Duur munisipale dienste knou gehalte-onderrig

Melanie Buys, hoof van ontwikkeling by SOS, tydens die bekendstelling van die SOS se navorsingsverslag oor skole se munisipale rekeninge by die Hoërskool Pretoria-Noord in die hoofstad. Foto: Verskaf.

Skole word onder geweldige finansiële druk geplaas omdat munisipale dienste soos water en elektrisiteit jaarliks vinniger as inflasie styg.

Hierdie druk het ook ʼn direkte gevolg op die jaarlikse styging in skoolgeld. Dit is van die bevindinge wat die Skoleondersteuningsentrum (SOS) Woensdag bekendgemaak het oor Afrikaanse skole en die tariewe wat hulle vir munisipale rekeninge moet opdok.

Die skole wat aan die navorsing deelgeneem het, het verder gesê astronomiese munisipale rekeninge veroorsaak ook dat minder geld aan noodsaaklike uitgawes soos onderwysers se salarisse en die opknapping van infrastruktuur bestee kan word.

“Navorsing toon wel dat skole in die Wes-Kaap minder bestee aan munisipale dienste as in Gauteng,” het Melanie Buys, hoof van ontwikkeling by SOS, gesê.

Volgens Buys is dié navorsing onder 156 Afrikaanse skole oor die hele land gedoen. Vraelyste is landwyd gestuur aan skoolhoofde en voorsitters van skole se beheerliggame wat lid is van die SOS se leierskapvereniging.

Die meeste skole wat die vraelys voltooi het, is in Gauteng en die Wes-Kaap geleë. Heelwat skole in Noordwes en die Vrystaat het ook deelgeneem. Die meeste deelnemende skole is kwintiel 4- en 5-skole, wat beteken dat die skole skoolgeld hef en in woongebiede geleë is waar ouers veronderstel is om dit te kan bekostig.

Bevindings van die SOS se navorsing is by die Hoërskool Pretoria-Noord bekendgestel. Uit die navorsing blyk die volgende:

  • Skole bestee gemiddeld tussen R40 000 en R70 000 per maand aan munisipale uitgawes, maar amper een uit elke tien skole bestee meer as R100 000 ’n maand.
  • Amper 14% van skole bestee meer as 10% van hul bruto inkomste om munisipale rekeninge te vereffen.
  • Gautengse skole bestee gemiddeld R68 000 per maand aan munisipale uitgawes, terwyl skole in die Wes-Kaap gemiddeld R53 000 per maand betaal. Die koste van hierdie dienste styg ook vinniger in Gauteng (9,5% per jaar) as in die Wes-Kaap (8,7% per jaar). In albei provinsies styg munisipale koste vinniger as inflasie.
  • Twee uit elke drie skole (69%) het aangedui dat hoë munisipale tariewe die skool se finansies knou en dat hulle fyn moet werk om al hul uitgawes te delg. Een uit elke tien skole het aangedui dat die skool tans agter is met die betaal van hoë munisipale rekeninge.
  • Die toename in munisipale uitgawes het ’n direkte invloed op die stygings in skoolgeld, veral in stedelike gebiede. Altesaam 46% van skole moet jaarliks hul skoolgeld verhoog om hierdie uitgawes te delg. Meer as ’n derde (37%) van die skole bestee minder aan ander uitgawes soos infrastruktuur, leerhulpbronne of ekstra personeel om voorsiening te maak vir hoër munisipale diensfooie.
  • Talle skole ervaar ook probleme met foutiewe munisipale rekeninge. In die meeste gevalle sloer munisipaliteite maande lank om foute reg te stel.

Volgens Gerda Senekal, raadslid van die Vryheidsfront Plus in Emfuleni, kan hoë munisipale tariewe toegeskryf word aan onreëlmatige of verkeerde meterlesings deur die munisipaliteit en onbillike tariewe vir skole.

Morné Mostert, AfriForum se hoof van plaaslike regering, sê skole se munisipale rekeninge word beïnvloed deur bloktariewe. Hoe meer water en elektrisiteit verbruik word, hoe hoër is die tariewe wat skole moet betaal. Mostert sê die verskil in tariewe in die Wes-Kaap en Gauteng kan toegeskryf word aan beter politieke bestuur in die Wes-Kaap.

“Hier is nog ’n mate van professionaliteit in munisipale administrasie, wat dit moontlik maak dat tariewe in baie munisipaliteite op die regte manier benader word. Dit is ongelukkig nie oral in die Wes-Kaap die geval nie.”

Die SOS het ’n aantal aanbevelings gemaak aan skole wat sukkel met hoë munisipale koste. Dit sluit in dat skole hul betrokke raadslede moet nader om hulp met foutiewe munisipale rekeninge. Skole moet onmiddellik ’n dispuut met die munisipaliteit verklaar indien hulle meen die rekening is foutief. Om skole hiermee te help, is ’n konsepdispuutbrief beskikbaar by Skole.co.za.

Skole word aangemoedig om met hul onderskeie munisipaliteite te onderhandel om beter elektrisiteit- en watertariewe te beding. Deur te verseker dat waterpype en veral toilette geen lekkasies het nie, kan skole onnodige waterverbruik beperk.

Die SOS doen ’n ernstige beroep op die regering om wins op skole se munisipale tariewe te sny, en gehalte-onderwys op dié manier te ondersteun.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Mudguard ·

En die skole in Mamelodi, Sebokeng ens. betaal niks. Lekker man.

Gert van Wierdapark ·

Stem saam! Skroef die algemene wan/geen-betalers op!!!!

Maljan ·

Die dienste sal ongelukkig nes elektrisiteit aanhou styg want net n klein persentasie van die bevolking betaal almal se gebruik.

Judge Dredd ·

Ongelukkig word daar geensins gepraat van hoe groot die gemiddelde skool in Gauteng in vergelyking met Wes-Kaap is. So asof die aantal leerders in ‘n skool nie ook die munisipale rekening sal beinvloed.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.