DUT-klasse ‘tot verdere kennisgewing’ opgeskort

Die Durbanse Universiteit van Tegnologie (DUT) het alle akademiese programme op sy kampus tot verdere kennisgewing opgeskort ná ʼn personeelstaking wat al vyf weke lank voortduur.

Die universiteit se senaatskomitee het dié aankondiging Vrydag gedoen en gesê die universiteit sal volgende week die hersiene 2018-akademiese kalender bekendmaak.

Volgens die verklaring gaan die universiteit steeds met ander werksaamhede buiten die akademie voort.

Studente wat nog nié vir vanjaar se studie geregistreer het nie kan steeds aanlyn of op die Riverside-kampus in Pietermaritzburg registreer. Registrasietye is op dieselfde dae as by die Durban-registrasiekantore.

Die instelling het personeel en studente aangemoedig om die universiteit se webwerf en hul e-posse te monitor vir aankondigings en kommunikasie in verband met die opskorting van klasse.

Die vakbondfederasie Fedusa het Vrydag gesê hy het ʼn dringende brief aan die departement van onderwys gerig om dié wekelange staking tot ʼn einde te bring.

Personeel van die kampus het begin staak weens ʼn geskil oor salarisse. Vakbonde het ʼn verhoging van 10% op ʼn basiese salaris geëis, met ʼn R400 verhoging op die maandelikse behuisingstoelaag en ʼn R9 000 eenmalige bonus (14de tjek).

DUT het twee opsies voorgestel: ʼn 5,5% verhoging op die basiese salaris, R200 verhoging op die behuisingstoelaag en geen eenmalige bonus (14de tjek) nie; of ʼn 5,75% verhoging op die basiese salaris, 5,75% verhoging op die maandelikse behuisingstoelaag en geen eenmalige bonus (14de tjek) nie.

Geen ooreenkoms is nog bereik nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Dawie ·

ek weet van n dertiende tjek, maar n veertiende tjek. Een van die dae gaan mens dalk n vier en twintigste tjek kry!

Stefaans ·

‘n Dut klas klink nogal lekker – knip ‘n uiltjie terwyl die lektor sy asem mors.

Casper Labuschagne ·

Die eerste deel van die jaar staak die personeel, die tweede deel van die jaar boikot die studente die klasse en brand wat ook al kan brand. Ten minste kom hulle almal bymekaar die dag as grade en diplomas uitgedeel word. En dit, liewe leser, is hoekom maatskappybase nou grade onder meesters- of honneursvlak beskou as die eintlike matrieksertifikate wat hulle wel kan glo.

Johan. H. ·

Dink nie meer die sogenaamde grade is iets werd nie,, Ek stel voor gee vir hul almal na matriek dadelik n graad van hul keuse dan spaar hulle ook sommer al die onkostes om verder te gaan leer, het altyd gedink van hulle is bietjie agtergeblewe, nou kom ek agter hulle is baie ver agter,,,,Die Here help ons!!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.