Durban-strande weer oop

Argieffoto

Argieffoto

Die vier Durbanse strande wat gesluit is nadat dit met mediese afval besoedel is, is heropen.

Thulani Mbatha, woordvoerder van die eThekwini Metro-munisipaliteit, het laat Donderdagaand in ʼn verklaring gesê die strande om die Umgeni-riviermond, Beachwood, Virginia en Glenashley is weer oopgestel. Die munisipaliteit het aanvanklik gesê dat die strande vir twee weke gesluit sal wees, maar dit was slegs nodig vir twee dae.

Volgens Mbatha dui ʼn voorlopige ondersoek daarop dat die mediese afval saam met ander vullis vanuit die Umgenirivier op die strande uitgespoel het. Hy het egter nie verduidelik hoe die mediese afval, wat tablette en verseëlde kondome insluit, in die rivier beland het nie.

Mbatha het gesê by nadere ondersoek is daar gevind dat die meerderheid van die opdrifsels op die strande nie mediese afval is nie, maar net algemene vullis. Hy kon nie Vrydag bereik word om duidelikheid te gee oor die oorsprong van die mediese afval wat wel gevind is nie.

Mbatha het gesê die skoonmaakveldtog op die strande gaan steeds voort. Daar sal op gepaste wyse van die mediese afval ontslae geraak word, afsonderlik van die ander vullis.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.