Durbanse strande toe weens bakterie

Foto bloot ter illustrasie. (Foto: David Di Veroli/Unsplash)

Talle strande aan die kus van KwaZulu-Natal is toe weens hoë vlakke van die bakterie E. coli in die water. Dié bakterie, wat onder andere diarree kan veroorsaak, is in die water opgemerk ná die verwoestende vloede verlede maand.

Die eThekwini-munisipaliteit, wat gebiede in en om Durban bedien, sê alle openbare strande sal tot verdere kennisgewing gesluit wees en dat enige soort wateraktiwiteite ook verbied is.

“Inwoners word versoek om ag te slaan op hierdie waarskuwing, want indien hulle dit verontagsaam kan dit lei tot uitbrekings van dodelike siektes wat deur water versprei word.”

Volgens die munisipaliteit kan mense steeds aktiwiteite op die strand voortsit, maar dat dit gedoen moet word sonder om direkte kontak met die water te hê.

“Watertoetse word daagliks uitgevoer en die publiek sal in kennis gestel word sodra die E. coli-vlakke tot aanvaarbare vlakke gedaal het.”

Verskeie woongebiede aan die kus het steeds nie toegang tot vars en veilige drinkwater nie nadat die vloede noodsaaklike infrastruktuur verwoes het. Weldoeners het reeds duisende liter skoon drinkwater aan behoeftige inwoners geskenk en belanghebbendes het in samewerking met die munisipaliteit boorgate begin sink.

Die munisipaliteit het inwoners verseker dat sy spanne onvermoeid werk om water- en sanitasie-infrastruktuur wat deur die vloede beskadig is, te herstel.

“Ons is verheug om aan te kondig dat daar daagliks groot vordering in hierdie verband gemaak word.”

ʼn Aantal inwoners het op die munisipaliteit se Facebookblad gekla dat hulle reeds vir E. coli behandel word, ten spyte daarvan dat hulle nie hul voete op ʼn strand gesit het nie.

KZN stuk-stuk herbou

Dele van KwaZulu-Natal word sedert die verwoesting stuk-stuk herbou en talle paaie wat weggespoel is, is reeds herstel.

Een van hierdie paaie was in só ʼn slegte toestand dat kinders van Amaoti in Phoenix omtrent moes klouter om by die skool uit te kom. Die pad is intussen beveilig en gelyk gemaak.

Padgebruikers in Molweni, Adams Mission en Waterfall se paaie is ook tot so mate weggespoel dat voertuie nie kon waag om dit te gebruik nie. Van hierdie paaie is ook reeds deur die munisipaliteit reggemaak.

Volgens die eThekwini-munisipaliteit is daar reeds planne om ander infrastruktuur wat deur die reën verwoes is, te herstel.

“Tydelik herstelwerk aan infrastruktuur is tans regdeur die metro aan die gang om maklike verkeersvloei moontlik te maak, terwyl planne beraam word om permanente oplossings te vind.”

Die departement van binnelandse sake in die munisipaliteit het ook reeds tydelik strukture opgerig om vloedslagoffers te help om hul identiteitsdokumente en geboortesertifikate te kry.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Elize ·

Ons wil landsvlae plant van 22miljoen maar kan nie na die drinkwater in die land omsien nie. Onderste bo prioriteite.

Jacobus ·

Ek weet nie of ek my verbeel nie, maar die foto’s van “before”en “after” , van Waterfall, lyk nie na dieselfde plek?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.