Durban-hawe weer funksioneel ná vloedskade

Reuseskade aan Bayheadweg, op pad na die Durbanse hawe , het groot ontwrigting veroorsaak. (Foto: TrafficSA/Twitter)

Die Durbanse hawe-netwerk is weer grootliks in bedryf nadat stormweer die afgelope week reuseskade aan infrastruktuur in die eThekwini-metrogebied aangerig het.

Sedert verlede week is daar gespook om onder meer talle yskaste, reusestompe en ander rommel uit die hawe te verwyder nadat dit deur die drie riviere en talle kanale wat daarheen lei, meegesleur is. ʼn Baggerboot is reeds van Kaapstad na Durban onderweg om te help om puin uit die hawe te verwyder.

Pravin Gordhan, minister van openbare ondernemings, het Dinsdag gesê groot ontwrigting is sedert verlede week weens die swaar en voortgesette reën aan Durban se hawebedrywighde veroorsaak. Die herstelproses vind intussen in drie fases plaas: die instel van noodmaatreëls om funksionaliteit te herstel; ʼn stabiliseringsproses om te verseker alle stelsels werk; en heropbouprogramme wat in gedagte hou dat klimaatsverandering gebeure soos dié ʼn meer gereelde verskynsel kan maak.

Of dit nou met nedersettings of ruimtelike beplanning verband hou, alles sal “meer klimaatveerkragtig” moet wees, waarsku Gordhan. “Talle lesse word in hierdie verband geleer en jy sal dit ook in die rehabilitasie van die spoornetwerk sien,” sê die minister.

Hawebedrywighede hervat  

Sedert Saterdag kon tussen 40 en 60 skepe weer in en uit die hawe beweeg, ʼn syfer wat daagliks verbeter, sê die minister.

“Die Durbanse hawe is funksioneel. Skepe wat invoere inbring, word versien en skepe wat goedere uitneem, waaronder kos en vrugte, word ook versien,” sê Gordhan.

Tussen 8 000 en 9 000 vraghouers het sedert verlede week opgehoop, onder meer omdat vragmotors nie die hawegebied weens skade aan Bayheadweg kon bereik nie. Dié agterstande sal binne die volgende vyf na ses dae weggewerk word.

Die vloedwater het ʼn enorme krater op die bane wat na die hawe lei, veroorsaak en herstelwerk sal na verwagting tot drie weke duur. Die twee uitgaande bane is albei funksioneel – en versterkings is daarop aangebring – en word nou gebruik om verkeer in én uit die hawe te herlei.

Die meeste werkers het oor die langnaweek vir diens aangemeld, ten spyte van talle mense in die gebied wat hul huise in oorstromings kwyt is, wat groot skade gely of selfs geliefdes in die vloedwater verloor het.

Ebrahim Patel, minister van handel, nywerheid en mededinging, sê gebiede waaroor groot kommer steeds heers, sluit in toegang tot infrastruktuur soos dié vir water, krag en vervoerlogistiek, onderbrekings in die verskaffingsketting (met kommer oor toegang tot rou materiaal, verpakkingsmateriaal en ander insette), en die aanmeld van werkers vir diens.

“Die skade het ʼn beduidende uitwerking op die breër ekonomie. Die Suid-Afrikaanse ekonomie is uiters geïntegreer en die onderbrekings in een gebied het ʼn rimpeleffek elders,” sê Patel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Marius ·

Watse hawebedryf ??? Dis nog een van die dooie donkies….

Cherokee ·

Ek het jou nie ge-op-of afduim nie,
maar wonder hoe geregverdigd jou stelling is, want ons sien die hawe-verkeer elke dag (en nag), en volgelaaide skepe kom en gaan met gereelde tussenposes. No shortage of traffic between cargo ships, ships with vehicles, earth-moving machinery and passenger ships.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.