Durbanse sakeman verbeur R19 miljoen se ‘tendergeld’ aan die staat

(Foto: succo/Pixabay)

Die Durbanse sakeman Poovandaren Chetty gaan bates van meer as R19 miljoen aan die staat verbeur wat met tendergeld gekoop is wat glo op ʼn bedrieglike wyse bekom is.

ʼn Bevel in dié verband is deur die hooggeregshof in die Oos-Kaap aan die batebeslagleggingseenheid van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) toegestaan.

Die bevel is uitgereik ná Chetty en twee voormalige senior regeringsamptenare se inhegtenisneming.

Chetty, Stanley Khanyile, ʼn voormalige hoof van die Oos-Kaapse departement van maatskaplike ontwikkeling, en Vuyokazi Sangoni, voormalige hoofdirekteur van die departement, is in hegtenis geneem op aanklagte van bedrog, diefstal, geldwassery en die oortreding van die Wet op Openbare Finansiële Bestuur ter waarde van meer as R29 miljoen.

Sipho Ngwema, woordvoerder van die NVG, het gesê die bates wat aan die staat verbeur is, sluit onder meer in R12 miljoen wat in die bankrekening van Chetty se maatskappy Umnotho Training and Development Trust is. Dit sluit ook ʼn Porsche 911, 52 Krugerrande en ʼn erf in Port Elizabeth in.

Khanyile, Sangoni en Chetty is in Augustus op borgtog van onderskeidelik R50 000, R20 000 en R200 000 vrygelaat. Khanyile is verlede maand in Alberton in Gauteng doodgeskiet. Hy sou op twee aanklagte van bedrog en twee aanklagte van die oortreding van die Wet op Openbare Finansiële Bestuur tereggestaan het.

Sangoni staan tereg op een aanklag van bedrog terwyl Chetty op 16 aanklagte van bedrog, 18 aanklagte van diefstal en 15 aanklagte van geldwassery teregstaan.

Die Oos-Kaapse departement van maatskaplike ontwikkeling sou in 2015 ʼn ontwikkelingshulpbronsentrum vir vroue in Lusikisiki bou. Die departement het bestaande regeringsinfrastruktuur geïdentifiseer as ʼn geskikte plek om die sentrum te bou. Khanyile het die verkrygingsprosesse verontagsaam en Chetty het ʼn kontrak van R14,5 miljoen vir die stigting van die sentrum gekry. Chetty se maatskappy het later glo nog ʼn tender van R15 miljoen gekry nadat Khanyile en Sangoni saamgesweer het om seker te maak sy maatskappy kry die tender.

Volgens Ngwema het Chetty na bewering ongeveer R14 miljoen uit die Umnotho-rekening misbruik vir sy persoonlike voordeel. Daar word beweer dat hy in Augustus en September 2015 ʼn Rolex-horlosie, ʼn diamantring, ʼn Porsche, ʼn Ferrari en goue munte ter waarde van net meer as R1 miljoen gekoop het.

Chetty en Sangoni moet weer op 20 November in die hof verskyn.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

16 Kommentare

JM ·

Daar bestaan nie meer woorde om die vlaag van boosheid wat die land oorspoel, te beskryf nie. ‘n Mens is verby skok, verontwaardiging en moedeloosheid. God en Sy gebod geld nie meer nie, dit het plek gemaak vir gierigheid; gewetes bestaan nie vir hierdie mense nie.

Anoniem ·

En jacob zuma? En Ace? En al die res wat geplunder het? Kom hulle dag ook nader of gaan hulle maar ‘n doktersbrief aanbied wat bevestig dat oranje pakkies hulle einde sal beteken?

Alex ·

Sjoe, Porche, ferrari, goue munte, ring en Rolex vir R1m. Dis n bargain….!

Christi ·

R14 miljoen vir eie gebruik. Die waarde van die munte is R1 miljoen. Dis hoe ek die paragraaf verstaan

ES ·

Alex, ek sit ook en giggel oor hierdie wiskunde… ek wonder of hy die Ferrari en Porche se bande gekoop het. Party Rolex horlosies (soos die platinum Daytona) is omtrent R 1,3 miljoen stuk.

Misky ·

Slegs die munte is net meer as miljoen. Maar ja, anders was dit n goeie kopie gewees

Casper ·

Ek dink nie dit was armoede nie want dan koop jy kos.Ek dink dit was gierigheid of is dit apartheid se skuld na 26 jaar van demokrasie.Vat solank hulle mates vir die oranje pakkie.

Derek ·

Dit is die metode wat landswyd deur verskeie sakemanne gebruik is en daardeur hulleself verryk het ten koste van die belasting betaler. Geld wat verkwis is en wat aangewend kon word vir behuiding en infrastruktuur ontwikkeling. Ongelukkig kon baie amptenare nie die versoeking weerstaan en het geval as gevolg van die god van geld. Meeste amptenare verstaan nie wetgewing nie en is bloot aangestel omdat die ANC wette dit vereis sonder die nodige kundigheid en opleiding. Sommige poste binne die publieke sektor vereis bepaalde en voorgeskrewe opleiding, maar dit word totaal geignoreer deur die regering agv die drakoniese “affirmative action” en BEEE beleid. Dit het tot gevolg dat baie mense nou eintlik onskuldig skuldig bevind word agv die ANC beleid en hardkoppigheid. Die ANC moet nou verantwoordelik gehou word as gevolg van hul eie gebrek aan kennis. Die waarheid is indien jy ander oordeel die oordeel oor jou sal kom, net n kwessie van tyd.

Maggies ·

As al die bedrog geld teruggekeer na die staatskoffer én daar bly kan Suid-Afrika dalk uit rommel status gered word. Maar sal dit ooit gebeur?

koos10 ·

R19 000 000.00 is betaal deur die staat aan hom, maar watter prys gaan die items op veiling kry? Miskien R5 000 000.00? Waar gaan die verskil dan vandaan kom?

Andre ·

Ook net tot almal vergeet het dan beveel die hof dat alles moet weer teruggegee word.

JohanR ·

En die staat sal die R19 miljoen weer herverdeel onder 19 kaders!

Cecilia ·

R19m se bedrog vs R200k se borgtog.
Eish ek mag dalk nie Wiskunde in GR12 gehad het nie maar het Rekeningkunde gehad en d krediet en debiet kant balanseer glad nie!
Ou Chetty ht in elk geval klaar geld in oorsese bank rek seker gesit om sy Pension aan te vul.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.