Durban-skoolseun se orgaanskenking ‘ʼn ligstraal van hoop’

Bryn Magree. Foto: Facebook

Bryn Magree. Foto: Facebook

Twee gedenkdienste sal in die komende week gehou word vir Bryn Magree, die graad 11-leerder van Westville Boys High School in Durban, wat vandeesweek van ʼn aneurisme sterf het.

Maroela Media het vroeër berig Magree het Woensdagmiddag ʼn gimnasium in Westville besoek, waar hy inmekaargesak het. Hy is na ʼn hospitaal gehaas, waar dokters ʼn aneurisme bevestig het. Dit was egter nie moontlik om ʼn operasie te doen nie omdat die aneurisme te groot was. Magree is Donderdag in die vroeë oggendure in die hospitaal oorlede.

Bryn se ma, Janine Magree, het in ʼn kommentaar-inskrywing op Facebook gesê die gesin het besluit om Bryn se organe te skenk. “Ons gesin het [die onderwerp] ʼn paar maande gelede om die etenstafel bespreek en ek onthou Bryn het gesê sy organe sal vir hom van geen waarde wees as hy dood is nie. Dit is die mees traumatiese tyd van my lewe, maar die feit dat sy organe gaan na mense wat dit nodig het, dra by tot sy positiewe nalatenskap,” het sy geskryf.

“Ek wil ʼn beroep op almal doen om as ʼn orgaanskenker te registreer ter ere van Bryn. Dit het ons ʼn ligstraal van hoop in ʼn baie donker plek gegee.”

Westville Boys High School het op sy Facebook-blad gesê ʼn gedenkdiens sal Dinsdag in die Westville Baptiste Kerk vir familie en goeie vriende gehou word. “Ons versoek dat almal die familie se wense sal respekteer dat slegs goeie vriende en familie by die diens toegelaat sal word,” het die skool in sy inskrywing gesê.

ʼn Tweede diens vir al die leerders van Westville Boys High School, inwoners van Westville en leerders van omliggende skole, sal Woensdag om 12:30 by die skool gehou word. Die Magree-familie sal ook hierdie diens bywoon.

Magree word oorleef deur sy ouers, Brett en Janine, en sy broer Kian.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Elize Botes ·

My dogter se vriendin ly haar lewe lank aan sistiese fibrose. Haar longe was so swak dat sy van suurstof afhanklik was . Sy moes verlede jaar haar troue afstel omdat sy te siek was. Sy was vir jare op die waglys vir ‘n oorplanting. Gister het sy twee longe gekry: en die kans om vir die eerste keer ‘n normale lewe te hê. Aan wie ookal haar skenker was – dankie. Aan Bryn se ouers en familie: êrens is daar vandag individue en gesinne wie se lewe onherroeplik verander het as gevolg van julle onbaatsugtigheid. So sal sy nagedagtenis vir altyd voortleef.

Sarie ·

Ek bewonder sy ouers se positiewe denke in diè hartseertyd… Hy was ‘n pragtige jongman…

Skenker ·

Ek is ook n skenker… en ja, hoekom moet die wurms organe op eet wat iemand kan help! Ek is bly dat julle sy wense bewaarheid!

Christine ·

Sjoe, hoe word ek nou hoendervleis toe ek Bryn se opinie lees oor orgaanskenking: mens het nie daai goete nodig as jy dood is nie. Dis daardie PRESIESE woorde wat my jare gelede laat registreer het as orgaanskenker. Bryn was dalk nog ‘n kind, maar hy was wys vir sy jare. Sy mense se harte is sekerlik bitter seer na sy dood, maar tog troos dit om te dink daar is nog iets van hom wat letterlik nog voortleef op hierdie oomblik, en dat daar soveel goed voortspruit uit die hartseer.

annie ·

ek stem saam ek is ook orgaan skenker as ek dood is is daae geen nut vir my nie ek kan n kind se lewe red of die van n jong persoon .

Estelle ·

Dit is so hartseer dat n pragtige jongman se lewe so gou tot n einde moes kom. My innige meegevoel aan die Magree familie vir jul groot verlies. Dit bring vertroosting dat hierdie mooi seun se organe geskenk is deur sy wil. Sterkte en bly moedig, die HERE is met jul.

Susan ·

Sterkte aan die ouers en vriende in hierdie swaar tyd. Maar staan sterk en trots. Jul het ñ goeie kind met ñ pragtige hart groot gemaak. En dit is vir my die hoogste leertjie wat jy kan Klim. Wat God jul geleen het, het hy nou terug geneem maar jul gelos met Baie liefde en trots ???

Namibië ·

Ek het my al dood gesukkel om my te registreer as ‘n orgaanskenker in Namibie, maar skouers word opgetrek. Niemand weet waar ek kan registreer nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.