Dunlop moet afgedankte werkers ná 7 jaar weer aanstel

grondwethof

Foto: Gnatj.com

Die National Union of Metalworkers of South Africa (Numsa) het sy appèlsaak in die konstitusionele hof gewen oor die onregverdige afdanking van 65 werkers by Dunlop in KwaZulu-Natal in Augustus 2012.

Die uitspraak is Vrydag gelewer.

Op 22 Augustus 2012 het 200 werkers by Dunlop op ʼn beskermde staking gegaan. Op die dag wat die staking begin het, het geweld ontstaan wat dwarsdeur die maand lange staking voortgeduur het. Nadat die staking beëindig is, het Dunlop die werknemers aan ʼn dissiplinêre proses onderwerp en hulle is afgedank op grond van “wangedrag, geweld en intimidasie”.

Phakamile Hlubi-Majola, Numsa se nasionale woordvoerder, sê in ʼn verklaring die vakbond het die afdanking van 65 werkers betwis omdat dié werkers nie individueel geïdentifiseer was dat hulle aan die staking deelgeneem het nie en omdat hulle op grond van “afgeleide wangedrag” afgedank is.

“Dit word gedefinieer as ʼn situasie waar die werknemer kennis dra van oortreding teen sy of haar werkgewer, maar versuim om hierdie inligting aan die werkgewer te kommunikeer. Dit is ook bekend as ‘klik’,” het Hlubi-Majola gesê.

Numsa het die saak deur bemiddeling geneem en die werkers is weer aangestel. Maar Dunlop was nie gelukkig met hierdie bevinding nie en het hom tot die arbeidshof gewend. Daar is die bemiddelingsbesluit omgekeer en die werkers afgedank.

“Numsa het by die arbeidsappèlhof teen die beslissing geappelleer omdat ons glo die besluit was onregverdig, maar ongelukkig het dié hof die uitspraak gehandhaaf. Ons is daarna na die konstitusionele hof waar ons, uiteindelik, ons appèl gewen het.”

Die regters van die konstitusionele hof het bevind die verpligting om inligting bekend te maak kan nooit eensydig wees nie.

In die geskrewe uitspraak sê die regters die onus op ʼn werknemer om sy werkgewer van oortredings in te lig, moet altyd vergesel word van wedersydse, gepaardgaande verpligting op die werkgewer om die werknemer se individuele regte te beskerm, waaronder die regverdige arbeidspraktyk van doeltreffende kollektiewe bedinging.

“In die konteks van die staking, sal die werkgewer se verpligting van goeder trou vereis dat hy ten minste die werknemers se veiligheid kan waarborg voordat hy van hulle verwag om na vore te kom met inligting of om hulself van skuld te onthef. Daar moet werklik besonder buitengewone omstandighede bestaan dat hierdie verpligting van goeder trou eenkant gewerp kan word ten gunste van ʼn eensydige verpligting op die werknemer om na vore te kom met inligting.”

Hlubi-Majola sê die uitspraak is ʼn oorwinning vir Numsa-lede, asook alle werkers wat aan stakings deelneem.

“In terme van hierdie uitspraak kan werkgewers nie meer werkers net afdank omdat hulle weier om op hul kollegas te klik wanneer geweld tydens ʼn staking ontstaan nie. Hierdie oorwinning beteken hulle kom nou in aanmerking om onmiddellik weer aangestel te word en kan sewe jaar se salarisse eis omdat hulle onregverdig afgedank is,” sê hy.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

26 Kommentare

Andreas ·

Hoe in jou lewe dank mens iemand af as jy hom nie kan identifiseer nie? En as iemand klik moet daar mos nog steeds rostvaste bewyse wees teen die persoon wat jy afdank.

Wiehan ·

Nou gaan nog ‘n vervaardiger die land verlaat. Al die werkers en hul families gaan daaronder ly

CallieL ·

Die wat nog nie deur so staking was nie is altyd die kenners wat kriminele probeer beskerm. Intimidasie is altyd aan die orde van die dag. Nou gaan dit vererger en word dit nog makliker gemaak om maarskappye te sink. Te veel idiote word kenners genoem

Andreas ·

Callie, ek is nie seker wat jy probeer sê nie, maar as hulle jou sou afdank vir ‘n erge oortreding, of wat ook al, maar hulle kan nie bewys dat dit jy is wat die oortreding begaan het nie, is dit dan nou reg so? Ek meen sal jy jou werker afdank sonder dat jy bewyse het dat hy oortree het? Daar is ook mos wette en regulasies oor prosedure wat gevolg moet word, of jy daarvan hou of nie.

Johan ·

Die kans dat van die afgedankte werkers skuldig was, is myns insiens 99,9%

Yankee ·

Tyd om pad te gee Dunlop. Laat hulle self hul motorbande maak van hout en draad.

Ian ·

Dit is presies hoekom so baie oorsee-se besighede ons land verlaat. Dit is nie meer winsgewend om handel te dryf in SA nie.

Jerry ·

Dit raak na Jiba se saak en nou hierdie saak duideliker dat daar n skroef los is by die konstitusionele hof. Hoor my lied dat die konstitusionele hof voorberei om ook uitspraak ten gunste van hoe profiel staatskapers te lewer!

Piet Snot ·

Dié uitspraak is (helaas) reg. Al glo ek ook wat Johan sê, berus die plig op die werkgewer om elke individu se skuld spesifiek te bewys.
En die vereiste dat werkers op ander klik, wat nou aan die hare bygesleep is, is nie in ZA reg verdedigbaar nie.

Martin ·

Hulle was nie skuldig bevind op klik nie maar wangedrag en geweld.

Adam ·

Geld jou argument teen Solidariteit lede ook? Ek dink jou veralgemening mis dalk die teiken.

Johan Swart ·

SjN ek stem saam….as die werknemer ontevrede is oor die werkgewer dan kan hy maar op n verfblik by n stopstraat gaan sit…unies kelder n land…werkers wil betaal word vir die 12 ure wat hulle by die werk is,maar wil in daai 12 ure net 1,5 ure produktief wees….

Winsgrens ·

Dan wonder ons hoekom die ekonomie nie groei nie, hoekom vervaardigers die land verlaat en hoekom so baie werkloos is. Onproduktiwiteit, sabotasie in die werkplek, soos om skade aan vervaardigde produkte aan te rig, stakings en ongemagtigde siekverlof maak nie saak nie. Hier is nog baie vervaardigers wat gaan skuif na lande waar werkers dankbaar en produktief is as hulle n werk het, veral internasionale maatskappye wat wins wil maak en nie daar is om werk te skep nie!

Jan ·

Land met die belaglikste arbeidwetgewing, hierdie maar weereens bewys hoe treurig ons howe is, altyd aan die kant van misdadiger, meeste stakings is misdadig, mense wat gretig en bloot net opstandig is, meeste stakings gaan met geweld en beskadiging van eiendom gepart, so as daar enige skade en verlies by dunlop was, hoop ek dunlop vat hulle hof toe dat hulle sommer dit eers betaal, maar oorwinning beslis nie, hierdie kan maak dat paar duisend werkers op ou end sonder werk sit

Andreas ·

Maar nou loop soek Cyril die oplossing in die buiteland, plaas dat hy aandag aan die probleme binnelands gee. Hoofregter Mogoeng het juis Vrydag oggend in Sandton by The Directors Event, waaroor wyd berig was, die volgende te sê gehad:

https://www.youtube.com/watch?v=x-mD3RfuZ3I

Ek sien van die ministers was ook by die geleentheid, een of twee het aantekeninge gemaak en ek wens mens kon hierdie video by Cyril en alle politici uitkry, dat hulle kan hoor wat Mogoeng oor kundigheid en kundige aanstellings te sê het, hoe leiers verkies word, die president, verantwoordbaarheid. En die man was nogal driftig oor daardie net 18 munisipaliteite uit die 257 wat skoon oudits gekry het.

Clipper ·

Die kon-hof meng te veel in. Die regstelsel laat hulle te veel magte toe. As die appèl hof die uitspraak goedkeur behoort die konstitusionele hof dit nie so goedsmoeds af te skiet nie. In die lig van gebeure in die land moes hulle die uitspraak goedgekeur het op grond van “in alle waarskynlikheid”.

Andre ·

Weereens ‘n belaglike uitspraak deur die Konstitusionele Hof, net soos in die Jiba aangeleentheid en vele ander uitsprake. Daardie Hof bestaan uit kaders deur kaders aangestel, so wat anders kan mens verwag. Hoop Dunlop onttrek uit die land en dat baie ander besighede hul voorbeeld volg.

Robert ·

So die mense wat swak regs uitsprake lewer in die hof is net so aandadig aan die misdaad in SA soos die misdadiger…..

Jerry ·

Hoe dit ookal sy, die feite is dat die konstitusionele hof die geweld waarin die staking ontaard het, nie veroordeel het nie, maar beloon het! Die tendens in die SA wetstoepassing en vervolgingstelsel toon dat werker geweldenaars en werker misdadigers as n groep meer regte het as wetsgehoorsame individue. Wat het geword van die deler is so skuldig soos die steler. Die unies “one for all and all for one” hou n staking wat in geweld ontaard en nie die unie of sy lede kan aanspreeklik gehou word nie. Die unies werk soos mob justice, hulle mag geweldadig raak en onreg pleeg, maar geen onreg mag teen hulle gepleeg word nie omrede dit n groep is. Was dit n individu, dan sou sy turf met die regstelsel gesit het! In SA het jy as individu geen regte of n kans teen die werkgewer of howe nie, maar as deel van n groep, kom jy weg tot met moord. Die werkers kom dus weg met geweld omdat hulle as n groep geidentifiseer is en nie as individue nie. Dit beteken dan nou ook dat as n groep jou grond beset, kan jy nie teen die groep optree nie. Jy moet elke individu identifiseer en individueel teen elke individu optree. Sterkte vir jou as dit n groep van n duisend of meer is!

ne ·

Ek hoop ook Dunlop onttrek in SA. Dit is belaglik om 7 jaar se salarisse te betaal vir GEEN diens gelewer nie. Numsa kan dir sien as oorwinning – maar as die werkers nie meer werk het nie kry hulle ook gelukkig geen inkomste nie.
Werkloosheid is aan die orde van die dag. Maar stakings nog meer! So eintlik wil almal geld hê maar niemand wil werk doorvoor nie.

Pensioenaris ·

Nou het ek alles gehoor. Net in S.A. Hardloop Dunlop dat hulle sien kom klaar.

Attie. ·

Mnr Ramapoza, jy is die kaptein van ‘n sinkende skip. Herstel eers die gate in jou skip se romp anders sink jy saam met die skip en sy hele bemanning. Wanneer jy ‘n sweiser aanstel maak seker dat jy ‘n kundige sweiser aanstel, een wat ondervinding en opleiding het om onder water te kan sweis. Moenie na sy velkleur kyk nie, stel die beste een aan…..anders sink jou skip.

George in Bloem. ·

Die howe sal eersdaags ten volle “getransformeer “wees so belaglike uitsprake soos hierdie sal aan die orde van die dag wees. Tragies hoe hierdie eens pragtige land stukkie vir stukkie besig is om sy alie te sien.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.