Duitse toeris in SA positief vir Covid-19

Die hulp van die polisie moes eindelik ingeroep word om die situasie te help hanteer. (Skermgreep: eNCA)

ʼn Groep Duitse toeriste in Suid-Afrika is in kwarantyn geplaas nadat een van hulle positief vir Covid-19 getoets het.

Kwara Kekana, woordvoerder van die Gautengse departement van gesondheid, het gesê die toeris word tans in ʼn hospitaal in Gauteng behandel.

“Die groep het beplan om die land Donderdag te verlaat. Die grensgesondheidsdiens is in kennis gestel en die groep is verhoed om dit te doen,” het Kekana gesê.

Altesaam 47 van die toeriste word tans in ʼn private fasiliteit in Gauteng in kwarantyn gehou.

“Weens die beperkte kwarantynspasie is reëlings getref om die ander 15 lede van die groep by een van Gauteng se gesondheidsinstellings in kwarantyn te plaas.

“Dit is teleurstellend dat die groep nie met die owerhede wou saamwerk nie en die situasie die punt bereik het waar die polisie ontbied moes word,” het Kekana gesê.

Die nodige voorsorgmaatreëls is tydens die vervoer van die toeriste getref om die verdere verspreiding van die virus te probeer stuit.

Die departement het weer eens ʼn beroep op Suid-Afrikaners en toeriste gedoen om die bepalings rakende die algehele staat van afsondering te gehoorsaam.

Die voorval kom boonop net ure voordat Suid-Afrika se eerste twee sterftes weens die nuwe koronavirus bevestig is. Die slagoffers is twee vroue, onderskeidelik 28 en 48 jaar oud.

Dr. Zweli Mkhize, minister van gesondheid, het Vrydag ook gesê die getal Covid-19-besmettings in Suid-Afrika het nou die 1 000-kerf verbygesteek.

Die land is sedert Donderdag om 23:59 in ʼn staat van algehele afsondering om die virus se vinnige verspreiding te probeer verhoed.

Wil jy op hoogte bly van alle nuus oor Covid-19 op Maroela Media? Klik hier om in te teken op ʼn daaglikse nuusbrief.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Astrain ·

Moes hom met beskermende klere en goed laat terug vlieg het na Duitsland sodat hy daar in sy eie land die beste sorg ter wereld kon ontvang. Sy kanse het sopas halveer…hulle kon mos met Duitse Ambassade gereël het vir sy repatriasie en sorg??? Daardie arme mense is seker in ekstreme stress om vasgevang te wees in n 3e wereldse mediese sorg!!!

Anel ·

Ek sou sê stuur die hele lot terug dan kan hulle hulle land se probleem word. Nou ontneem hulle 47 Suid Afrikaaners ‘n kwarantyn plek. Met ons karrige mediesesorg moet ontslae geraak word van mense wat ons land se burgers van sorg kan ontneem. Sover ek kan aflei, os die klomp nog nie siek nie. Stuur terug Duitsland toe. Wie is ons in elke geval om hulle te keer?

Kloekie ·

hoe selfsugtig die mense wat tydens n wered krisis reis en ander mense in derde wereld omstandighede kom aansteek

Niklaas ·

Sommige toeriste is koppig en moedswillig. Ek glo nie hul is onkundig nie.

Cabytheron ·

As jy kan reis, is jy sekerlik intelligent genoeg om te besef dat die wêreld al lankal ‘n krisis het, dan nie??? Die rooi ligte flikker immers al geruime tyd. Genoeg tyd om huistoe te gaan, dan nie? Wat is die langste vlug huistoe, enige plek in die wêreld? As ons dit uitrek, hoogstens ‘n week??
Ek kon ook verder voort reis, maar het besef ek gaan oorsee, of terug in SA in kwarantyn geplaas word. Ons het wyslik besluit om ons planne te kanselleer. Ek is gelukkig in afsondering in die gemak van ons eie huis.
Nee wat, as jy nou gestrand is, dan het jy jou eie selfsugtige belange bo die krisis gestel. Soos hulle sê, as jy katterig is, kry vir jou! Net jammer jy verontrief ander mense!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.