Duur Covid-19-toetse vir koshuiskinders op grens ‘sinneloos’

eSwatini vereis nié ʼn Covid-19-toets wanneer die kinders dié land binnegaan nie, dit is Suid-Afrika wat die toets wil sien.

Talle ouers wat in eSwatini (Swaziland) woon en wie se kinders in Suid-Afrika op kosskool is, sê hulle kan bloot nie meer die verpligte weeklikse Covid-19-toets bekostig nie. Dié toets kos R250 en moet gedoen word elke keer wanneer die kinders Sondae oor die grens terugkeer koshuis toe.

Leerders wat daagliks tussen Suid-Afrika en buurlande pendel vir skool, hoef egter nie daagliks dié Covid-19-toets te doen nie.

“Ouers kan dit net nie meer bekostig nie,” sê Elzeth Wessels, ʼn ma van twee wat saam met haar man in Mbabane in Swaziland woon.

Die egpaar se twee dogters pendel weekliks tussen Mbabane en Piet Retief.

In 2020, tydens die aanvanklike uitbreking, is een ouer per gesin toegelaat om hul kinders – sonder enige Covid-19-toets – op ʼn Vrydag by die skool in Suid-Afrika op te laai en op ʼn Sondag weer te gaan aflaai. Die toets is geskrap mits hulle op dieselfde dag weer die grens oorgesteek het. Leerders is ook vrygestel van enige toetse.

In Januarie verlede jaar is dié regulasies gewysig en grensowerhede het geweier dat kinders sonder ʼn PCR-toets die land binnekom. Die reël is kort daarna aangepas en skoliere wat daagliks die grens oorsteek, kon dit sonder ʼn PCR-toets doen, terwyl koshuiskinders die toets steeds moes doen. Dit is later vervang met ʼn blitstoets wanneer hulle terugkeer na Suid-Afrika.

Die ouer wat die kinders terug neem moes egter steeds ʼn PCR-toets hê en kon nie ʼn blitstoets doen nie. Die blitstoets het ouers R300 per kind elke Sondag gekos, terwyl ʼn PCR-toets – wat twee lank geldig is – R750 per kind kos.

Wessels sê hulle was uiters dankbaar toe die Mededingingskommissie aangekondig het dat die koste van PCR-toetse verlaag word. Luidens die kommissie se mediaverklaring sê die departement van gesondheid ʼn toets kos net R150.

Op die Oshoek-grens tussen eSwatini en Suid-Afrika betaal hulle egter stééds R250 per kind en R500 per ouer sodat hul kinders naweke kan huis toe kom, sê Wessels.

Vragmotorbestuurders wat op soortgelyke manier die grens oorsteek, benodig byvoorbeeld nié ʼn Covid-19-toets nie en in hierdie stadium maak die regulasies vir ouers net soveel sin as wat die destydse verbod op die verkoop van gaar hoender en visplakkies vir Suid-Afrikaners gemaak het.

Geen logiese verklaring

Madeleine Hicklin is ʼn DA-LP en eintlik die party se adjunk- skaduminister vir openbare werke en infrastruktuur. Sy het in 2020 by die Home Away From Home-projek betrokke geraak en beywer haar sedertdien steeds om Suid-Afrikaners in die buiteland wat deur Covid-19-beperkings geraak word, te help.

“Die probleem is dat talle grensposte steeds aandring op PCR-toetse en hoewel die prys van die aanvanklike R800 verlaag is, kos dit steeds ʼn belaglike bedrag geld.”

Hicklin sê daar is ook geen logiese verklaring vir waarom ʼn onderskeid getref word tussen skoliere wat in koshuise bly en diegene wat daagliks pendel nie. “Ek kan nie verstaan waarom hulle dit met skoliere doen nie.”

Sy het die probleem al in die parlement aangeroer in ʼn poging om ouers te help, maar die regulasies geld intussen steeds.

Nog ʼn ma van Mbabane wie se dogter ook op Piet Retief in die koshuis is, sê die skool stuur ʼn bus grens toe om leerders daar te gaan oplaai. Hulle het egter begin om die PCR-toetse te doen omdat dit langer geldig bly en minder spanning vir die kinders veroorsaak.

“Dit is deurlopende stres vir die kinders. As hulle by die grens aankom en een van die kinders toets positief, moet almal huis toe gaan. In een geval was daar nie genoeg toetse by die grens nie en moes die kinders vier uur lank daar wag.

“ʼn Ander keer was die toetsstasie glad nie daar nie nadat dit weggestuur is om gediens te word. Al die kinders moes teruggaan huis toe.

“Die kinders wat daagliks deurgaan, hoef glad nie getoets te word nie, al gaan hulle na presies dieselfde skole as die ander kinders. Dit maak net nie sin nie.”

Dié ma sê talle ouers het hul kinders verlede jaar uit die skool gehaal omdat hulle net nie meer die Covid-19-toetse saam met die skoolgeld kon bekostig nie.

“Ons betaal benewens die skoolgeld nog R1 500 per maand per kind aan Covid-19-toetse. Dit is meer as die skoolgeld. Dit raak ons regtig geweldig.”

eSwatini vereis nié ʼn Covid-19-toets wanneer die kinders dié land binnegaan nie. “Dit is nie Swaziland wat die probleem is nie, dit is Suid-Afrika wat die toets wil sien.”

Sy sê pleidooie aan die minister van gesondheid was tot dusver onbeantwoord.

Philip van Staden, die VF Plus se woordvoerder, het die situasie as “belaglik” bestempel. “Ons weet die regering se kommunikasie is reeds nie goed nie en dit kan ʼn geval wees dat amptenare hul eie reëls volg.”

Hy sê regulasies word op verskillende maniere toegepas en het in die verlede groot verwarring geskep en doen dit steeds.

“Dit is verregaande. Daar moet een stel reëls vir almal wees, want waarvoor het jy dan in die eerste plek regulasies?”

Dit is ook lankal tyd dat die ramptoestand opgehef word, sê Van Staden. “Dit is eintlik ingestel om hospitale vir die pandemie gereed te kry. Dit is nou nog nie gedoen en gaan ook nie gebeur nie. Daar is geen grondige rede om aan te gaan soos ons nou aangaan nie, inteendeel, ek dink dit rig net meer skade aan.”

  • Die departement van gesondheid het Maroela Media se navraag ontvang en aangedui dat hy later kommentaar sal lewer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Johan ·

Gaan die mediese mense nou weer die gemors wat hul veroorsaak het oplos? Of is dit nou iemand anders se probleem?

Waarnemer ·

Trek of terug SA toe of sit jou kunders daar in die skool.

Casper ·

Dit is absoluut belaglik maar meneer /mevrou onthou die salarisaanvullingkie reël geld steeds.Ek is ten volle ingeënt met my sertifikaat op my selfoon gestoor.Ek gaan Eswatini toe en wys my sertifikaat op my selfoon.Aikona sê Jonas hy is nie araait nie,gaan daar by die caravan vir die test en betaal R 800.Nodeloos om te sê ek het my besoek kort geknip.

Tanniepetoors ·

Absoluut belaglik. Koshuiskinders moet toets maar dagskoliere hoef nie? Is daar iewers ‘n streep tussen die twee groepe wat bepaal wie kan siek word en wie nie?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.