Duisende teken versoekskrif teen Ficksburg-man se borgtog

Evan Sorour is op 8 Januarie vyf keer geskiet. (Foto: Facebook)

Die twee afsonderlike sake, een van moord en een van aanranding, teen die Ficksburg-inwoner Rudi Gericke word vandeesweek in die dorp se landdroshof in die Vrystaat aangehoor.

ʼn Saak van aanranding is verlede jaar teen Gericke aanhangig gemaak nadat hy en ʼn vriend glo besoekers by die plaaslike gholfklub aangerand het.

Hy was verlede maand weer in ʼn voorval betrokke wat gelei het tot die skietdood van Evan Sorour, ʼn boer op die buurplaas. Gericke is tydens die voorval in die heup gewond.

Hy word sedertdien in die Mediclinic Hoogland op Bethlehem behandel, maar die hofsake teen hom gaan nietemin in sy afwesigheid voort.

Morgan Barrett is een van verskeie mense wat ʼn saak van aanranding teen Gericke en sy medebeskuldigde, Jan le Grange, aanhangig gemaak het. Barrett is ook ʼn familievriend van Sorour.

Volgens Barrett se vrou, Toni, het Le Grange Maandag in die hof verskyn saam met sy regsverteenwoordiger.

“Rudi is steeds in die hospitaal, maar die volgende verskyning is op 1 Maart,” sê sy.

“Ons hoop om dan uit te vind in watter hof die verhoor sal wees en wanneer dit sal begin.”

Die afsonderlike moordsaak teen Gericke sal na verwagting Vrydag in die hof aangehoor word.

Die saak kom nadat Gericke op 8 Januarie glo vir Sorour vyf keer geskiet het. Sorour is op pad na ʼn hospitaal dood.

Gericke het Sorour se pa, Reuter, ook glo erg aangerand.

Sorour se geliefdes het intussen ʼn aanlyn en geskrewe versoekskrif van stapel gestuur in die hoop dat Gericke se borgtogaansoek van die hand gewys word.

Sorour se swaer, Donovan O’Neale, het verlede week die versoekskrif aan die senior staatsaanklaer op Ficksburg oorhandig en dit ook per e-pos na die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) in Pretoria en Bloemfontein gestuur.

ʼn Gesertifiseerde afskrif hiervan sal ook aan die NVG in Bloemfontein oorhandig word.

Die geskrewe versoekskrif het ten tyde van die oorhandiging altesame 265 handtekeninge bevat, terwyl kort duskant 10 000 mense die aanlyn versoekskrif onderteken het.

“Hoewel die eerste hofverskyning vas is, is ons onseker of Rudi teen daardie tyd uit die hospitaal sal wees,” lui O’Neale se jongste inskrywing oor die stand van sake.

“Ons bly egter verbind tot die saak en gaan voort met ons pogings om geld in te samel vir die regskoste verbonde aan die saak.”

Maroela Media wag nog op terugvoer van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) oor die aangeleentheid.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

George ·

Ons het ook al deur geloop met n paar gesuipte boere by n golfklubs, as jy mos nie local is nie moet jy pak kry, volgende dag vra hul vir gebede.

Andrew ·

Elke storie het mos drie kante, myne, joune en dan erens in die middel die waarheid. Dalk volgende keer bietjie vriendeliker wees.

philippus ·

Al teken die hele wereld…. as hy onder die wet kwalifisser, kry hy borg. Onthou die volgende. Innocent until pro en guilty. Ons kan nie op herself jag gaan nie.

Lubbe ·

5 skote is verseker geskiet om dood te skiet. Dit is reeds die feite wat ons het. So wil jy vir my sê dat Zuma onder die wet by die trok uit gestap het.

Roek ·

Lyk vir my Ficksburg het ook ‘n deep South soos in jo’burg!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.