Duisende strikke by Krugerwildtuin verwyder

(Foto: Verskaf)

Honderde strikke word op ʼn weeklikse basis in en om die Krugerwildtuin verwyder; baie daarvan is egter so goed versteek dat dit ongesiens bly en ʼn wrede dood vir talle diere veroorsaak.

Maroela Media het vroeër vanjaar berig strikke is ʼn eeueoue strooptegniek wat meestal opgestel word om kleinwild soos rooibokke en vlakvarke vir die pot te vang. Strikke is egter nie “kieskeurig” wanneer dit by slagoffers kom nie en diere word voor die voet verstrengel. Dit beteken dat roofdiere soos rooikatte, luiperds en hiënas gereeld verstrik raak en dat bedreigde spesies soos wildehonde ook dikwels op hierdie manier gevang word en vrek.

Isaac Phaahla, woordvoerder van SANParke, sê die probleem het nou niks minder as ʼn krisis geword nie. Hy het ʼn donker prentjie geskets en strikke wat in en om die Krugerwildtuin gestel word as ʼn “ernstige probleem” bestempel.

Dit is boonop ʼn probleem “wat parkbeamptes daagliks moet trotseer”.

(Foto: Verskaf)

“Die verraderlike aard van strikke lê in hul alomteenwoordigheid; hulle is strategies dwarsdeur die parke versprei en verstrik niksvermoedende wilde diere genadeloos.

“In die afgelope jaar het 414 diere van die Krugerwildtuin slagoffers van strikke geword, meer as dubbel die getal verlede jaar toe 175 diere weens strikke gevrek het,” sê Phaahla.

“Altesame 115 rooibokke, 135 buffels, vier wildehonde, vier leeus, ʼn jagluiperd en talle ander diere is vanjaar in ʼn strik dood.

“Die getalle is nie net statistieke nie. Dit verteenwoordig die onvervangbare verlies aan biodiversiteit en die delikate balans van ekosisteme,” sê Phaahla.

Hy sê parkbeamptes, die onbesonge helde van bewaring, is aan die voorpunt van hierdie stryd teen stropery.

“Met ʼn uitdagende taak op hande, patrolleer parkwagters daagliks die uitgestrekte Krugerwildtuin om strikke te verwyder wat die lewe van sy diere bedreig.

“Hul pogings word verder versterk deur SANParke se ereveldwagters, ʼn toegewyde groep wat hand aan hand werk om die strik-probleem te pak.”

(Foto: Verskaf)

Die probleem is egter nie net tot die Krugerwildtuin beperk nie.

Phaahla sê parke soos Marakele en Mapungubwe worstel ook met strikke, maar sê die situasie daar kan nie met die Krugerwildtuin vergelyk word nie.

“Dit gebeur al meer en meer en ons weet nie hoekom nie. Die omvang van die probleem is duidelik in die getal strikke wat vanjaar deur die parkwagters verwyder is – ʼn verbysterende 7 144 strikke.”

Volgens Eugene Troskie, stigter van die Phalaborwa National Heritage Foundation (PNHF), ʼn organisasie sonder winsbejag, is die probleem met strikke wat in en om die Krugerwildtuin opgestel word “ongetwyfeld besig om selfs meer diere te dood as voorheen”.

(Foto: Pieter Cloete/Maroela Media)

“Ons staan tans op 2 206 strikke vir die jaar. Dit is ongelooflik baie. Dit is meer as dubbeld die getal wat ons in die vorige jare verwyder het.

“Ons kry ook al meer groot en bedreigde diere wat op hierdie wrede manier sterf. Stropers fokus nou daarop om vleis vir kommersiële doeleindes te kry, wat vermoedelik die rede is dat soveel meer strikke opgestel word.

“Ons het ook agtergekom dat roofdiere al meer geteiken word. Stropers teiken nou hiënas, leeus en luiperds, maar in ons omgewing [Phalaborwa] is dit veral die leeus en hiënas wat geteiken word. Dit is regtig baie sleg,” sê Troskie.

(Foto: Verskaf)

Phaahla meen die skokkende getalle onderstreep die dringende behoefte aan kollektiewe optrede om die hoofoorsake van die krisis te pak en doeltreffende voorkomende maatreëls in werking te stel.

“Dringende stappe is nodig om Suid-Afrika se kosbare natuurlewe te beskerm. Die samewerking tussen parkwagters, ereveldwagters en natuurbewaarders is van kardinale belang.”

Phaahla het ook die belang van gemeenskapsbetrokkenheid en verhoogde bewustheid beklemtoon om die grondoorsake van die probleem by die horings te pak.

(Foto: Verskaf)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Goldy ·

Onthou, om respek vir lewe te he en aan leiding te dink is nie vir alle groepe belangrik nie.

Kokerboom ·

SANPARKE het dan ‘n handomdieblaas verhouding met gemeenskappe rondom KNP! Laat hulle die boewe uitsorteer. Stel voor ipv boewe vang en opsluit laat hul gemeenskswerk in wildtuin doen van ‘n maand vir elke strik gestel.
Strikke bly wreed en gemeen!

domheks ·

Die goed is honger vir geld uit die verkope van die produkte. Nou weer ‘n nuwe trog wat moet leeg gevreet word.

Wit Leeu ·

Dis genoeg om van te braak ! Eers neuk hulle die land op, nou vreet die goed als in hulle pad !

Kabous ·

Die rede hoekom sulke goed gebeur is omrede julle ook geld in jul sakke druk!!! Doen vir eens en vir altyd n damm goeie heining met ligte, krag en kameras, soos die ou Duitsland se grens drade, ja dit gaan geld kos, minder in jul sakke maar ons erfenis gaan voortleef en julle gaan minder verlies dra!!! Julle doen nie die werk nie, julle kry mense om dit te doen en hoe weet julle of daardie mense vertrou kan word?, nou is die strikke 2x meer as verlede jaar en volgende jaar 3 keer meer wow julle doen n great job!!!!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.