Duisende voorstelle vir ‘nuwe’ inperking ontvang

Hannes Noëth en Dirk Hermann. (Foto: Twitter/Solidariteit)

Solidariteit het die afgelope week duisende insette van Suid-Afrikaners ontvang wat hul stemme oor voortgesette inperking wil laat hoor.

Die tydperk van algehele afsondering wat vanaf 26 Maart vir 21 dae ingestel is, is Donderdagaand vir nog twee weke verleng. Die beperking van mense se beweging beteken ook ʼn beperking vir die ekonomie en Suid-Afrikaners is bekommerd oor die finansiële en ekonomiese gevolge wat ʼn verdere twee weke van algehele afsondering kan teweegbring.

Tydens ʼn opname die afgelope week op sosiale media, Solidariteit se krisissentrum en Maroela Media het Solidariteit aan Suid-Afrikaners gevra om voorstelle in te dien ten opsigte van hoe verdere inperking bestuur moet word. Omvattende voorstelle sal dan aan die president voorgelê word. Meer as 2 000 kommentare is in reaksie hierop ontvang. Die sorgvuldige ontleding van elke voorstel het die kerntemas bepaal en is daarvolgens in drie breë groepe ingedeel, naamlik:

  • die terugkeer na volkome ekonomiese aktiwiteite;
  • beperkte ekonomiese aktiwiteite tydens verdere inperking; en
  • strenger inperking met minder ekonomiese aktiwiteite.

Solidariteit het reeds ʼn lys van amptelike voorstelle gefinaliseer oor hoe die regulasies aangepas behoort te word. Dié voorstelle is reeds aan die regering oorhandig. Maroela Media sal binnekort berig oor wat presies die voorstelle behels.

Suster Nomusa Mthethwa ondersoek inwoners vir Covid-19 in Umlazi, suid van Durban. (Foto: Zanele Zulu/ANA)

Voorstelle vanaf die publiek

Meer as die helfte van mense wat kommentaar gelewer het, het aangedui dat hulle nie ten gunste daarvan is dat die staat van inperking in sy huidige formaat moet voort duur nie. Die gevoel is dat volle ekonomiese aktiwiteite hervat moet word, maar dat streng maatreëls ingestel word om die verspreiding van die virus te bekamp. Hierdie maatreëls sluit in die verskaffing van maskers en ander toerusting aan werknemers. Die meeste ouers in hierdie groep is ook ten gunste daarvan dat skole so spoedig as moontlik moet heropen omdat ouers nie na hul kinders kan kyk as hulle weer moet gaan werk nie. Dit is ook vir hulle belangrik dat siek mense en mense wat hoërisikogevalle is, eerder van die huis af moet werk.

Uit hierdie groep meen 1 uit 10 dat volle ekonomiese aktiwiteite sosiale aktiwiteite moet uitsluit. Dit beteken dat mense slegs werk toe en huis toe sal kan gaan of inkopies sal kan doen, maar dat sport- en ontspanningsaktiwiteite in die nabye toekoms taboe moet wees. Selfs restaurante word hier as ontspanning beskou, en voorstelle dui daarop dat hierdie ondernemings vir hierdie tydperk slegs wegneemetes wat op bestelling geplaas word, moet voorsien.

Die tweede groepering mense voel dat die staat van inperking moet voortgaan soos wat dit tans doen. Volgens 3 uit elke 20 deelnemers moet regulasies ten opsigte van ekonomiese aktiwiteit verslap word, maar ten opsigte van gesondheid moet dit opgeskerp word.

Argieffoto ter illustrasie (Foto: Unsplash)

Hulle voel dat sekere besighede op ʼn meer permanente basis aanlyn en van die werknemers se huise af kan voortgaan, maar besef ook dat dit nie in alle gevalle moontlik sal wees nie. Daarom voel hulle dat mense of ondernemings wat slegs vanaf ʼn sakeperseel kan sake doen, daarmee voortgaan, mits dit op so ʼn manier bestuur word dat dit nie ʼn gesondheidsgevaar vir die werknemers of publiek inhou nie. Hulle is veral ten gunste van aflewerings en dat daar nie ʼn beperking op beskikbare artikels of dienste moet wees nie, maar dat mense slegs hul huise moet verlaat indien daar werklik vir hulle geen ander opsie is nie. Skofte is voorgestel vir ondernemings wat nie operasioneel kan wees sonder dat personeel teenwoordig moet wees nie.

Vir hierdie groep is dit belangriker dat kinders moet tuis bly en deur middel van kommunikasieplatforms met onderwysers in verbinding tree ten opsigte van skoolwerk. Hul oorheersende gevoel is dat skole onveilig is en die verspreiding van die virus sal bevorder. Daar is egter groot kommer oor kinders wat nie toegang tot die internet en ander hulpmiddels het nie.

ʼn Ander voorstel vir beperkte ekonomiese aktiwiteit is dat ʼn wyer verskeidenheid dienste en goedere as noodsaaklik bestempel moet word te midde van die inperking. Met die draai van die seisoen was wintersklere veral hoog op hierdie lys. Gereedskap en ander hardeware asook tuingereedskap is ook as voorbeelde voorgehou. Die gevoel is egter dat iets wat nie binne hierdie “oorlewingsraamwerk” val nie en nie aanlyn bedryf kan word nie, ongelukkig nie operasioneel kan wees nie. Hul gevolgtrekking is dat gesondheid swaarder weeg as die ekonomie.

ʼn Totaal van 5%, dit wil sê 5 uit elke 100, van deelnemers voel dat inperking strenger toegepas moet word. Hulle voer aan dat die virus vinniger sal versprei, selfs met die huidige maatreëls in plek. Voorstelle sluit in dat slegs mediese personeel en veiligheidsdienste hul huise mag verlaat om te gaan werk en dat die inperking vir ten minste nog drie weke ná die aanvanklike datum moet voortduur om werklik die kurwe te verplat. Vrees dat hospitaalbeddens en ventilators nie genoeg sal wees nie, was van die grootste bekommernisse.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

18 Kommentare

Sonneblom23 ·

Italië hier kom ons!! Mense leer nie. Soos dit huidiglik is, luister die meeste mense nie en kuier steeds rond. En die idee dat n plek soos KFC weer moet oop maak, maak my bang. Meeste van daai mense bly in informele nedersettings, dan moet hul moet jou kos werk…. Gaan dit nie die virus meer versprei nie, veral as die persoon nie weet hy/sy het die virus onderlede nie? En daar is reeds nie genoeg PPE soos dit is nie nou wil hul elke besigheid oopmaak en vir elke werker n masker gee? n Masker wat 20 min later onder haar/sy ken hang want hulle gesels met ander? Wat is die punt dan? Leer uit ander lande se keuses!!

Cherokee ·

Diegene wat met jou sou verskil Sonneblom, en dit is verstaanbaar, is mense wat vry moet wees om ‘n inkomste te verdien. Ek ondersteun jou kommentaar kompleet, veral met dit wat jy gesê het mbt KFC en ander wegneem etes.

Jan ·

99 persent van die mense wat in italie dood is aan corona was hoogs bejaard 80 jaar e n ouer…met reeds bestaande siektetoestande…

Bets ·

Ek stem sal geen weg neem etes koop wat staan nog eet hulle hou daai maskers net n bietjie op Dan haal hulle hom AF nee dankie maak my eie kos end bly veilig in my huis

Rodger17 ·

Maak nie saak of jy ingeperk is of nie SA is onbevoeg om pandemie te stop.Al wat nou gebeur is armoede en werkloosheid neem toe.Help nie jy perk die verkeerde mense in nie.Stel inperking daar in waar die hotspots is.Kwarantyn die besmette pasënte by afgesonderde kwarantyn sentrums wat beskikbaar gestel is.Hier is deesdae te veel dokters en professors maar het nie n cooking clue wat aangaan nie.Die virus is nie in die lug nie,dis binne mense.Spoor positiewe gevalle op en hanteer hulle in kwarantyn sentrums.Daar is elk geval só baie leuens oor virus,ek wonder regtig of daar só virus bestaan?

Jan ·

Jys reg rob gaan kyk op youtube na david icke se videos dan sal jy verstom staan

Josua ·

Sonneblom, jy is 100% reg. Ek verstaan 100% hoekom mense wil terug gaan werk toe en dat die ekonomie wel stelselmatig aan die gang gehou moet word maar dit gaan nie gebeur tensy mense hul eie lewens in gevaar moet stel nie. In ons bedryf verkoop ons bande en verskaf ook bande aan ander handelaars, om ‘n eenvoudige band aan n voertuig te sit verlang n span mense, dit begin altyd by die klient(eerste siekte risiko) dan volg die verkoopspersoon, die stoorman, fitter wat afhaal en aansit by die motor dan die stripper wat die band van die rim afhaal en met die nuwe een vervang laastens die balanseerder voor die band eers terug is op die motor, sou daar iets verkeerd gewees het met die wielsporing kom die wielspoor tegnikus ook nog by voor die klient sy voertuig weer in besit kan neem, hoeveel mense was hier bloodgestel en dit net om EEN klient gelukkig te hou. Mense moet baie mooi hieraan dink dan sal hulle werklik besef die moeilikheids graad in sulke risiko besluite punt.

Boortor ·

Ek dink jy het bande verkoop. Na dese gaan niemand meer bande kan bekostig nie. Al wie bande gaan gebruik is die wat protes aanteken want hulle het nie werk of kos nie.

Jan ·

Wil jy he al hierdie mense wat jy noem moet stadig maar seker van honger en wanvoeding sterf…want dis wat sal gebeur as die inperking voortduur…

Jan ·

En innekort gaan al daai mense waarvan jy praat op straat sit en krepeer van die honger…

MAGRIETHA ·

Laat mense in hul eie provinsies rondbeweeg na apteke winkels ens hi in ons dorp is geen ordentlike apteek of winkel nie die wat hi is het nie al die benodighede wat mens nodig het nie mense moet nie oor provinsiale grense beweeg nie

Danie ·

Baie mense verkeer onder die vals indruk dat hulle vir noodsaaklike behoeftes slegs binne hul munisipale gebied mag beweeg. In terme van bewegingsperkings verwys die gepaste regulasie na plaaslike regering metropool en distrik gebiede. Derhalwe by vertolking kan mens beweeg binne die metropool gebied indien jy in een woon, andersins binne die distrik waarin jy woonagtig is. Jy kan dus van een dorp of munisipale gebied na ‘n ander beweeg mits jy nie die distrik of metropool grense oorkruis nie.

Drico ·

Hoeveel gesinne kan finansieel hierdie lockdown bekostig? Ons kan nie. As jy nie n dag se werk in sit nie kry jy nie n dag se betaling nie. Daar is reeds gevegte aan die gang oor wie en watter besigheid voordeel mag trek uit die hulpfonds van die regering. Dink enige een van julle ons eenman besighede staan voor in die ry of staan enigsins n kans?! Dan is daar mense wat voel gesondheid is belangriker as finansies?! As jy reeds van die hand tot die mond leef en moet veg om jou huis te behou waar jy let wel warm en veilig en moontlik gesond kan bly, hoe moet mens dit reg kry as jy nie n inkomste kan genereer nie. Ek praat nie eens van mediese fondse of versekering nie, dis n luukse. Nou moet ek terug sit en my enigste inkomste prys gee omdat sommige mense voel gesondheid is belangriker as finansies. Daar is maniere om jouself te beveilig en gesond te hou EN voort te gaan met jou werk.

ZeldA ·

Ek stem. Ek en my man het ook ons eie besigheid. Ongelukkig kom daar geen inkomste in op die oomblik… Ons het kinders wat moet kos kry.

Jan ·

Jys reg renata binnekort gaan mense begin sterf van ondervoeding.gaan kyk gerus david icke se videos op youtube

Jacobus ·

Rob stem 100% saam. Die politiese binnegevegte en eggos is ‘n groter gevaar as die virus. Die lockdown sal meer effektief wees as die reëls meer pragmaties toegepas word. Ons sit met ‘n onbepaalbare getal buitelanders wat eerder vlug as om gedokumenteer te word.
Ook nie rustig oor die politieke magspel wat deur ‘n spul onbevoegtes gespeel word. Weereens soos met kragprobleem sit die wetsgehoorsame beastingbetaler reg in die middel.
Magrietha die lewe in ‘n klein dorp is baie problematies. Jou naaste dorp is dalk in ‘n ander provinsie. Mens raak ook vies om te verneem hoe groot supermark groepe goed vir jou aflewer – ga!
Ons moet net moedhou en bly wees dat Solidariteit ea buite die boks dink.

Molly ·

Dis n virus. Kry hom en bou immuunstelsel op teen die ding. Almal is ewe skielik bang vir uiteet en take aways…. Wat het hulle gesê van hitte en die virus? Wat vandie persoon wat tb of vigs het? Daai persoon bedien jou kos, maak jou kos, help in jou huis, pas jou kinders by ‘n dagsorg op, werk saam met jou, bedien jou Indie supermarkte….
dan moet almal seker vir die res van hulle lewens ‘n masker dra. Almal loop met die goed aan en dink hulle beskerm hulleself… Jou maak net ‘n nar van jouself deur dit nie reg te gebruik nie.
Drink vit c, sink, magnesium en selenium bou jou op. Hoeveel mense is laas jaar dood aandie common flue indie land?moenie alles glo wat die media voor gooi nie. Gaan gesels met dokters vriende, gaan doen bietjie navorsing.

Lynette ·

Ek het reeds op 31 Maart my vier taalklasse op WhatsApp begin bedryf. Ek is trots om te sê dat my leerders hulle werk baie getrou doen. Hulle lees en doen elke dag hulle verskillende oefeninge. Die volgende dag gaan hulle saam met hulle ouers hul werk deur, merk en doen hul verbeteringe. Waar nodig kan luistertoetse dmv audio files ens. gedoen word. Ek kan enige tyd vir n foto vra as bewys van werk gedoen. Met die uitsondering van een of twee leerders doen almal hulle werk. Ek skuld hulle heelwat merietes. My kollega by Wiskunde plaas videogrepe om somme te verduidelik. Ander kollegas het oor die naweek voorberei om van volgende week at Klas te gee.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.