Duur operasie nodig ná hond peuter byt

Klein Hendré se wonde begin genees (Foto: Verskaf)

WAARSKUWING: Die berig bevat grafiese foto’s en kan sensitiewe lesers en kinders ontstel.

ʼn Peuter wat sowat twee maande gelede deur ‘n hond aangeval en gebyt is, moet nou ʼn peperduur operasie aan sy kakebeen ondergaan.

Die hond het Nadesna en Casper du Plessis se seuntjie, Hendré, op 26 Junie aan sy gesig beetgekry. Hy was toe net een jaar en sewe maande oud.

Nadesna vertel Hendré het op dié dag by familielede op ʼn kleinhoewe buite Rustenburg, Noordwes, deurgebring. Nadesna en haar man was die dag by die werk en skole was toe nog gesluit weens die afsonderingstydperk.

“Hendré het die dag bietjie tyd saam met sy ouma deurgebring. Omdat Ouma moeilik loop, ry sy partykeer in haar karretjie. Hendré was gaande daaroor om op Ouma se karretjie te klim, en Ouma het hom daardie dag in die karretjie rondgestoot,” vertel Nadesna. “Die karretjie se wiel het aan ʼn klip vasgehaak en die karretjie het omgeslaan. Hendré het uit die karretjie geval en begin huil.”

Nadesna vertel Hendré se ouma het hom opgetel en onder die arm vasgehou. Dit is toe dat een van die honde op die erf sonder waarskuwing Hendré se gesig van onder af gegryp het. “Iets van Hendré se val uit die karretjie moes die hond getrigger het.”

Die hond het glo aanhou byt en sy bek het oor Hendré se gesig gesluit. Die ander familielede het saam met die ouma onverpoos gestoei om die hond van Hendré af te kry.

“Genadiglik het hulle die hond van Hendré se gesig afgekry.”

Nadesna sê familielede het haar man gebel en hy het ʼn ambulans na die kleinhoewe ontbied. Hendré is toe na die Peglerae Life-hospitaal in Rustenburg geneem.

Hendré in die hospitaal in Junie (Foto; Verskaf)

“My man het my gebel en gesê ek moet dadelik hospitaal toe kom, want ek moet Hendré stil en rustig kom maak,” vertel Nadesna.

Die dokters het in die hospitaal X-strale van Hendré se gesig geneem en aanvanklik gesê sy kakebeen is nie gebreek nie. Hy is later in die teater ingestoot om steke vir sy wonde te kry. “Hier het die dokter besef sy kakebeen is wel gebreek en daar is van die kakebeen se beentjies af,” vertel Nadesna.

Nadesna vertel van die vel onder sy ken was ook weg, maar het darem mettertyd begin genees. ʼn Veloorplanting is dus nie nodig nie.

Hendré moet dringend die noodsaaklike operasie aan sy kakebeen ondergaan, maar kan nie omdat die familie nie oor die nodige fondse daarvoor beskik nie.

Hendré na die voorval (Foto: Verskaf)

Die Du Plessis’s se hospitaalplan is reeds met Hendré se eerste operasie uitgeput, en hulle het nie genoegsame fondse om vir sy operasie uit hul sakke te betaal nie. Die operasie beloop ʼn geraamde R99 029.

“Ek kan nie meer sit en toekyk hoe my seuntjie swaarkry nie. Sy kakebeen en mond hang. Hy kan nie harde kossies eet nie. Hy het nie beheer oor sy spoeg was gedurig uit sy mond loop nie.”

Nadesna het op haar Facebookblad ʼn fondsinsameling van stapel gestuur om geld vir Hendré se operasie in te samel. Sy sê enige donasie, selfs net R5, sal ʼn groot verskil maak. Besoek die blad hier om ʼn donasie te maak.

“Ons is dankbaar vir elke familielid en ons naaste vriende wat reeds iets bygedra het. Elke bedrag help om die groter bedrag in te samel,” sê Nadesna.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

10 Kommentare

jongste oudste gewildste
Mieke

Ag, die arme kind… kom ons hou opom te bespiegel watter ras hond die kind gebyt het en stuur eerder ‘n donasie om te help!!

LIEZL

Ek sou sê die hond se eienaar moet die kostes dek!

Douglas

Wat is die ras van die hond?

Elmarie

Liezl dis die familie se hond. Asb mense laat ons saamstaan en hierdie mense finansieel help!

Piet

Ag die liewe hondjie het seker maar net geskrik en uit selfverdediging opgetree.