DUT-studente oorhandig memorandum ná vreedsame optog

Polisiebeamptes maak gereed vir betogende DUT-studente deur Durban se middestad (18 Februarie 2019) (Foto: ANA)

Studente aan die Durban Universiteit vir Tegnologie (DUT) het Maandag vreedsaam na die stadsaal opgeruk onder leiding van studenteleiers verbonde aan die Ekonomiese Vryheidsvegters (EFF).

Ongeveer 600 studente het, te midde van ʼn streng polisieteenwoordigheid, aan die optog deelgeneem van die Steve Biko-kampus deur die middestad. Polisiebeamptes het die optog as “vreedsaam” beskryf.

Van die studente het T-hemde gedra met die gesig van Mlungisi Madonsela daarop. Die 20-jarige Madonsela is twee weke gelede buite die Steve Biko-kampus doodgeskiet tydens ʼn onderonsie met privaat veiligheidswagte wat deur die instansie gekontrakteer is. Hy het in die hospitaal aan sy beserings beswyk.

ʼn Personeellid van DUT is ook ernstig beseer tydens die gewelddadige betoging en is in die hospitaal opgeneem. ʼn Baksteen, wat een van die studente geslinger het, het haar in die gesig getref.

Studente het Maandag voor die optog buite die visekansellier se kantoor op die kampus bymekaargekom, maar veiligheidswagte en polisiebeamptes het hulle laat verdaag.

ʼn Leier van die optog het in ʼn stadium Indiërs aangesê om die provinsie te verlaat, omdat “hulle” glo die EFF is ʼn party van “ongeletterdes”.

ʼn Beampte het, namens die burgemeester, die studente se memorandum ontvang en onderteken. Die memorandum, gerig aan die Nasionale Vervolgingsgesag en staatsamptenare, lui: “Die studente het, ná assesserings gedoen is oor die vordering wat gemaak word op verskeie kwessies, spesifiek die kwessie van ʼn student wat dood is, kennis geneem van vertragings om diegene wat die student dood te maak, te vervolg.

“Die studente eis die voglende: Die [veiligheidswagte] wat Mlungisi Madonsela doodgemaak het, moet dadelik in hegtenis geneem word en die veiligheidsmaatskappy en die universiteit moet vervolg word.”

Lede van die Verteenwoordigende Studenteraad (VSR) was tydens die optog in ʼn vergadering met bestuur van die DUT.

Akademiese bedrywighede het Maandag by die kampus hervat nadat dit ná Madonsela se afsterwe gesluit is.

Sesiyanda Godlimpi, leier van die EFF-studenteliga en leier van die VSR, het oor die naweek in ʼn persverklaring gesê klasse sal nie hervat word totdat die studente se kwessies aangeroer word nie. Dit sluit substandaard-akkommodasie by koshuise en swak administrasie van die staatsbeheerde studenteleningskema in.

“Ons sal beslissend optree teen diegene wat Maandag lesings bywoon. Ons wil hulle net daarvan bewus maak dat dinge nie normaal aangaan by DUT nie. Klasse sal nie Maandag hervat totdat daar aan al ons eise voldoen is nie,” het Godlimpi in die verklaring gesê.

ʼn Woordvoerder van DUT het aangedui die instansie sal ʼn verklaring uitreik ná hul gesprek met die VSR.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Al ·

Hoe meer aan die EFF se eise voldoen word, hoe meer gaan hul anargie saai.
Sluit die hele blêrrie spul toe.
As hul nie daar is om te studeer nie, moet hul waai.

Afrikaner ·

Ek haal aan, “hulle het vreedsaam opgeruk.”

Dit is soos die EFF wat vreedsaam toi toi.

Snowflake ·

Al dis feite daai, stem saam hulle is nie n party wat beskaafd en opgevoed is nie!! Waarheid is waarheid, die “take a lot” generations

Hennie ·

Hulle het glo nie geld vir studies nie, maar hulle het geld om ‘n moeilikheid maker se gesig op nuwe T-hemde te laat druk! Hulle het geld om te suip oor naweke, rook te lekker, dra Levi jeans en police /rayban sonbrille. Die goed moet gesnoei word, en vinnig!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.