Durbanse hawe probeer agterstand wegwerk

Foto bloot ter illustrasie. (Foto: Verskaf/Transnet)

Werkers by terminaal 2 van die Durbanse hawe, die land se grootste hawe, werk die afgelope paar dae oortyd in ʼn poging om die agterstand ten opsigte van vaartuie wat voor anker lê uit te wis.

Danksy dié pogings het die hawe binne drie dae 28% meer vaartuie verwerk as wat aanvanklik beplan is.

Voortdurende vertragings het ʼn ernstige agterstand by dié hawe veroorsaak en is besig om die Suid-Afrikaanse logistieke stelsel in chaos te dompel. Die enorme agterstand kan die prys van verbruikersgoedere in die komende maande laat opskiet en moontlik ʼn tekort aan sekere produkte veroorsaak.

Earle Peters, besturende direkteur van Durbanse terminale, sê nie al 52 vaartuie wat by die Durbanse hawe se buitenste ankerplek voor anker lê, is op pad na terminaal 2 nie.

“Talle van hierdie vaartuie gaan na private fasiliteite.”

Altesame 18 vaartuie, met 24 431 invoer-vraghouers, is vir terminaal 2 bestem.

“Volgens die huidige planne en in ooreenstemming met beskikbare toerusting, sal dit terminaal 2 sowat 14 weke neem om die agterstand weg te werk,” sê Peters.

“Daar is egter baie pogings aangewend om hierdie tyd te verminder.”

Volgens Peters het die terminaal met behulp van een van sy klante drie stapelmasjiene ontvang. Intussen gaan terminaal 2 voort om bykomende hanteringstoerusting by klante en die mark “as ʼn tydelike maatreël” te bekom.

“Die toekenning van ʼn kontrak vir onderdele- en instandhoudingsdienste vir die bestaande toerusting is ook aan die gang, en sal binnekort in werking tree,” sê hy.

“ʼn 24 uur lange instandhoudingsregime het ook begin om die beskikbaarheid en betroubaarheid van bestaande toerusting te verseker.”

Die implementering van die oorspronklike toerustingvervaardigers (OEM)-strategie vir die verkryging van hanteringstoerusting oor die volgende dekade en die bate-lewensiklusbestuur oor die volgende 20 jaar is gefinaliseer. Briewe van toekenning sal in die volgende drie weke uitgereik word.

“Terwyl ons goed rondskuif, vermorsing uitskakel en herleidingstrategieë gebruik vir vrag wat by ons ander Durbanse terminale gediens moet word, was ons werknemers katalisators in die wegwerking van vaartuie,” sê Peters.

Hoewel beperkte toerusting en weerstoestande uitdagings gebied het, sê Peters die werkers se toewyding het eindelik die grootste deurslag gegee.

“In ʼn situasie soos hierdie gaan dit regtig nie oor wat jy het nie, maar wat jy doen met wat jy het. Dit was ʼn buitengewone ervaring om te sien hoe ons werknemers hul rol in hierdie komplekse situasie gespeel het.”

Peters sê benewens die uitdagings wat by die Durban- en Richardsbaai-hawe ondervind word, verloop sake by alle ander hawens seepglad.

“Ons maak stadig vordering met die hantering van die agterstand en wil graag ons klante, en die publiek in die algemeen, verseker dat ons daartoe verbind is om so min moontlik ontwrigtings vir die invoer van produkte te verseker, en om verbeterde toegang vir uitvoerprodukte te verseker.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

anko ·

Skielik het daar finansies te voorskyn gekom, wonder van waar en wie

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.