Durban-stadion ly bedryfsverliese van R228 miljoen per jaar

Moses Mabhida-stadion (Foto: mmstadium.com)

ActionSA is besorg oor nuus dat die Moses Mabhida-stadion in Durban teen ʼn beduidende verlies bedryf word en die inwoners en ondernemings van die eThekwini-munisipaliteit duur te staan kom.

“Vir die finansiële jaar wat op Junie 2023 tot ʼn einde gekom het, het die stadion ʼn bedryfsverlies van R228 miljoen gely, met ʼn totale uitgawe van R275 miljoen teenoor ʼn totale inkomste van slegs R47 miljoen. Die huidige jaar se begroting reflekteer ʼn verlies van R213 miljoen,” sê Alan Beesley, ActionSA se koukuslid in die eThekwini-munisipaliteit.

Die gedetailleerde inkomste- en uitgawestate van die stadion wys hoe benard die finansiële toestand van die stadion is, waaronder personeelkoste by die stadion.

“Salarisbetalings vir die jaar tot Junie 2023 was R58 miljoen, en tog was die stadion se totale inkomste slegs R47 miljoen. Kontrakteurdienste (skoonmaak, sekuriteit, ens.) was R53 miljoen vir die jaar, net nóg ʼn uitgawe wat hoër is as die totale inkomste.”

Beesley sê die massiewe verliese wat die stadion steeds ly, is onaanvaarbaar.

“In ʼn omgewing waar dienslewering die laagste vlak ooit bereik het, infrastruktuur ineenstort en die inwoners en ondernemings van eThekwini teen hoër-as-inflasie heffingverhogings te staan kom, is dit uiters kommerwekkend dat die stadion steeds hierdie enorme verliese ly.”

Daar is boonop ander ernstige waarskuwingsligte wat flikker rondom die Moses Mabhida-stadion:

  • die SkyCar word sedert 2018 nie meer bedryf nie en sou ʼn groot toeriste-aantreklikheid in die stad gewees het;
  • talle huurders het nie hul kontrakte hernu nie en het óf weggeskuif óf hul deure gesluit;
  • die Comrades-maraton-vereniging het besluit om nie meer van Moses Mabhida-stadion gebruik te maak as die eindstreep nie, hoofsaaklik weens klagtes van hardlopers en hul klubs; en
  • strukturele skade en algemene agteruitgang by die stadion.

“Die enorme finansiële verliese wat die stadion ly en ander waarskuwingsligte dui op ʼn ANC-geleide munisipaliteit wat onbevoeg is om nie net die stadion nie, maar die hele stad, te bestuur. Dit is ondenkbaar dat die burgemeester en sy kohorte kan toelaat dat die stadion verder agteruit gaan en sulke verliese kan ly. Ongelukkig is dit die inwoners en ondernemings van eThekwini wat hierdie massiewe verliese moet hanteer.”

Volgens Beesley is daar ʼn gebrek aan deursigtigheid deur die ANC-geleide munisipaliteit oor die toestand van die finansiële sake by die Moses Mabhida-stadion. “Dit is slegs deur volgehoue vrae deur ActionSA dat die gedetailleerde inkomste- en uitgawes beskikbaar gestel is. Mens moet wonder wat diegene aan bewind probeer om weg te steek. Onbevoegdheid? Korrupsie?”

ActionSA sal steeds die moeilike vrae bly vra oor Moses Mabhida en sal seker maak daar is groter deursigtigheid oor die finansiële prestasie van die stadion.

“ActionSA sal ook seker maak dat die finansiële verliese en verskeie waarskuwingsligte oor die stadion aan die raad gestuur word. ActionSA sal daarop aandring dat planne beraam word om seker te maak dat die stadion nie net ʼn ‘wit olifant’ bly wat inwoners en ondernemings van eThekwini nog vir jare sal bly kos nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Casper ·

Die volgende wat gaan gebeur soos met Boet Erasmus in P E en Nuweland in Kaapstad gaan Kingspark onveilig verklaar word dan gaan rugby ook in die stadion gespeel word om skuld te delg.

Ruby ·

Wat is “kohorte”?

Die regering kan nie eers die kliniek op die hoek bestuur nie, wat nog van ‘n stadion en land!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.