DUT-kampusse gesluit ná hordes vir registrasie opruk

Die polisie hou ‘n wakende oog oor mense by een van die DUT-kampusse. (Foto: Thabiso Goba/Twitter)

Die Durban-Universiteit vir Tegnologie (DUT) het bedrywighede by al vyf sy kampusse in die stad tot verdere kennisgewing opgeskort nadat hordes voornemende studente opgedaag het om vir toelating te registreer.

Die DUT sê ʼn groot getal mense het Dinsdag op die sportsentrum van die Steve Biko-kampus toegesak nadat ʼn fopnuusboodskap versprei is waarin mense genooi word om op kampus te registreer. “Die universiteit het nie ʼn uitnodiging vir enige instap-registrasies gerig nie,” lui ʼn verklaring van die DUT.

Die steun wat op die kampus vir aanlyn registrasies gebied is, is gevolglik gister reeds opgeskort. Gewone aanlyn registrasie duur soos gewoonlik voort, maar sonder enige steun op kampus.

Die universiteit sê die groot getalle ongenooide mense op kampus is boonop ʼn oortreding van Covid-19-bepalings.

Intussen het ʼn beduidende getal mense oornag die sportterrein beset en geweier om die kampus te verlaat.

“Deur die loop van die oggend het die situasie vererger met betogers wat op die Steve Biko-kampus saamdrom, klippe na geboue gooi, die universiteit se eiendom beskadig, openbare paaie versper en verskeie verdere pogings aangewend het om meer geboue op kampus te beset.

“Die universiteit het alle betrokke wetstoepassingsowerhede gevra om die moontlik gevaarlike situasie in bedwang te help hou. Dit het duidelik geword dat dit moeilik is om te beheer en vererger word deur al hoe meer mense wat hul weg na ander gedeeltes van die Durban-kampusse probeer oopdwing,” sê die universiteit.

Daar is dus besluit om alle DUT-kampusse in Durban te sluit.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Misky ·

Iemand het lekker “gestir” en wil aspris chaos veroorsaak en het dit reggekry.

Francois ·

Dis mos maklik kyk wie het die flyer uitgestuur en kla hom aan maar niks sal gebeur want dit was een van our people

JM ·

En as hulle nie gou genoeg hul sin kry nie, word klippe opgetel. Klipgooi en aan die brand steek moet mos die probleem oplos.

Di ·

Kan net dink wie agter hierdie gemors sit! Seker weer Rooikappie

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.