Duisende steeds gestrand oor Putco-stakings

Argieffoto (Foto: Putco Greater Soweto/Facebook)

Talle werkers van die busdiens Putco word deur moontlike aflegging in die gesig gestaar weens ʼn ongemagtige staking wat sedert verlede week by die maatskappy se depots in Dobsonville, Putcoton en Roseville in Gauteng woed.

Dié nuus is Woensdag nie goed ontvang nie en talle stakende werkers het by die maatskappy se depot Putcoton in Soweto opgeruk, bande gebrand en die ingang van die kantoor versper.

Duisende pendelaars kon gevolglik nie by die werk kom nie.

Die polisie moes Woensdag rubberkoeëls op die betogers afvuur in ʼn poging om hulle uiteen te jaag, berig EWN.

Lindokuhle Xulu, woordvoerder van Putco, het aan Maroela Media bevestig dat ʼn aantal werkers Donderdagoggend weer voor die Putcoton-depot se hek byeengekom het.

Sowat ʼn duisend stakers het ʼn week gelede die maatskappy se bedrywighede tot stilstand gedwing en duisende passasiers reg oor Gauteng gestrand gelaat – selfs dié wat reeds vooruit kaartjies vir die busdiens gekoop het.

Die werkers eis ʼn loonverhoging van 6% en betaling van bonusse wat glo vanaf 2020 aan hulle verskuldig is.

Putco voer aan dat hy in 2020 by die Suid-Afrikaanse Padpassasiers‑bedingingsraad aansoek gedoen het om vrystelling van hierdie ooreenkoms te kry.

“Putco was nie in staat om die verhoging of die bonusse te bekragtig nie weens die uitwerking wat die Covid-19-pandemie op die maatskappy gehad het,” sê Xulu.

Die hof het ʼn dag ná die aanvang van die staking ʼn interdik ingevolge die Wet op Arbeidsverhoudinge aan die maatskappy toegestaan wat die werkers verbied om met die stakingsoptrede voort te gaan.

Putco sê hy het probeer om met die stakers te vergader om ʼn oplossing vir die geskil te kry, maar dit het op niks uitgeloop nie.

Putco het toe besluit om ʼn ultimatum aan die werkers te stel.

“Die ultimatum vereis dat werkers teen 10:00 Dinsdag moes terugkeer werk toe om verdere minagting van die hof te voorkom. Hierdie bevel is nie nagekom nie,” sê hy.

“Putco het sedertdien kennisgewings uitgereik van sy voorneme om werkers af te dank wat aanhou om aan die onwettige staking deel te neem.”

Die betrokke werkers was tot Woensdag om 17:00 die geleentheid gegun om vertoë te rig waarom hulle nie afgedank moet word nie.

“Ons is nog besig om al die vertoë deur te werk, maar ek kan bevestig dat ʼn beduidende aantal werkers wel vertoë gerig het,” sê Xulu.

“Diegene wat vertoë gerig het se toekoms by die maatskappy sal geëvalueer word op grond van die meriete van hul vertoë. Sommige werkers voer byvoorbeeld aan dat hulle geïntimideer is om óf die staking te ondersteun óf van die werk af weg te bly. Ons sal al hierdie vertoë oorweeg en niemand sal afgedank word as hulle ʼn geldige rede het waarom hulle nie by die werk was gedurende die onwettige staking nie.”

Putco het intussen voortgegaan om afdankingsbriewe te verwerk vir diegene wat nie vertoë gerig het nie.

“Die maatskappy het prosesse in plek om te verseker dat geen werknemer wat moontlik gedurende hierdie tyd met verlof was, per ongeluk afgedank sal word nie,” sê hy.

“Diegene wat nie vertoë gerig het nie, se verhouding met die maatskappy is egter reeds beskadig. Hulle het geen rede gegee waarom hulle nie afgedank moet word nie.”

Volgens Xulu hoop hulle om al die vertoë op die laatste teen Vrydag deur te werk.

Die maatskappy se bestuur sal dan ʼn plan beraam om bedrywighede voort te sit met die personeel wat tot sy beskikking is.

“Ons beweeg nou nader aan die punt waar ons weer bedrywighede kan voortsit.”

Pendelaars gestrand

Pendelaars in Gauteng wat daagliks op Putco staatmaak om hulle by die werk te kry, is sedert verlede week gestrand gelaat. Talle het ook hul misnoeë op sosiale media uitgespreek oor die feit dat hulle reeds vooraf kaartjies vir die busdiens gekoop het, wat nou onbruikbaar is.

Putco het pendelaars egter verseker dat hulle nie hul ongebruikte kaartjies sal verbeur nie.

“Indien die staking voortgaan tot verby die datum wat die kaartjies verval, sal die vervaldatum aangeskuif word,” lui Putco se aankondiging aan passasiers.

“Putco sal ook afslag gee aan passasiers met ongebruikte kaartjies wanneer hulle hul volgende kaartjie aankoop.”

Die maatskappy sê hy kan nie in hierdie stadium terugbetalings doen nie, maar het wel die verkoop van alle weeklikse en maandelikse kaartjies gestaak.

“Ons sal alles in ons vermoë doen om bedrywighede weer normaalweg te laat funksioneer.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Di ·

Dis reg, die wat onwettig staak moet summier afbetaal word. Dis hoog tyd dat hierdie voortslepende stakings summier in die bek geruk word. Hulle dink mos hulle kan maak nes hulle wil sonder enige gevolge. Kry mense wat bereid is om te werk. Laat die wat hulle werk verloor agv hiervan,die Vakbonde gaan vra vir geld elke maand

Anel ·

Verstaan die lot nie dat hulle WERK het nie. Hoe wil hulle op verhogings aandring? Wie moet daarvoor betaal? Hulle werk dan ook nie? Waar moet die geld dan vandaan kom? Daar is miljoene wat maar te dankbaar sal wees vir daardie werk! Maar my! En dit geld vir almal wat ‘n werk het en tydig en ontydig op verhogings aandring en dan in vandale verander. Onthou, die goed wat jy vandaliseer word met jou verhoging vervang. Man en as jy nie tevrede is met dit wat jy kry nie, gaan kry vir jou ander werk. Niemand hou ‘n geweer teen jou kop en sê jy moet die of daai werk doen nie!!!!

Mariana ·

Al die stakings en geweldadige optogte is ‘n euwel en dis tyd dat daar opgetree word. Hulle verwoes die land en op die ou end benadeel hulle net hulself en hul families. Hoe domonnosel is die mense? More is dit weer oor iets wat hulle vandag verwoes het.

Johann ·

Hoe redeneer jy met totaal onlogiese, selfsugtige, disfunksionele inteligensie? Veral waar hulle mekaar in massas opstook en begin brand en verwoes? ANC LEGACY wat die arbeidsmag bemagtig het vêr bo wat veronderstel is.

Kobus ·

Arbeidswette geld net vir vakbonde. Onwettige stakings word met geen gevolge verdedig. Wat het Eskom met die onwettige stakers gedoen? Indien hierdie klomp boewe afgedank word gaan die hel losbars totdat hulle weer aangestel word. Maatskappye kan netnie wen nie

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.