Durban-man deur kapers doodgeskiet

Argieffoto (Foto: imgkid.com)

Argieffoto (Foto: imgkid.com)

ʼn Man is Woensdagaand deur kapers in Lotus Park in die suide van Durban doodgeskiet.

Maj. Thulani Zwane, woordvoerder van die polisie, het gesê die voorval het omstreeks 19:00 plaasgevind. Twee gewapende kapers het probeer om die man se bakkie te kaap, maar hy het homself teëgesit en weggery.

Die kapers het op hom geskiet terwyl hy weggery het. Hy kon daarin slaag om ʼn entjie in Lotusweg af te ry, voordat hy die pad verlaat en in ʼn hekpaal vasgery het.

Chris Botha, woordvoerder van Netcare 911, het gesê toe paramedici op die toneel opdaag, het hulle die man gevind waar hy bo-oor die stuurwiel lê. Hy het ʼn skietwond aan sy bors gehad en was reeds dood toe die nooddienste opdaag.

Zwane het gesê die twee kapers het gevlug. Speurders was tot laat gisteraand op die toneel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

SNEL ·

Vreeslik dat hulle dink hulle het die reg om te vat wat aan jou behoort en as jy weier; dan skiet hulle jou sommer dood. Baie sterkte aan die man sê familie.

Dave ·

Hierdie is ‘n baie halwe berig. Wiè het gesien dat dit ‘n kapingspoging was en wiè het die potensiële kapers getel en waarom vertel die berig niks daarvan? Ook snaaks dat die voertuig nie geneem is nadat in ‘n hekpaal vasgery is. Miskien was dit te erg beskadig daarvoor. En waarskynlik is die oorspronklike bron van die berig net so onvolledig. Dit wat vertel word getuig tog van ooggetuies.

HENNA ·

INNIGE SIMPATIE aan die familie – Dave indien jy ‘n verslaggewer
was kon jy die regte woorde gebruik het …

Johannes Meintjes ·

Die feite is dat SA onder die huidige regering en die kerke geen voorbeeld van etiek of moraliteit beleef in die groter samelewing. Daar is geen respek vir eiendom, lewe en leefruimte. Eie-geregtigheid voer die botoon op alle terreine. Baie min pogings tot goeie voorbeelde of inspraak het enige trefkrag in ‘n totale samelewing wat ten alle koste brutaal-eiesinnig wil oorleef, maar eintlik inplof.

pop ·

My kind se motor is die naweek gesteel in Durban. Die uitvaagsels is besig om te kar “shop” in Durban en omgewing.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.