Dundee-onnie moenie borgtog kry, vra LUR

Hoërskool Dundee. (Foto: Skermskoot/Google Earth)

Die LUR vir maatskaplike ontwikkeling in KwaZulu-Natal het ʼn beroep op wetstoepassingsowerhede gedoen om geen toegeeflikheid te toon aan diegene wat aanhou om kinders te mishandel nie.

Dit volg nadat ʼn onderwyser aan die Hoërskool Dundee in dié provinsie verlede maand in hegtenis geneem is nadat hy glo ʼn leerder by die skool seksueel aangerand het.

“Ons het geen plek vir kindermishandeling in ons samelewing nie,” het Nonhlanhla Khoza gesê.

Volgens kol. Thembeka Mbele, polisiewoordvoerder, het die 36-jarige onderwyser Vrydag in die Dundee-landdroshof verskyn vir sy borgtogaansoek.

“Hy is in polisieaanhouding tot 17 Maart vir die uitspraak van die borgtogaansoek,” sê Mbele.

Ouers en lede van die gemeenskap het vroeër by die skool opgeruk nadat die onderwyser se beweerde misdryf aan die lig gekom het. Die betrokke onderwyser is in hegtenis geneem en staan nou tereg op aanklag van verkragting.

Die 14-jarige leerder is glo tydens skoolure deur die onderwyser seksueel aangerand.

“Ouers vertrou onderwysers met die lewe van hul kinders, daarom is dit walglik en teleurstellend dat ʼn onderwyser ʼn kind so kan misbruik,” sê Khoza.

Sy het ʼn beroep op die betrokke owerhede gedoen om nie borgtog aan die onderwyser toe te staan nie.

“As staatsorgane het ons ʼn verantwoordelikheid om te verseker dat alle betrokkenes by sulke veragtelike dade na hulpsentrums gestuur word om gerehabiliteer te word,” sê sy.

Maatskaplike werkers is na die familie van die mishandelde kind gestuur om sielkundig-maatskaplike ondersteuning te bied en te verseker dat die kind van haar beproewing herstel.

Khoza het intussen ook lede van die publiek en onderwysers wat bewus is van gevalle van kindermishandeling aangeraai om dit by die betrokke owerhede aan te meld.

“Ons moet almal opstaan en ons stemme dik maak teen die mishandeling van ons kinders, aangesien ons almal daartoe verbind is om saam beter gemeenskappe te bou.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Marius ·

Moet ons nie ons stemme dikmaak teen alle misdaad nie ? Het die mense nog nie genoeg gehad nie ?

madels ·

Gaan kyk maar op die man se foon en computer, hy was seker erg in pornografie betrokke. Pornografie is mos heel ok in die wêreld om na te kyk, maar die gruwel dade wat hieruit spruit is net te erg om eers te noem. Mag hy laaank sit, die skurk!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.