Durban-bomaanvalle: Verdagtes het glo bande met Isis

Gewapende mans het aanbidders in die Verulam-moskee in Mei vanjaar aangeval en een om die lewe gebring en twee gewond. Foto: Doctor Ngcobo/ANA

Die verdagtes wat in hegtenis geneem is vir hul beweerde aandeel in die plasing van plofstof by verskeie Durbanse winkelsentrums asook die moord in ʼn plaaslike moskee, word glo met die Islamitiese Staat (Isis) verbind.

Adv. Adele Barnard, die staatsaanklaer, het Donderdag vir die tweede agtereenvolgende dag die beëdigde verklaring wat deur die ondersoekbeampte, ao. Khwezi Chonco, opgestel is, in die rekord ingelees. Die verklaring is ʼn uiteensetting van die staat se saak teen die beskuldigdes.

Die beskuldigdes se borgtogaansoeke is tot Dinsdag uitgestel nadat die staat ʼn bykomende beëdigde verklaring ingedien het waarin van die aspekte van die oorspronklike verklaring gewysig is.

Die regspanne vir die verdediging het om meer tyd versoek om die nuwe dokumentasie te hersien voor hulle hul beëdigde verklarings indien. Landdros Irfan Khalil het hulle tot Maandag tyd gegee om hul verklarings in te dien.

Die beskuldigdes staan tereg op skedule ses-oortredings, insluitend moord, poging tot moord, afpersing, brandstigting en aanklagte wat verband hou met die land se teenterreur-wetgewing.

Volgens die ondersoekbeampte het Farhad Hoomer, beskuldigde een, glo die wegkommotor verskaf ná die aanval op die Imam Hussain-moskee in Mei vanjaar. ʼn Man is dood en twee mense beseer in dié aanval.

Hoomer is op 5 Oktober by sy huis in Reservoir Hills in hegtenis geneem. Van die ander beskuldigdes het glo saam met hom gewoon. Die polisie het glo ook by ʼn ander huis wat deur Hoomer besit word, op agt Isis-vlae beslag gelê. Daar is ook op Hoomer se voertuig, ʼn ploftoestel en elektroniese toerusting beslag gelê. Volgens die verklaring is ʼn handleiding oor hoe om terreuraanvalle uit te voer en ʼn bom te bou op een van die elektroniese toestelle gevind.

Die tweede beskuldigde, Ahmed Haffejee, het glo aan ʼn WhatsApp-groep Jundullah, oftewel “Soldate van God”, behoort. Hy word ook verbind met Ahmed Mussa wat in hegtenis geneem is in verband met die moorde op Rodney (73) en Rachel Saunders (64), albei plantkundiges van Kaapstad wat in KwaZulu-Natal vermis geraak het.

Die oorblywende beskuldigdes is drie Tanzaniërs – Thabit Mwenda, Mohammed Siedth, Abubakari Ali – asook Mohamad Akbar wat glo deel was van die aanval op die moskee, Amani Mayan en Abasi Juma, albei van die Kongo, Muhammed Adil Sobruin, Ndikumana Shabani Umande en Iddy Omar. Die twaalfde beskuldigde is Goolam Haffajee wat vroeër op borgtog van R100 000 vrygelaat is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Eugene ·

Ek kan nie sien day die buitelanders hul borg voorwaardes sal nakom nie.

Di ·

Uitlanders in SA het deedae meer regte as the burgers hier. Dis lagwekkend dis hoekom misdaad handuit ruk want hulle sypel van oral af na SA toe – Die land van MELK EN HEUNING!!!! Hulle kom weg met als.

jaco ·

Hoekom plant Moslems bomme in ‘n moskee wat deur hulle mede-Moslems gebruik word? Iets maak nie sin nie. Hoekom wil hulle hulle eie mense skade aan doen?

humor ·

Vir hierdie tipe oortredings waarin isis en buitelanders betrokke is is die doodstraf regverdig!!!!!!!!!

En nou? ·

Weet iemand wat het van daardie twee terroriste broers geword? Is hulle saak nog aan die gang? Thulsie is hulle van as ek reg onthou.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.