Duisende steek hand op om SA te herbou

Inwoners van Richmond in KwaZulu-Natal ruim self die strate op. (Foto: Facebook/We Are South Africans)

Chaos het die afgelope week in die strate van Suid-Afrika geheers tydens gewelddadige onluste en betogings wat geboue, winkelsentrums en kleinsakeondernemings in puin gelaat het.

Hoewel die verwoesting wat gesaai is miljoene Suid-Afrikaners in sak en as gelaat het, het ʼn nuwe beweging ontstaan van vrywilligers wat hande opsteek om die land te herbou en die strate op te ruim.

Emelda Masango het Dinsdagoggend op sosiale media geskryf dat sy weens die onluste nie kan terugkeer na haar werkplek nie, maar dat sy graag ʼn verskil wil maak en het aangebied om onder meer geplunderde winkelsentrums te help opruim.

Masango het duisende Suid-Afrikaners op ʼn Facebook-groep genaamd I Know A Guy geïnspireer met haar plasing, waar mense begin deel het in watter gebiede hulle woonagtig is en waar hulle ʼn handjie kan bysit met die opruimingwerk.

Individue en maatskappye regoor die wêreld bied nou hulle gratis dienste aan om die strate van Suid-Afrika skoon te maak en te herstel.

“My maatskappy kan gratis help skoonmaak. Ons is almal saam in hierdie ding,” skryf Rudzani Prince.

“Ek sou ook graag betrokke wil raak. Ek kan ongelukkig nie my tyd aanbied nie, maar ek sal graag geldelik wil bydra,” skryf Clare Lang.

“Mag God ieder en elkeen van julle seën. Diegene wat bid vir die land, die polisiebeamptes, wetstoepassers en almal wat betrokke is om ons land weer na sy normale toestand en selfs beter te herstel,” skryf Vusimuzi Gumede.

Tshidi Kunene Molefe, ʼn Facebook-gebruiker wat skermgrepe van Suid-Afrikaners se bereidwilligheid en ope harte op Facebook gedeel het, se plasing het ook soos ʼn veldbrand versprei. Dié plasing is meer as 44 000 keer gedeel.

This is the South Africa i signed up for ????????❤️????Lets make South Africa great again ✊????❤️#SaveSouthAfrica#CleanUpSA

Posted by Tshidi Kunene Molefe on Tuesday, July 13, 2021

Meer as 1 300 vrywilligers het ook oornag aangesluit by die Instagram-blad @rebuildrsa. Bekendes soos Arno Greeff, Demi Lee Moore, Clarice Visser en Zelri Steyn, vrou van die sanger Gerhard Steyn, ondersteun dié blad.

Inwoners van Protea Glen in Johannesburg, Gauteng, het Dinsdag self ingespring om motors voor te keer wat met geplunderde goedery verbygekom het. Dit het gelei tot die inhegtenisname van vyf verdagtes.

Op die Facebook-blad Move ONE Million wou Tracy Watson-Sivakumar weet hoe sy uit die buiteland kan help om die situasie in Gauteng te beredder.

“Sê vir jou buitelandse vriende ons is veerkragtig, sterk en vasberade. Sê vir hulle dat ons gaan herbou en Suid-Afrika herstel om die baken te wees van wat reg, geïntegreerd, gelyk en goed is,” het Sandra Corrado geantwoord.

“Sê vir hulle ons is klaar met misdaad en korrupsie en dat ordentlike Suid-Afrikaners beheer terug neem van hulle eie lot. Sê vir hulle ons is klaar met onbevoegde leiers wat hulle eie agendas en gierigheid navolg ten koste van goeie burgery. Sê vir hulle Suid-Afrika sal gereed wees vir hulle in al haar prag en praal. Ons verdien niks minder nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

36 Kommentare

Natasha ·

Na elke veldbrand begin daar weer blomme groei wat lank nie gegroei het nie. Net so gaan daar ‘n beter SA groei na die idiote als probeer verwoes het. Die Zuma’s en Malema’s van die land sal ons nooit onder kry nie!

Danie ·

Die gebaar van help opbou en skoonmaak is iets om op trots te wees. MAAR. Is die boodskap wat gestuur word nie die van “julle kan brand en breek, ons sal weer help opbou sodat julle weer die gerief van al dienste en gemak kan geniet”. Is dit nie tyd dat hulle maar met die gevolge van hul aksie moet leef nie? Vra maar net.

marius ·

Heel korrek . Dis die apologetiese geen gevolge houding wat dit voortdurend gaan maak. As jy jou brue self agter jou gebrand het moet jy maar by die rivier staan en gil as jy nie kan terugkom nie . Solank as wat daar weer opgebou word sal daar weer afgebreek en geplunder word . Genoeg is genoeg .

Maggies ·

Ek het ‘n af duimpie gegee omrede ons nie in so land wil of kan leef nie. Ons moet skoonmaak en weer opbou. Opbou vir die van ons wat selfrespek het. Anders gaan ons mooi land tot niet gaan. As ‘n boer se lande afbrand en vernietig word en hy saai nooit weer nie, waar gaan die boer sy inkomste kry? Nee, hy maak sy lande gereed en saai weer. Mens moet nooit ooit moed opgee nie.

H.A. ·

Danie, jy’s reg. Dit is sulke dinge wat die anc laat voortleef.

Fedup ·

A nice gesture, but Why should their be people cleaning up after those lot. They can clean up their own mess.
They destroyed everything, they can sort out this crap.
I am done with this lot.

Vlooitjie ·

As wrong as it is, they won’t. Somebody else has to unfortunately.

marius ·

Stem met jou saam . Siek en sat om te moet instaan vir die skuim van die aarde se optrede .

Werner ·

Moet asb nie laat dit klink asof die chaos verby is nie.Dit heers nog steeds

Martie Smartie ·

Nee dankie. Als wat mens opbou word verbrand geplunder en afgebreek. Los dit netso laat die staat dit opruim.

Anel ·

Dink net bietjie wat sou gebeur het as ons voorouers nie land weer opvebou het na 1902 nie. Dan sou jy dalk nie hier gewees het nie. Onthou, die Afrikanernasie is een van die sterkstes in die wêreld. Ons staan weer op en gaan aan want ons is kinders van God.

BOKKIEBEK ·

Want dis wie en wat ons is – ons herbou, weer en weer en weer… :-)

Inkpot ·

Die wat so brand en plunder moet in eie munt terugbetaal word.
Die polisie moet hulle arresteer en dan moet hulle ‘n keuse gegee word, tronkstraf of aangesien jy so daarvan hou om af te breek, hier is klippe en petrol, brand en breek jou eie plek af.

Vlooitjie ·

Ek verstaan die bitterheid wat hiermee saam gaan. Dis baie onregverdig dat party mense verwoes en afbreek en soms wegkom daarmee, maar verstaan ook dat dit nie beteken die mense in die middel van die vernietiging wil so aanhou leef nie. Daar is mense wat brue bou deur hul vullis in die selfde swart sak te gooi dalk weer. Die staat gaan nie opruim nou nie, maar elkeen kan iets doen in jou onmiddelike omgewing. Dit wil tog lyk of die oorgrote meerderheid mense in vrede wil aangaan en solank daar hoop is moet ons probeer. Die wat wil en kan bid, bid, die wat kan opruim, help, die wat kan bydra, gee…so kan elkeen help.

Darlieng ·

Ek dink die lot wat so gierig is om af te breek moet opgesluit word maar terwyl hulle daar is waar hulle hoort moet hulle gemeenskapsdiens doen en hulle gemors skoon maak en weer bou wat hulle afgebreek het as deel van hulle straf.

Maggies ·

Daar is ongelukkig nie genoeg tronke vir daardie massas wat afbreek en plunder nie.

Vanessa ·

Ons kan weer orde skep. Dit help nie ons neem die standpunt in van los dit net so nie. Waar gaan ons op eindig!!!!!Ons sal nie dat hulle wat verwoesting saai ons onderkry nie. As elkeen sy kant bring kan ons die land weer regruk. Ons moet saam staan en help waar ons kan. Ek is so trots op die mense. Let wel hulle doen dit met liefde en bied hul dienste verniet aan. Daar is van hulle wat alles verloor het, hul werk, alles, wat nie weet wat more inhou nie, maar steeds bereid is om hul kant te bring. Ons kan nie alles net so los en verwag die regering moet alles doen en ons sit hande gevou en toekyk. As jy niks het om te doen nie gaan help gerus en gaan op jou knieë en sê vir God dankie vir Sy genade.

Anoniem ·

Verhoor die gearresteerdes binne 3 dae en laat die skuldiges as bandiete onder toesig van die weermag hul eie verwoesting opruim. Hulle moet hulle kommetjie sop en sny droë brood swaar verdien.

Maggies ·

Ek het op hierdie afgekom en deel dit graag. Dit is in Engels, maar ek glo dit is gepas. Dit sê presies hoe meeste van ons glo. Ons is neergeslaan, maar sal nie plat bly lê nie. Ons sál opstaan en floreer.
“Sometimes you have to get knocked down lower than ever before, so that you can stand up taller than you ever were before.” – Unknown

Sarel ·

Die van julle wat nou so negatief is..verstaanbaar dat u so voel…maar skep die wat nou saamwerk nue juis nou die band van saamhorigheid wat SA kortkom nie.
Die Staat moet nou hulle werk doen en die Misdadigers aznkeer…of dit sal gebeur met Cele in beheef is goeie vrasg. Ek het my bedenkinge maar nie hier nie

Sarel ·

Martie Smartie bly u in Richmond..
Ek kan net ook vir u noem vandag in Gsuteng was ‘n Dorp
Beskerm deur die Gemeenskap en….glo dit of nie
Deur Taxibestuurders…

Pieter ·

Hoekom moet ons dan belasting betaal. Ons gaan nooit standpunt in neem nie dit is hoekom ons met die gemors sit.

Mariana ·

So sal mense altyd opruim na hierdie tipe goed. Iemand moet dit doen en is dit nie maar in ons mense se aard nie, behalwe die wat plunder en gewoond is om als verniet te kry. Kan net vir hulle wat bereid is om hul tyd en energie te gee, dankie sê. So sal die gemors ons nie onderkry nie.

Inkpot ·

Die wat so brand en plunder moet in eie munt terugbetaal word.
Die polisie moet hulle arresteer en dan moet hulle ‘n keuse gegee word, tronkstraf of aangesien jy so daarvan hou om af te breek, hier is klippe en petrol, brand en breek jou eie plek af.

Deon ·

Dit is verblydend om te sien dat die mense se gees nie gebreek is nie, maar hoeveel keer gaan die donkie nog sy kop stamp? Hoeveel keer kan mens die ander wang draai? Hoeveel keer kan die mens 70×7 keer vergewe? Hoe lank vat n beker voor dit oorloop?

Cherokee ·

Nou word die diewe en vandaliste se harde werk ongedaan gemaak.

Hildegard ·

Dit is duidelik dat SA se redding nie van die regering sal kom nie, maar van gewone landsburgers wat probeer om ‘n bestaan te voer.

Inkpot ·

Ons is ‘n nasie wat opbou, dis hoekom ons infrastrukture so goed gewees het.
Ons is nie plunderaars wat afbreek nie.
Nou bou ons weer op. Die plunderaars sien dit ongelukkig nie as ‘n voorbeeld nie en sal maar net weer plunder.
Dis egter ‘n skande dat die gemeenskap moet heropbou en nie die regering nie.

annie ·

Daar is darem niks soos ‘n goeie rede om die skottelgoed te help was na ‘n heerlike partytjie nie. En dan sal ons sommer ook die sakke vol rommel huistoe vat om die munisipaliteit te help. Dankie, los, ek sal alles self gaan weggooi. Los!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.