Duisende uitstaande boeke, DVD’s terug in Kaapse biblioteke

Argieffoto bloot ter illustrasie. (Foto: Unsplash)

Die Kaapstad-metroraad is verheug oor die 2 798 uitstaande boeke, tydskrifte, DVD’s en ander materiaal wat onlangs aan biblioteke in dié stad terugbesorg is.

Raadslid Patricia van der Ross, burgemeesterskomiteelid vir gemeenskapsdienste, sê talle biblioteekgebruikers het die boetevrye-grasietydperk aangegryp wat die stad onlangs tydens Nasionale Biblioteekweek (14 tot 20 Maart) toegestaan het om uitstaande items terug te besorg.

Sy beskryf dit as plaaslike biblioteke se eie “sprokieseinde” tot dié week. Lees-, kyk- en luisterstof wat lank uitstaande was, sluit ʼn groot aantal kinderboeke – en veral sprokiesverhale – in.

“Ons bibliotekarisse is in ekstase oor die aantal items wat terugbesorg is, want dit beteken dat soveel meer mense nou weer toegang daartoe het en dit kan geniet.

“Hoewel biblioteke baie hulpbronne, onder meer opvoedkundige materiaal, wetenskaplike publikasies, fiksie en niefiksie boeke, beskikbaar stel, is dit steeds beperk. Ons maak staat op ons gebruikers om items terug te besorg wanneer die sperdatum verstryk. Deur ’n item te hou, word iemand anders eenvoudig toegang daartoe ontneem.”

Die biblioteke het ook van Biblioteekweek gebruik gemaak om verskeie programme en aktiwiteite aan te bied waarby plaaslike skrywers, digters en ander bekendes betrokke was. E-hulpbronne is ook gedurende dié week bemark en uitgebrei.

“’n Groot dankie aan ons gebruikers wat hul agterstallige biblioteekmateriaal terugbesorg het. Ek wil ander mense wat nog uitstaande items by hulle het, aanmoedig om dit terug te besorg, selfs al is daar ʼn boete opgelê.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.