Durbaniete weier dat aanleg weer oopmaak ná gaslekkasie

Omgewingsaktivis Desmond D’Sa, wyksraadslid Aubrey Snyman en algemene bestuurder van Safripol, Anton Booysen (Foto: ANA)

Inwoners van ʼn nywerheidsgebied in die suide van Durban weier dat ʼn chemiese fabriek weer sy deure oopmaak ná skadelike gasse in die gebied vrygelaat is wat hulle met asemhalingsprobleme, hoofpyn en ʼn veluitslag gelaat het.

Die inwoners het Saterdagoggend buite Safripol se Mobeni-aanleg bymekaargekom om ʼn verduideliking te eis oor die lekkasie van die algemene bestuurder, Anton Booysen, en ʼn lys van eise te oorhandig.

Safripol (voormalig Hosaf) vervaardig en versprei poliëtileentereftalaat (PET)-hars en poliëstervesel. Die fabriek is ʼn paar meter van ʼn skool en huise geleë.

Dit is na bewering nie die eerste keer wat gasse weens ʼn lekkasie in die gebied vrygelaat is nie, maar aldus inwoners was die jongste voorval “die ergste ooit”.

Die chemiese reuk is tot in Glenwood en Umbilo in die noorde aangemeld en Amanzimtoti in die suide. Die reuk is waarskynlik die gevolg van Dowtherm, ʼn verbinding wat in nywerheidshitteoordragstelsels gebruik word.

Die lekkasie het Vrydagmiddag omstreeks 15:00 plaasgevind en werknemers is ontruim. Die erge plastiekreuk het egter in nabygeleë inwoners se huise ingetrek en persone het gekla dat hulle sukkel om asem te haal. Hulle het ook hoofpyn, ʼn brandgevoel in die oë en ʼn veluitslag aangemeld. Kinders en bejaardes is die swaarste getref, aldus inwoners by die vergadering.

Booysen het gesê die aanleg se “materiaalveiligheid-datastel” beveel aan dat persone hul oë moet uitspoel met water indien ʼn lekkasie sou voorkom.

“Moes ons nie daardie inligting gehad het lank voor dit gebeur het nie,” wou een man by die vergadering weet.

Ontstoke inwoners, van wie sommige chroniese gesondheidskwessies het, het hul besware aangeroer by die vergadering (Foto: ANA)

Booysen het gesê die chemikalieë is bekend dat dit ʼn velirritasie kan veroorsaak en “moontlik” tot asemhalingsprobleme kan lei. Die vloeibare gesmelte produkte kan werkers in die aanleg brand, het hy bygevoeg.

Daar is egter “geen langtermyn negatiewe effekte nie” en die chemikalieë is nie karsinogenies nie. “Dit is ongemaklik, irriterend en onwelriekend, afhangende van die vlakke.”

Hy het gesê ʼn “onafhanklike derde party” is aangestel om ʼn analise te doen by die aanleg en die fabriek het ʼn “baie goeie veiligheidsrekord”. Sodra die ondersoek afgehandel is, sal die aanleg die gemeenskap in kennis stel en maatreëls sal ingestel word “om dinge anders te doen”.

Booysen het ʼn beroep op die gemeenskap te doen om toe te laat dat bedrywighede hervat. Inwoners het dit egter teengestaan.

Die maatskappy het ʼn privaat ambulansdiens gehuur om mobiele mediese bystand te lewer (Foto: ANA)

Desmond D’Sa, ʼn internasionaal bekende aktivis wat oorkant die aanleg woon en aan die hoof staan van die Suid-Durbanse gemeenskapsomgewingsalliansie (SDCEA) het gesê Booysen se uitlatings “ondermyn baie dinge”. “As jy jou werkers kon ontruim, dan moes jy ons almal ook ontruim het,” het D’Sa gesê, onder luide toejuiging van die gehoor.

Hy het gesê die gemeenskap wil hê ʼn 24-uur kliniek moet in die gebied opgerig word wat sewe dae per week deur dokters beman word en waarvoor die fabriek betaal. “Ons wil hê ons kinders en elkeen van ons moet behoorlik ondersoek word. Dit is ononderhandelbaar.” D’Sa het vroeër by die fabriek gewerk.

“Ons het dit deur die nag ingeasem. Ons weet Dowtherm het ʼn langtermyn effek op ons almal. Moenie met ons kom praat oor werk nie. Ons wil hê jy moet vir ons sê hoe ons dit gaan hanteer.”

As daar nie aan die eise voldoen word nie, sal die aanleg Maandag ʼn prokureursbrief ontvang, het D’Sa bygevoeg.

Booysen het geantwoord die maatskappy beskou die gemeenskap se besware in ʼn baie ernstige lig. “Ek stem saam dat ons ʼn noodontruiming moet hê vir die hele gebied, nie net vir die fabriek nie. Ons sal alarms installeer en seker maak dat ons die gemeenskap in kennis stel van alles. Ons sal alles oorweeg wat genoem is en terugkom na julle toe.”

Ontstoke inwoners, van wie sommige chroniese gesondheidskwessies het, het hul besware aangeroer by die vergadering (Foto: ANA)

Booysen het weer gepleit dat die aanleg sy deure moet oopmaak, maar die gemeenskap het steeds geweier en gesê hy moet eers met ʼn geskrewe antwoord reageer op hul eise.

“Hoe vinniger jy terugkom na ons toe met iets skriftelik, hoe vinniger sal ons vergader en besluit of die aanleg weer kan oopmaak,” het D’Sa gesê.

Hy het gesê die inwoners wil ook bewyse hê dat die maatskappy die nasionale departement van omgewingsake en die Groen Skerpioene in kennis gestel het van die voorval.

Toe die African News Agency (ANA) Saterdagmiddag ná die vergadering telefonies met D’Sa gesels het, het hy bevestig dat ʼn mobiele kliniek reeds na die gebied ontbied is en dat verskeie inwoners na privaat hospitale geneem is vir verdere behandeling.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Boertjie ·

Wonder net, Goeie vraag! Hoekom is daar n skool ook? Hulle wil nou almal voordeel trek uit die probleem, maar as jy n huis langsaan so n plek koop dan is dit goedkoop en saam met dit kom die risiko’s. Ek dink die maatskappy moet sy deure sluit voor hulle dalk vir die mense moet huise koop in Constantia???? ek sou ook se dat die internationale aktivis ook moes beter weet as om daar te bly.

Koosie ·

More maak die fabriek sy deure toe, dan wonder ek wie huil dan. Almal wil alles net verniet hê… Maar niemand dink aan waar die geld vandaan moet kom nie. Dis nou Afrika vir jou.

Matt ·

Môre kla die mense hulle het nie werk nie of kry nie ‘n salaris nie maar hulle wll die fabriek toe hê. Hoekom het die internasionale aktivis nie van beter geweet nie. Wys jou net D’Sa as ‘n “internasionale aktivis kan ook nie vertrou word nie. Soos strandloper sê dis AFRIKA.

Stripes ·

Ek wil ‘n huis langs ‘n lughawe koop dan kan ek mos kla oor die geluid van die vliegtuie wat my pla.

Pippie ·

‘n Saak het ALTYD 3 kante,…my kant, jou kant en die regte kant. As die aanleg sluit of skuif, dan is daar weer werkloosheid… Wen kan jy net nie wen nie.

Staal ·

Instandhouding, instandhouding, instandhouding. Ek sou se begin by die kwalifikasies van die fabrieks inspekteurs en gaan kyk na die kritieke poste wat op grond van EE/AA gevul is. Gaan kyk ook na wat aanleiding gee na die tipe lekkasies, gewoonlik ook mense wat in n bitter kort tyd baie kritiese werk moet leer sodat die demografie van die werkers in die maatskappy reg kan wees.
Ek haal my hoed af vir iemand soos Anton Booysen, om dit eenvoudig te stel, hy sit aan die eenkant met n wêreld klas fabriek wat hy met n geforseerde werksmag moet hardloop en aan die ander kant moet hy dan ook die gevolge dra as iets verkeerd loop.
Maar die gemeenskap het tog ook die reg tot n gesonde lewe, langs n chemiese fabriek of nie, dis tog verstaanbaar.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.