Duitsland skenk voedselhulp van R100 miljoen aan Kaapstad

Liezl Odendaal berei kos voor by die Kaapstadse sopkombuis Ladles of Love. Die program word deur vrywilligers bedryf. (Foto: Armand Hough/ANA)

Die Duitse regering het pas ʼn ooreenkoms met die Stad Kaapstad gesluit om voedselhulp van R100 miljoen aan sopkombuise in sommige van die stad se mees hulpbehoewende woonbuurte te skenk sodat die hongersnood weens die ekonomiese uitwerking van Covid-19 en afsonderingstyd verminder kan word.

Dit is die jongste in ʼn omvattende en jare lange vennootskap tussen Duitse skenkers en Kaapstad om armoede en ongelykheid in die Moederstad te verlig.

Duitsland is ʼn streng skenker wat skenkings baie doelspesifiek maak sodat niks geld deur wanbesteding, korrupsie, vermorsing of onbekwaamheid verlore gaan nie. Begunstigdes wat oor die tou trap, sal moeilik weer gehelp word. Op baie plekke is dit ʼn uitdaging, maar nie in die streng bestuurder Kaapstad nie.

Die R100 miljoen is in hierdie geval dan ook nie kontant wat aan begunstigdes oorbetaal word nie.

Die bedrag, wat deur die KfW Duitse Ontwikkelingsbank bewillig is, sal onder meer in die vorm van haarfyn gespesifiseerde voedselkoepons aan goed funksionerende sopkombuise uitbetaal word, aan saad en gereedskap vir bestaande gemeenskapsgroentetuine, aan voedselkoepons vir gespesifiseerde noodsaaklike items wat deur township-inwoners in spesifieke plaaslike spaza-winkels bestee moet word om die plaaslike township-ekonomie te stimuleer, asook aan salarisse vir spesifieke hulponderwysers in sekere kleuterskole.

Vir hierdie projek sal 25 000 voedselkoepons per maand vir ʼn tydperk van drie maande (dus 75 000 koepons) aan arm township-inwoners van Kaapstad verskaf word vir gebruik in plaaslike spaza-winkels.

Kinders ontvang kos by ‘n sopkombuis wat deur student Asavela Peko bedryf word. (Argieffoto: Courtney Africa/ANA)

Hierdie voedselkoepons sal verskaf word aan spesifieke mense wat betrokke is by spesifieke gemeenskapsgroentetuine, personeel, leerders en die leerders se gesinne wat betrokke is by sekere  kleuterskole, asook spesifieke sopkombuise in Hanoverpark, Manenberg, Nyanga, Langa en drie dele van Gugulethu (Kuyasa, Monwabisi Park en Harare).

Vyftig kleuterskole sal finansiering ontvang vir altesaam 1 500 tydelike poste, waarvan 300 vir die aanstel van bykomende tydelike onderwysers vir ʼn tydperk van ses maande sal wees. Altesaam 1 000 gemeenskapsgroentetuine sal ondersteun word.

Die burgemeester van Kaapstad, Dan Plato, het gesê hy is pynlik en persoonlik bewus van die swaarkry wat Covid-19 en die ekonomiese gevolge van die afsonderingstydperk op die Kaap se inwoners het.

“Die stad doen regtig wat hy kan en daarom is ons so dankbaar vir die hulp van die Duitse regering. Nou sal ons soveel meer van ons mense soveel beter kan help,” het Plato gesê.

“Ons is saam in hierdie ding. Die pandemie het aaklige gevolge oor die hele wêreld en ook hier in Suid-Afrika. In die gees van ubuntu wil ons graag bydra tot samehorigheid in Suid-Afrika,” het die Duitse ambassadeur in Suid-Afrika, Martin Schäfer, gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

ElizeK ·

Ek lees nêrens in die berig dat wit plakkerskampe ook baat by die skenking gaan kry nie. Was dit nie genoeg dat die regering se solidariteitsfonds en hulpfonds witmense en hul besighede uitgesluit het nie.
Sak ek vanoggend my kop in skaamte oor my DA stem vir die Wes Kaap, omdat selfs HIER nou, volgens die artikel, ooglopend wit rassisme ingetree het.

ElizeK ·

Dieselfde een as jy!! In die berig word spesifiek na ongelykheid, townships en spaza winkels verwys. LEES gerus weer die paragraaf wat begin met ” Hierdie voedelskoepons” Ek sien nie EEN wit plakkerskamp se naam tussen Langa, Nyanga, Hanoverpark ens ens nie.
Sien jy??

NEO ·

En so gee die Koloniale lande wat die ANC so haat. Moet ‘n bitter pil wees om te sluk.

Wondermaarnet ·

Dit is duidelik dat Duitsland nie nuus lees of kyk en weet wat aangaan in SA nie.

Wondermaarnet ·

Hoe dom kan Duitsland wees? Dink hulle regtig alles gaan uitkom by die mense wat dit regtig nodig het?

Pieter ·

Ramphosa soek $100miljard, natuurlik om weer te verduister. Die Duitsers het ‘n slim plan gemaak, eerder hulp of goedere as fisiese geld. Afrikane sal nie daarvan hou nie.

Andre ·

Dit is amper die enigste manier om ‘n skenking aan Afrika te maak. Ek vertrou maar dat hulle dit regverdig sal kan doen.

Mariana ·

Dankie Duitsland. Dit is ook duidelik dat hierdie omstandighede al voor Covid sigbaar was. Mense kry al vir ‘n lang tyd baie swaar, maar ek is bly dat daar hulp gekom het, onthou net daar is nie net hongersnood en hulpbehoewendes in swart en kleurling huise nie maar in alle gemeenskappe. Dit sluit wit in. So mnr Plato hierdie skenking behoort ALMAL wat hulp nodig het in te sluit.

Yolandie ·

Ja Mariana ek stem saam. Daar is baie hulpbehoewendes in die Wes-Kaap nie net die townships nie.

agnes ·

Baie dankie aan Duitsland, ons waardeer. Mag dit ook gaan na ons eie nasie se armes, hulle het ook hulp nodig.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.