Durban-huurmoord: Sakeman kry borgtog

Dain Neveling. Foto:  tapology.com

Dain Neveling. Foto: tapology.com

ʼn Durbanse sakeman wat daarvan beskuldig word dat hy sy sakevennoot wou laat vermoor, is Donderdag borgtog in die plaaslike landdroshof toegestaan.

Natasha Ramkisson-Kara, woordvoerder van die nasionale vervolgingsgesag (NVG), het gesê Dain Neveling is op borgtog van R20 000 vrygelaat.

Neveling se borgtogvoorwaardes sluit in dat hy slegs sy huis vir mediese-, godsdienstige- en sakeredes mag verlaat en hy moet eers by die ondersoekbeampte toestemming kry.

Die hof het ook beveel dat hy nie met staatsgetuies mag kontak maak nie en dat hy twee keer ʼn week by die Hillcrest-polisiestasie moet aanmeld.

Neveling staan tereg op aanklagte van poging tot moord, sameswering om moord te pleeg, roof met verswarende omstandighede, diefstal, aanranding met die doel om ernstig te beseer en intimidasie.

Hy is aanvanklik in Oktober verlede jaar deur die Valke in hegtenis geneem saam met sy medepligtiges, Hendrik Nunez en Jorgen Jorgensen, in verband met ʼn beweerde komplot om sy sakevennoot, Grant Jones, te vermoor. Jones is in Julie verlede jaar vyf keer geskiet en is nou in ʼn rolstoel.

Die polisie het verneem ʼn tweede aanval word na bewering beplan. Die Valke het ʼn spesiale operasie van stapel gestuur waartydens hulle voorgegee het Jones is dood en die drie mans is kort daarna in hegtenis geneem, maar aanklagte teen Neveling is teruggetrek.

Die aanklagte is weer in November aanhangig gemaak nadat Nunez en Jorgensen skuld beken het op die aanklagte van poging tot moord en sameswering om ʼn moord te pleeg. Hulle beweer Neveling was die meesterbrein agter die komplot.

Destyds is beweer Neveling het ʼn polis van R34 miljoen op Jones se lewe uitgeneem. Die saak is uitgestel tot 19 Februarie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

DPJ ·

Mooi so falke julle het ‘n goeie gedoen om ‘n man se.
Lewe tered. Dankie vir beamptes soos julle.
Knap gedaan.

Oom Boer ·

Kan jy nou meer, ons leef werklik in ‘n vergiftigde gemeenskap. Poging tot moord is net so goed as moord, net dat die beskuldigde nie in sy doelwit kon slaag nie, maar die volle gedagte en beplanning was daar om dit deur te voer. Vandag sit ‘n ondersteunende werks kollega in ‘n rolstoel en sy normale lewe ontneem, families is benadeel deur sy geldsugtigheid. Nee wat indien skuldig moet hy ernstig boet vir sy dade.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.