Die strande by die Durban Country Club en Thekwini in KwaZulu-Natal is gesluit tot verdere kennisgewing.
Tozi Mthethwa, woordvoerder vir die eThekwini-munisipaliteit, het gesê daar het sedert Vrydag reeds sowat 160 mm reën geval.
Volgens Mthethwa het die swaar reën in die omgewing tot gevolg gehad dat die munisipaliteit se noodpersoneel onverpoosd werk om die veiligheid van lede van die gemeenskap te verseker.
Die nat weerstoestande het ook talle kragonderbrekings tot gevolg gehad, veral in die Dube-nedersetting in die in die Inanda-area.
Die munisipaliteit is ook bewus van talle strate wat oorstroom het weens onder meer dreine wat geblok is. Mthethwa het gesê die munisipaliteit se rampbestuur- en noodpersoneel teken alle klagtes aan en ontplooi spanne soos nodig is.
Daar is intussen nog geen teken van die onderwyser wat Sondagaand in sy voertuig deur vloedwater meegesleur is nie.
Inwoners is gevra om 031 361 0000 te skakel om enige voorvalle aan te meld.
En vandag was dit steeds stortreën.