Duisende Wes-Kaapse matriekdruipelinge kry tweede kans

Argieffoto

Argieffoto

Meer as 7 000 matrieks in die Wes-Kaap sal ʼn tweede kans kry om hul matriekeksamen te slaag.

Debbie Schafer, LUR vir onderwys, het Sondag gesê hoewel die meerderheid matrieks in die provinsie hul sukses in die 2015-eindeksamens vier, is daar ander wat nie die resultate ontvang het waarop hulle gehoop het nie. Meer as 7000 kandidate kwalifiseer egter om die aanvullende eksamens te skryf.

“Dit gee hierdie kandidate die wonderlike geleentheid om hul matriekeindeksamen te slaag,” het Schafer gesê. “Ek is bly so baie kandidate sal ʼn tweede kans kry om hul matriek te slaag. Ek moedig hierdie kandidate ten sterkste aan om van hierdie geleentheid gebruik te maak en hul heel beste poging te lewer om die eksamen te slaag.”

Schafer het kandidate wat nie die 2015 eksamen geslaag het nie en ook nie kwalifiseer om die aanvullende eksamen te skryf nie, aangeraai om in te skryf vir die 2016 matriekeksamen.

“Kandidate het ook nou die geleentheid om hul vraestelle te laat hermerk of weer te laat nagaan. Besonderhede hiervan is op die Wes-Kaapse onderwysdepartement se webtuiste beskikbaar,” het sy gesê.

Die sluitingsdatum om die aanvullende eksamens in Februarie en Maart te skryf, is Woensdag (20 Januarie). Die eksamens sal op 10 Februarie begin en op 17 Maart tot ʼn einde kom.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Gertjie ·

Hoekom gee hulle nie sommer maar net dit vir hulle nie…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.