Duitsland oorweeg om vlugte van VK, SA te verbied

Foto: Ben Stansall/AFP

Duitsland oorweeg dit om vlugte van die Verenigde Koninkryk en Suid-Afrika te verbied ten einde die verspreiding van nuwe en meer aansteekliker Covid-19-variante te voorkom.

ʼn Bron in Duitsland se gesondheidsdepartement het dit aan AFP bevestig. Nederland het Sondag ʼn verbod op alle passasiersvlugte van die Verenigde Koninkryk ingestel en die Duitse regering oorweeg nou ʼn soortgelyke stap vir vlugte van Brittanje en Suid-Afrika, het die bron gesê.

ʼn Woordvoerder van die departement van gesondheid het gesê dat die regering in Berlyn die verwikkelinge in Brittanje noukeurig dophou en druk besig is om nuwe inligting en data rakende die nuwe variant te evalueer.

België het ook ʼn verbod op vlugte en treine wat van Brittanje kom ingestel.

Matt Hancock, Britse gesondheidsekretaris, het Sondag gesê dat die regering ʼn streng Kersfees-inperking in Londen en die suidooste van Engeland ingestel het aangesien die nuwe variant “buite beheer” is.

Hancock het gewaarsku dat die streng maatreëls sal geld totdat die virus-entstof wyd beskikbaar is.

Dit blyk dat wetenskaplikes die nuwe variant vir die eerste keer in September by ʼn pasiënt ontdek het.

Die Britse premier, Boris Johnson, het beweer die nuwe variant is tot 70% meer oordraagbaar.

Suid-Afrika se minister van gesondheid, dr. Zweli Mkhize, het vroeër aangekondig dat ʼn nuwe variant, 501.V2, ontdek is en dat dit die tweede golf van infeksies in die land dryf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.