Durban-egpaar in hof oor POF-bedrog

(Grafika via ANA)

ʼn Man en ʼn vrou, wat glo ʼn eiser van die Padongelukkefonds (POF) wou bedrieg, het Maandag in die Durbanse handelsmisdaadhof verskyn.

Die vrou het aan die eiser gesê sy werk by die POF se rekeningeafdeling en kan sy uitbetaling bespoedig as hy R45 000 inbetaal.

Die eiser het na die POF gegaan en die saak aangemeld, waarna die direktoraat vir prioriteitsmisdaadondersoeke (die Valke) ondersoek ingestel het. “ʼn Vergadering is vir 14 Maart belê en nadat die geld verwissel is, het die Valke ingegryp en die egpaar in hegtenis geneem,” het die POF verduidelik. “Die egpaar het aanvanklik op 16 Maart in die hof verskyn op aanklag van bedrog en korrupsie en is vrygelaat op borgtog van R3 000 elk.”

Die organisasie het gesê 80 van sy beamptes is toegewyd om korrupsie hok te slaan. Minstens 500 persone wat beskuldig word van bedrog en korrupsie by die POF, insluitend prokureurs en dokters, word jaarliks in hegtenis geneem.

“Meer as R901 miljoen se vervalste eise is tydens die 2016/2017 finansiële jaar geïdentifiseer voor betaling gemaak is en 418 sake is na die Suid-Afrikaanse Polisiediens verwys.”

Sedert die aanvang van die huidige finansiële jaar tot Februarie 2018, is meer as R1,3 miljard se vervalste eise voorkom en 81 sake na die SAPD verwys, het die POF bygevoeg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Akram ·

Die 80 mense van die organiesasie wat toegewyd is, is dit die hele organisasie se mannekrag, of watter persentasie is die 80? Indien daar meer werknemers is as die 80, en die ander is nie toegewyd nie, raak ontslae van hulle.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.