DUT hof toe om betogings te keer

Skade aangerig tydens betogings. (Foto: ANA)

Verteenwoordigers van die Durban-Universiteit vir Tegnologie (DUT) sou Donderdag in die hooggeregshof in Durban verskyn om ʼn dringende interdik te bekom teen betogende studente wat akademiese bedrywighede op dié instelling se Durbanse kampusse ontwrig.

Dr. Isaac Machi, adjunk-visekanselier, sê in ʼn beëdigde verklaring DUT het genoegsame bewyse dat onomkeerbare skade aangerig sal word indien dié dringende interdik nie toegestaan word nie.

DUT loop sedert registrasie vandeesmaand deur onder ʼn vlaag van gewelddadige betogings wat tot die skietdood van ʼn student gelei het. Machi sê in die aansoek die interdik moet dringend toegestaan word aangesien daar met elke dag se betogings nog ʼn moontlikheid van beserings of sterftes is.

Volgens Machi het DUT-veiligheidsbeamptes op 5 Februarie ʼn oproep ontvang dat EFF-lede klippe buite die hoofgebou op die kampus bymekaarmaak. Vyf veiligheidswagte het ondersoek ingestel en vasgestel dat die studente toegang tot die gebou wou verkry.

ʼn Veiligheidsbeampte het glo ’n hek na die gebou probeer toemaak om die studente buite te hou waarna hy met klippe bestook is. Die wag het kopbeserings tydens dié voorval opgedoen.

“Die groep studente, van wie sommige EFF-T-hemde gedra het, het in twee groepe verdeel. Die een [groep] het agter die gebou gebly en die ander het na die ingang gegaan waar hulle voortgegaan het om die sekuriteitswagte met klippe te bestook,” lui die verklaring.

“Een van die veiligheidswagte het skote afgevuur wat glo tot die dood van [Mlungisi] Madonsela gelei het. ʼn DUT-personeellid, Mbali Ntoza, is ernstig beseer nadat sy met ʼn klip of baksteen in die gesig getref is. Sy moes dadelik mediese hulp ontvang en bedrywighede op die kampus is gevolglik gestaak.”

Machi haal ook in die verklaring sosialemediagebruikers aan op die studenteraad se Facebook-blad waarin die bestuur as “die vyand van mense” en “verantwoordelik vir die dood van vegter Mlungisi” beskryf is. “Hulle het hom vir egoïstiese gewin vermoor!” lui een van die inskrywings.

“Ek wil beklemtoon dat DUT geen begeerte het om studente van hul demokratiese reg om te betoog te ontneem nie. Deur die gewelddadige en intimiderende wyse waarop studente egter dié reg uitoefen, ontken hulle ander se reg om voort te gaan met hul studie vir die 2019 akademiese jaar,” het hy gesê.

Verskeie ondersteunende dokumente in DUT se aansoek bied bevat fotografiese bewyse van skade wat aan die universiteit se eiendom, asook aan die polisie- en private eiendom aangerig is.

DUT se kampusse het vandeesweek heropen, maar betogende studente het weer eens lesings ontwrig en studente gedreig dat hulle “doodgemaak sal word” indien hulle nie by die betoging aansluit nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Johan ·

Dis hoog tyd dat die hof aanvaar dat klippe gooi potensiële moord is en dat dit nie deel van ‘n “vreedsame” betoging kan wees nie. As ‘n massa mense my met klippe gooi, sal ek ook skiet. Net beter korrel.

Johann cb ·

Hierdie mense wat so betoog, wil eendag die land regeer…
Ek word yskoud as ek daaraan dink…!

GRIET ·

VERBAN DIE EFF EN BLF SOMMER SUMMIER,DAN IS 60% TOEKOMS PROBLEME OOK UIT DIE WEG GERUIM

christa ·

dis geen student nie, dis plunderaars. Stokou mense sit nog op universiteite en is net daar vir die skyn en om die staat se geld te mors. van leer is geen sprake nie, net as hulle dalk leer om te betoog

Alida ·

Sluit die plek dat hulle gaam bokke oppas. Die kans om dan president te word is baie goed.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.