Duisende wil bie op aanlyn veiling van renosterhorings

renosters-witrenoster

Die renosterboer John Hume glo sy aanlyn veiling kan help om die bewaring van renosters te verseker. Foto: Casey Allen/Pexels.com

Die bekende renosterboer John Hume se aanlyn veiling van opgepotte renosterhoring sal na verwagting Woensdag om 14:00 afskop en tot Vrydag duur terwyl duisende bieërs reeds aangedui het hulle wil aan die veiling deelneem.

Hume, die eienaar van die wêreld se grootste renosterplaas, het Maandagoggend ʼn verkooppermit van die departement van omgewingsake bekom as deel van ʼn hofbevel. Regter Neil Tuchten het Sondag in die hooggeregshof in Pretoria beslis Edna Molewa, minister van omgewingsake, moet aan Hume ʼn verkooppermit vir die veiling gee omdat haar kantoor dit reeds vroeër in Augustus aan hom belowe het. Molewa het glo geweier om die permit te onderteken, maar Tuchten het gesê Molewa het nie genoegsame redes verskaf vir haar weiering nie. Hy het ook gesê dit is nie die hof se taak om te besluit of ʼn veiling van renosterhorings ʼn goeie of slegte idee is nie.

Die departement het Maandag ʼn verklaring uitgereik waarin hy gesê het hy neem kennis van die uitspraak. Die permit is aan Hume oorhandig onder uiters streng voorwaardes.

Volgens Moses Rannditsheni, woordvoerder van die departement, moet omgewingsake toegang tot die aanlyn veiling kry sodat dit deurentyd gemonitor kan word. Rannditsheni het ook herhaaldelik benadruk dat internasionale handel in renosterhoring volgens die konvensie vir die handel in bedreigde spesies (Cites) steeds verbied word.

Hume se prokureur, Izak du Toit, het Woensdagoggend gesê die verkope sal streng deur dié departement gereguleer word en alle voornemende bieërs moet aansoek om kooppermitte doen. Bieërs moet ook ʼn registrasiefooi van R100 000 betaal om aan die veiling deel te neem.

Hume het ʼn video op die aanlyn veiling se webwerf geplaas waarin hy sê private renosterboere wil alle pogings in die stryd werp om renosters te bewaar. “Ons het ʼn manier gevind om die dier lewend te hou, om dit te beskerm en boonop vir sy beskerming te betaal. Konvensionele bewaringsmetodes het tot dusver in dié poging gefaal,” sê Hume in die video.

In die video verduidelik hy die horings van sy renosters word afgesny op ʼn manier wat menslik is en nie gevaar vir die renosters inhou nie.

Hume hou na raming 1 500 renosters, sowat 20% van die wêreld se algehele renosterbevolking, op sy plaas in ʼn geheime plek in die Noordwes-provinsie aan.

Daar word berig Hume het ses ton opgepotte renosterhoring. Hy wil 264 horings, wat 500 kg weeg, in die aanlyn veiling verkoop.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Jacques Venter ·

Mooi so Hume. Op die manier word renosters op jou plaas beskerm.
Word renosters in die wildtuin onthoring, word hulle weerloos teen predatore

Nadine ·

Wildtuin moet die selfde doen. Glo hulle het ‘n stoor vol van die goed. As die mark ge flud word is daar geen meer rede om renosters te stroop nie. Wel gedaan Hume. Nog ‘n stap nader om hulle te red van wreede mense .

Ouma ·

Ek sou nie die verkoper se naam so wyd en syd genoem het nie. Almal weet nou hy kry baie geld met die veiling, en daar is nog baie horings oor. Sy lewe kan dalk in die gedrang kom met smokkelaars wat dit nou “verniet” sal wil gaan haal. Maar glo ook dit is die beste ding wat gedoen kan word om renosters te bewaar.

marous ·

Die goed mag nie land uit nie. Gaan die Oosterlinge dit hier kom snuif? Glo nie….

SjN ·

Dit word dan wyd en suid in die pers bekend gemaak, tot die dorp in noordwes, dit is mos n ope uitnodiging vir die kriminele elemente.

bewaarder ·

Uiteidelik n stap in die regte ringting. Laat die regte mense die geld maak en reguleer net die bedryf. As iets verbode is sal mens dit wil he en dit waarvan dit afkomstig in die proses vernietig. Maak dit maklik bekombaar en voloia! Daar is dan meer op aanbod as aanvraag en diere word nie meer doodgemaak nie en boere kan nou die horings oes en vir goedkoper verkoop as die swartmark!

Louis ·

Objektief: die lewe en die wereld draai om geld. Al wil ek hoe graag erken dat die hele aarde beskerm moet word teen di emens se inherente bose gierigheid, sal dit nie werk nie: iets wat nie ekonomiese waarde het nie, het nie in die mens se oe ‘n bestaansreg nie (toets maar die BEE-beginsel hieraan, as daar nie belonings en straf was nie, sou BEE misluk het). Ten minste is daar nou insentief vir die teel van renosters. DIe renoster as spesie, dalk nie in wildtuine nie, is nou gered.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.