Die hewige storm wat tans in Durban woed het die lewe van ʼn motoris geëis nadat ʼn groot skeepshouer weens die stormwinde bo-op ʼn motor by die Durbanse hawe geval het.
Ineke van Huyssteen, woordvoerder van ER24, het gesê paramedici is omstreeks 11:00 na die toneel ontbied.
Nick Dollman, woordvoerder van Netcare 911, het gesê die skeepshouer was bo-op ander skeepshouers gepak toe dit skielik deur die wind omgewaai en bo-op die voertuig beland het. Daar was ten tyde van die voorval twee insittendes in die motor.
ʼn Man, vermoedelik in sy 40’s, het ernstige beserings opgedoen en is op die toneel dood. Van Huyssteen het gesê meganiese toerusting moes gebruik word om die tweede insittende uit die voertuigwrak te bevry. Volgens Dollman het dié man slegs geringe beserings opgedoen en is hy na ʼn hospitaal geneem.
Garrith Jamieson, bedryfsdirekteur van Rescue Care-ambulansdienste, het gesê die oorledene was glo ʼn polisiebeampte. Die man se identiteit is egter nog nie bevestig nie.
Maroela Media het vroeër berig paramedici is Dinsdag na verskeie noodgevalle in Durban uitgeroep waar kitsvloede op verskeie plekke voorgekom het en huise en paaie oorstroom het. Motoriste is gewaarsku om nie paaie te gebruik waar oorstromings voorkom nie. Verskeie paaie in die stad is reeds vir verkeer gesluit.
Die King Shaka Internasionale Lughawe het intussen ook op Twitter bevestig dat verskeie vlugte vertraag is weens die ongure weer. Passasiers word aangeraai om die onderskeie lugrederye te kontak vir die jongste inligting oor vlugskedules.
Het die weerburo enige rekords hoe sterk daardie wind was? Was dit ook ‘n tornado soos wat vermoedelik aan die Wesrand voorgekom het?
Weereens ‘n bewys dat elke dag/oomblik op aarde net genade is.
net nog n bewys wind , water , vuur gaan jy nie keur nie