Durban-busdiens vandag weer in werking

Argieffoto: http://upload.wikimedia.org/

Argieffoto: http://upload.wikimedia.org/

Werknemers van Durban se munisipale busdiens is laat Maandag betaal nadat busbestuurders verskeie hoofroetes tot die stad afgesper en die oggendverkeer erg ontwrig het.

Die betogingsaksie het gespruit uit die laat betaling van werknemers se salarisse vir die tweede agtereenvolgende maand. Verskeie roetes in en uit die stad is afgesper en baie motoriste is in die chaos op die paaie vasgevang, veral dié wat vanaf Umlazi die stad ingekom het, asook suidelike dele soos Amanzimtoti.

In ʼn gesamentlike verklaring wat Maandagaand uitgereik is, het die munisipaliteit en Tansnat Africa CC, die maatskappy met die kontrak om die diens te bedryf, gesê hulle het ʼn ooreenkoms onderteken vir die aanstelling van ʼn bemiddelingspan wat deur onafhanklike ouditeure gelei sal word. Hierdie span sal ʼn oorsig hou oor die finansiële bestuur van Tansnat se sake en die maatskappy se bankrekening.

Tansnat Africa CC het kennisgewings by bushaltes aangebring waarin busbestuurders ingelig word dat hulle salarisse Maandag aan hulle betaal sal word.

Dit is die tweede agtereenvolgende maand dat werknemers van Tansnat Africa CC laat betaal is. Die werknemers het in Desember slegs hul salarisse ontvang en eers middel-Januarie hul bonusse.

Tydens ʼn noodvergadering op 22 Januarie het die eThekwini Metro-munisipaliteit gesê die munisipaliteit moes noodgedwonge R33 miljoen bestee om die busdiens aan die gang te hou. Sibusiso Sithole, munisipale bestuurder, het gesê R16 miljoen is in ʼn voorsorgfonds inbetaal om te keer dat die maatskappy gelikwideer word, terwyl ʼn verdere R17,9 miljoen aan werkers se salarisse en bonusse uitbetaal is.

Die busdiens is in 2003 deur die munisipaliteit aan Remant Alton Land Transport verkoop vir R70 miljoen. In 2008 moes die munisipaliteit R405 miljoen bestee om die busse terug te koop toe Remant Alton in die moeilikheid beland het. Die maatskappy het die diens nog ’n jaar namens die munisipaliteit bestuur.

In 2009 is Tansnat Africa CC aangestel om die diens te bedryf, maar het van die begin af verskeie probleme ondervind en die munisipaliteit moes ekstra geld in die diens inpomp.

Die munisipale busdiens het net meer as 1 000 werknemers en bedryf 450 busse.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Johann Marx ·

Die mense wat die werk doen word nie betaal nie, maar die burgemeester, munisipale bestuurders, CEO’s van Tansat kry hulle geld PLUS prestasie bonusse en maatskappy voordele…….en dit nadat jy ‘n busdiens vir R70 miljoen verkoop, en dit dan vir R405 miljoen moet terug koop om dit aan die gang te hou. Afrika kan maar net nie suksesvol wees nie, al maak jy wat.

Uys ·

Na al die jare kom die waarheid uit. Verkoop vir R70m
Hoe kan jy n besigheid wat in die moeilikheid is dan weer terug koop vir meer as R400 000 0000.00
Ruik n muishond.
Kom ons wag om te hoor wie se vinger in die pie gekom het uit die zuma kamp.

Reinhardt ·

Maak net soos Stad Kaapstad maak, bestuur dit self. Dit is die enigste manier hoe dit sal werk. Maar dan moet jy ook n munisipailteit soos Stad Kaapstad hê, een wat werk. Een wat bestuur word deur die DA.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.