Durban-stadsbestuurder in hof oor bedrog, korrupsie

Sipho Nzuza, stadsbestuurder van eThekwini (Foto: Doctor Ngcobo/African News Agency/ANA)

Sipho Nzuza, stadsbestuurder van die eThekwini-munisipaliteit (Durban), het Dinsdag vlugtig in die handelsmisdaadhof in Durban verskyn vir sy beweerde rol in die sowat R500 miljoen-tenderskema wat tot die “herontplooiing” van die voormalige burgemeester, Zandile Gumede, gelei het.

Nzuza is vrygelaat op borgtog van R50 000.

Die hof het gehoor Nzuza het tenders aan Durban Solid Waste (DSW) toegeken alhoewel hy daarvan bewus was dat dit onreëlmatig was en dat die fondse uitgeput is. Dit het glo in 2018 plaasgevind toe Gumede nog die burgemeester was van eThekwini.

Die hof het ook gehoor Nzuza wou seker maak dat hy ʼn invloed kan hê op watter diensverskaffers die tenders ontvang.

eThekwini se integriteit- en ondersoekeenheid (CIIU) is die klaer in die saak.

Nzuza is beskuldigde 17 in die saak en staan, saam met sy medebeskuldigdes, tereg op aanklag van bedrog, korrupsie, sameswering, geldwassery en die oortreding van die Wet op Munisipale Finansiële Bestuur (MFMA).

Nzuza het ʼn beëdigde verklaring ingedien om sy aansoek om borgtog te ondersteun waar hy aanvoer die klagtes is eers Dinsdagoggend aan hom bekend gemaak. Hy het vlugtig na die bewerings verwys en genoem dat hy eintlik ʼn fluitjieblaser is. “Ek het in Februarie 2018 afskrifte van forensiese verslae ontvang. Dié verslae hou verband met bewerings van, onder andere, bedrog, korrupsie en wanadministrasie wat betref die toekenning van twee kontrakte in die eThekwini-munisipaliteit: die vervaardiging en verspreiding van oranje herwinningsakke en die verskaffing, aflewering en konstruksie van waterlose toilette aan sekere wyke in die munisipaliteit.

“As munisipale bestuurder was ek van mening dat ek pligsgebonde is om verskeie aanbevelings te maak gebaseer op dié verslae. Die sluit in gebeurlikheidsbestuur soos interne dissiplinêre stappe en om strafregtelike aanklagte aanhangig te maak teen sekere beamptes, insluitend politieke ampsdraers. Ek was deurgaans in gesprek met en het volledig ondersteuning en samewerking gebied aan die Valke se nasionale skoonoudit-taakspan.”

Nzuza het gesê hy sal skuld ontken op alle aanklagte.

“Ek is die een wat die aanklagte by die polisie aanhangig gemaak het. Ek het nog altyd voldoen aan alle en enige versoeke wat hulle aan my gestel het, tot so mate dat ek my sake vir hul gerief rondgeskuif het. Ek onderneem om dit steeds te bly doen.”

Volgens hom bied hy al byna ʼn jaar lank sy samewerking en het steeds sy samewerking gebied, selfs toe hy gehoor het hy word in die ondersoeke geïmpliseer.

Senior staatsaanklaer Ashika Lucken het aan die hof gesê die bedrogskema beloop tans sowat R430 miljoen.

Nzuza sal op 16 April weer in die hof verskyn, saam met Zandile Gumede en die ander medebeskuldigdes.

Die munisipaliteit het kort ná die hofverrigtinge in ʼn verklaring gesê hy neem kennis van die saak en wil inwoners gerus stel dat dienslewering nie hierdeur geraak sal word nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

daniel ·

Lyk my daar is nou wragtig nie eens enkele eerlike in diens van Ethekwini nie.

Jakes ·

Ek wil graag weet of korrupsie en bedrog nie n ongeneeslike siekte is onder n sekere groepering nie? Elke dag vir die laaste 25 jaar hoor ons hiervan en nog niemand is skuldig bevind of tronk toe gestuur nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.