aan die presidensie oorhandig. Mosa Sejosingoe het die memorandum namens president Zuma ontvang en onderneem dat die president sy volle aandag aan die kwessies in die memorandum sou gee.

Klik hier om ‘n video van die geleentheid te sien.

[nggallery id=43]

Hier volg die volledige memorandum:

Memorandum

Staptog teen Geweld
19 Junie 2012

Geagte President Zuma

Ons het vandag hierheen gestap in vreedsame protes omdat ons die impak van geweldsmisdaad
in die lewens van gewone Suid-Afrikaners onder u aandag wil bring en ons eis dat u regering
daadwerklike stappe hierteen doen.

Suid-Afrikaners leef in vrees omdat die regering sy primêre plig versuim het om sy landsburgers teen
geweld en teen misdaad te beskerm. Die regering se pogings om hierdie euwel uit te roei, is power.
Dit lyk nie vir ons of daar by die regering enige politieke wil bestaan om hierdie land en sy mense se
veiligheid te verseker nie.

Dalk sukkel u om deur die ruite van gepantserde motors of oor die skouers van u talle lyfwagte of
oor u hoë veiligheidsmure te sien hoe Suid-Afrikaners rou, hoe ons bloei en hoe ons huil. Dalk het u
gewoond geraak aan die misdaadsituasie en aanvaar u dit as ʼn gegewe. Dalk word u verblind deur
die glans van blou ligte, of dalk het u self nog nie die prys moes betaal van ʼn geliefde wat voor u oë
doodgemaak word nie.

Terwyl ons belastinggeld vir u en u kollegas se veiligheid betaal, betaal ons in bloed vanweë die
gebrek aan veiligheid in ons land.

• In die afgelope 18 jaar is minstens 345 000 mense in ons land vermoor.

• Sedert 2003 is bykans ʼn halfmiljoen seksuele (471 000) misdrywe soos verkragting gepleeg.

• Tussen 2003 en 2010 is 1 573 597 mense wreed aangerand.

• Moorde in landelike gebiede het daartoe bygedra dat die aantal kommersiële boere is Suid-Afrika van 70 000 tot minder as 40 000 afgeneem het. Duisende het hul werk as gevolg hiervan verloor.

Tydens die oorlog in Irak het 116 000 burgerlikes omgekom. In Suid-Afrika is daar sedert 1994
drie keer soveel mense vermoor. Dit is derhalwe duidelik dat kriminele bendes ʼn oorlog teen Suid-
Afrikaners voer. As die regering tydens die Sokkerwêreldbeker ons veiligheid kon verseker, kan dit
sekerlik nou ook gedoen word.

Hoeveel vyf-maande-oue babas moet nog verwurg word alvorens u gaan optree? Hoe lank moet die
Van Tonders en die Van der Merwes deur u eie partylede gedreig word alvorens u optree? Ons wil
weet wat u regering gaan doen om geweldsmisdaad in Suid-Afrika te stop!

In besonder eis ons dat die volgende stappe geneem word:

1. Dat die regstelsel reggeruk en effektief bestuur moet word. Mense wat agter tralies hoort, kry borgtog of kom skotvry omdat dossiere wegraak, of omdat ondersoeke swak gedoen word, of omdat dienaars van die gereg omgekoop kan word.

2. Dat tronkstraf aan misdadigers opgelê word en dat hulle daar gehou moet word. Hoe moet misdadigers en wetsgehoorsame burgers die regering ernstig opneem as 37 783 misdadigers vroeër vanjaar vrygelaat is? As misdadigers geen vrees vir vervolging het nie, dan sal hulle nie ophou roof, moor en verkrag nie.

3. Dat plaasmoorde as ʼn prioriteitmisdaad geklassifiseer word. Is die feit dat ’n boer se kans om in die land vermoor te word groter is as dié van ’n polisiebeampte nie voldoende motivering nie? Boere word as ’n groep geteiken en die regering se teësinnigheid om dit te erken, sterk die plaasmoordenaars in hul kwaad.

4. Dat die regering sy onderneming gestand doen en spesialiseenhede vir landelike veiligheid instel. Sedert die afskaffing van die kommandostelsel vier misdaad hoogty. Die staat is wetlik en moreel verplig om ʼn doeltreffende alternatief daar te stel.

5. Die tyd het aangebreek dat die regering teen korrupte en kriminele polisiebeamptes optree. Hierdie korrupte staatsamptenare verloën die publiek se vertroue in hulle en hulle behoort swaarder as gewone misdadigers gestraf te word. Verban korrupte polisiebeamptes en staatsamptenare uit die staatsdiens en stuur hulle tronk toe, nie hospitaal toe nie.

6. Maak dit moontlik vir gemeenskappe om hul eie strate te beveilig. Mense wat bereid is om as polisiereserviste te dien, word deur polisiebevelvoerders buite hul eie woongebiede ontplooi om diens in die mees haglike omstandighede te doen. Gevolglik is hierdie vrywilligers nie meer bereid om as reserviste te dien nie. Wysig SAPD-regulasies sodat polisiereserviste slegs in hul eie woongebied diens hoef te doen en self die keuse kan uitoefen of hulle buite hul woongebiede ontplooi wil word.

7. Dat u optree teen u partylede wat Suid-Afrikaners met geweld dreig. Die uitspraak van Ronald Lamola en die regering se stilswye daaroor is vir ons onaanvaarbaar. In ʼn tyd waarin boere in wese voëlvry verklaar is op hul plase is, stig u party se jeugliga geweld aan. Enkele ure ná Lamola se uitspraak is die Muller-gesin op hul kleinhoewe aangeval, en is hul dogter, Arina,
doodgeskiet. Politici se uitsprake beïnvloed die gedrag van gewone mense. Gun ons dus in jul uitsprake dieselfde sensitiwiteit as wat julle rondom die The Spear-skildery verwag.

Misdaad is ʼn epidemie wat in ons land posgevat het omdat die staat sy plig om wet en orde te handhaaf, versuim het. Suid Afrika het ʼn mensgemaakte rampgebied geword; ʼn plek waar kriminele vry kan rondbeweeg en ons gyselaars in ons eie huise is. Ons rou vir elkeen wat sy/haar lewe moes opoffer, sy/haar onskuld moes prysgee en wie se liggaam gebroke is omdat dié wat hulle moet beskerm meer fokus op faksiegevegte, tenders en die toesmeer van hul eie wandade.

Tot op hede was die regering se stilswye en gebrek aan aksie die enkel grootste rede waarom ons land in ’n kriminele paradys ontaard het. Hy wie die skuldige help, deel in die misdaad.

Volgens Artikel 11 van die Grondwet beskik elkeen oor die reg tot lewe. Dit beteken dat dit die regering se plig is om hierdie reg te beskerm. Daarom eis ons dat u teen 31 Julie 2012 op hierdie memorandum en die eise hierin vervat, sal antwoord. Ons vra dat die president dit duidelik aan ons sal stel wat sy regering gaan doen om sy grondwetlike, politieke en morele plig teenoor die land na te kom.

Ons eis aksie nou!

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.