Durbanse polisielede aangekeer vir diefstal tydens ‘kamma-deursoeking’

(Argieffoto: SA Polisie)

Twee polisiebeamptes verbonde aan die Durbanse honde-eenheid en ʼn derde beampte, verbonde aan die Pinetown-misdaadintelligensie-eenheid, verskyn Maandag in die landdroshof in die stad nadat hulle vir beweerde diefstal van R2,2 miljoen in hegtenis geneem is.

Die geld is glo tydens kamma soek-en-beslagsleggingsoptredes gesteel.

Kol. Katlego Mogale, polisiewoordvoerder, het gesê die polisebeamptes het in April verlede jaar by die slagoffer se huis opgedaag onder die voorwendsel dat hulle na ʼn onwettige vuurwapen op soek was.

Terwyl hulle die perseel deursoek het, het die beamptes glo op twee kartonbokse en ʼn kluis met altesaam R2,2 miljoen afgekom. Hulle het op die geld beslag gelê, maar glo geen dokumentasie verskaf oor waarheen die geld geneem gaan word nie, het sy gesê.

Die polisielede het die slagoffer ook glo verhoed om hulle te volg na waarheen hulle ook al met die geld op pad was.

Die slagoffer het ʼn klag by die Hillcrest-polisie aanhangig gemaak, wat dit na die Valke se eenheid vir ernstige korrupsie-ondersoeke verwys het.

“Nadat ʼn lang en deeglike ondersoek gedoen is, is vyf mense met die misdaad verbind,” het Mogale gesê.

Benewens die drie sersante wat reeds in hegtenis geneem is, is die polisie steeds op soek na nog ʼn polisielid, ʼn adjudant-offisier, asook ʼn burgerlike wat glo by die misdaad betrokke was.

Die polisielede sal verskyn op aanklag van diefstal of alternatiewelik gewapende roof.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Lizelle ·

Een van die dae gaan daar net polisiebeamptes in die tronke wees. ‘n See van blou in die selle.

Persheks Adri ·

Dit gaan snaaks wees! Ek hou nogals van daai idee dan hoef my kind niks so bang te wees vir hulle nie dit kan werk

Casper ·

So by my kool.Is dit nie die manne en vroue in blou wat ons moet beskerm nie.Daar gaps hulle sommer gou-gou R 2.2 miljoen rand.Is dit wat dit kos om ‘n soek-en beslagleggingsoperasie uit te voer.Maar hoekom was daar so ‘n helse klomp geld op die perseel?Nee Lizelle hulle dra oranje pakkie om die eerlikes in blou van die baddies te onderskei. Omie met die hoed,wat sê jy daarvan he.

Cornelius ·

Dis net verstommend hoe kriminaliteit onder die ANC hooggety vier. Dis amper of dit deel van hulle beleid is.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.