Dullstroom-plaasmoordenaars skuldig bevind

’n Kranslegging is destyds vir Sue Howarth en ander slagoffers van plaasmoorde in Middelburg gehou. (Foto: AfriForum)

Twee broers is Dinsdag in die Breyten-landdroshof in Mpumalanga skuldig bevind aan die grusame moord op Sue Howarth vyf jaar gelede op ʼn plaas naby Dullstroom.

Volgens Monica Nyuswa, woordvoerder vir die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG), is Nkosinathi en Themba William Yika op al die aanklagte teen hulle skuldig bevind. Dít sluit moord, huisroof, poging tot moord, ontvoering en die afvuur van ’n vuurwapen in die openbaar in.

Lucas Makua, die derde verdagte wat saam met die broers van Howarth se moord aangekla is, is in aanhouding dood voordat hy verhoor kon word.

Die saak is na 27 Junie uitgestel vir die vonnisoplegging.

Maroela Media het vroeër berig dat Howarth en haar man, Robert Lynn, op 17 Februarie 2017 op die plaas Marchlands, ongeveer 10 minute buite Dullstroom, aangeval en gemartel is.

Die aanvallers het destyds ook met die erg beseerde egpaar in hul Nissan Hi-Rider-bakkie weggery.

Hulle is ook geskiet.

Die egpaar het ten tyde van die voorval al sowat 30 jaar in Suid-Afrika gebly nadat hulle van die Verenigde Koninkryk verhuis het. Hulle was albei in hul 60’s en het nie kinders gehad nie. Lynn het die aanval oorleef.

AfriForum het destyds aan Maroela Media gesê dat Lynn geblinddoek en in ʼn bos afgelaai is. Hy het verskeie steekwonde opgedoen en was vermoedelik met ʼn blaasvlam gebrand. Met sonsopkoms kon hy homself loswikkel en na die pad stap waar hy sy vrou aangetref het.

Howarth het ʼn plastieksak in haar mond gehad en reeds begin versmoor. Sy is later in die Life MidMed-hospitaal in Middelburg dood.

  • Die berig is gewysig sedert dit aanvanklik gepubliseer is – RED.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Thea ·

Jy weet dit gaan nie gebeur nie. Ons bly is SA. Hier sit mens mos net maksimum 10 jaar vir moord. Die moordenaars het mos baie meer regte as ons burgers.

Pieter9 ·

Doodstraf! – moenie glo dat dit nie die antwoord is … Bring dit terug vir 5 jr en vergelyk dan.

OW ·

Ek stem.Maar dit sal nie maklik teruggebring word nie.Die afskaffing daarvan was een van die hoof voorwaardes vir onderhandeling.So ‘n stuk kragtige gereedskap in ‘n onverantwoordelike regering se hande sal die verkeerde mense na hulle dood toe stuur.

Magda G ·

Dieselfde metodes vd moorde moet op die skuldiges toegepas wird. Slegte gemors en nou moet die belastingbetaler vir hulle tyd in die tronk betaal. Bring die dodstraf terug

Jannie van Niekerk ·

Waarom neem dit 5 jaar om plaasmoordenaars te vonnis? Waarom word ‘n plaasmoord “huisroof” genoem? As wittes na bewering ‘n swart seun dood gemaak het op grond van ‘n onbetroubare getuie se verklaring word hulle binne drie maande verhoor skuldig bevind en gevonnis. Iets in ons regstelsel is nie reg nie.

Madz ·

Gaan lees die boek van Siener van Rensburg… dit wat vandag gebeur is jare terug al voorspel…

Christine ·

Die onskuldiges gaan gehang word! Die doodstraf in kriminele en onkunde hande gaan katastrofies wees!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.