Duur projek om boere te help flop

Die regering het glo reeds meer as R1 miljard aan dié parke bestee.(Argieffoto)

Dit blyk dat die regering se agriparke-inisiatief wat begin is om opkomende boere te help om tot die landbousektor in Suid-Afrika toe te tree, steeds nie enige vrugte afwerp nie.

Die inisiatief is in 2015 deur die regering van stapel gestuur en sou teen die einde van 2020 afgehandel gewees het. R2 miljard is vir die projek opsygesit. Oudpres. Jacob Zuma het destyds gesê dat agriparke in 27 van die land se armste distriksmunisipaliteite opgerig sou word om die landelike ekonomie te bevorder.

’n Agripark bestaan onder meer uit ’n produksie-, verwerkings-, verpakkings-, opleidings- en logistieke eenheid. Daar is ook ’n eenheid wat die verhuring van toerusting hanteer. Die parke moes boere onder meer help om hul produkte te verpak en te versprei.

Volgens Annette Steyn, DA-parlementslid, is daar min vordering of sukses met dié projek.

Teen 2018 was daar glo nog net vier agriparke wat gedeeltelik operasioneel was – in Gauteng, Noordwes, die Oos-Kaap en die Wes-Kaap.

Luidens ʼn dokument wat Steyn in haar besit het en op Twitter gedeel het, het die regering reeds meer as R1 miljard aan dié parke bestee. Die meeste hiervan is in die Oos-Kaap (R166 miljoen), KwaZulu-Natal (R160 miljoen) en Noordwes (R157 miljoen) bestee.

Van dié uitgawes het skynbaar dadels gekom.

“Dit was uit die staanspoor die verkeerde besluit. Ons kry ook geen antwoorde van die regering oor die vordering en funksionering van die agriparke nie,” het Steyn gesê.

“Die regering wou met agriparke ’n tweede ekonomie skep en dit werk nie so nie.”

Volgens haar moet daar éérs na die produksie op plase self gekyk word om seker te maak dat dié plase operasioneel is en funksioneer.

“Die primêre produk moet op grondvlak reg wees sodat nuwelinge in die landbousektor op ’n normale wyse tot die mark kan toetree.”

Volgens Bennie van Zyl, hoofbestuurder van TLU SA, het die regering met dié inisiatief onrealistiese verwagtinge geskep dat daar onder meer aan nuwe boere ’n mark gegee sou word.

“Dit is ’n ontwikkelende proses. Daar is eerstens opleiding vir dié mense nodig. Hulle vermoë om te boer moet ontgin word.”

Van Zyl het gesê dat TLU SA die regering verskeie kere genader het om idees uit te ruil oor wat gedoen kan word om aan nuwe toetreders ’n billike kans te gee.

“Ons wou saam met hulle om ’n tafel sit en hulle help om planne te beraam, maar hulle het ons voordurend eenkant toe gevee.”

Volgens Van Zyl het die regering met dié projek weggeval sonder om voldoende marknavorsing en behoeftebepalings te doen.

“Daar is nie genoeg produsente om die projek volhoubaar te maak nie. Nuwe boere moet stelselmatig opgelei word.”

Van Zyl het gesê dat die regering met dié projek baie geld in die water gegooi het.

Die departement van landelike ontwikkeling en grondhervorming het nie op Maroela Media se navrae reageer nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

28 Kommentare

David ·

Mens hoef seker nie te wonder in wie se sakke die “besteding” opgeëindig het nie..

Kanjynoumeer ·

SOS – same old story.
Jy kan of net lag en jou kop skud of naar raak!!

Anel ·

Ek begin al meer glo dat ons belasting moet begin weerhou. Hoe kan mens net aanhou en aanhou en aanhou om geld, wasrvoor jy hard gewerk het, weg te gee. En dit aan ‘n spul onbevoegde, onopgeleide kaders!!!

Dirk Mostert ·

As daar ‘n manier was. Salaris- en pensioentrekkers se belasting word vir hulle oorbetaal aan die SARS.

Kanjynoumeer ·

Prince Machela van die The Sowetan Times skryf en laat my dink…
Africans and their leaders don’t like to copy from the West and maybe from no one else.
They are happy to remain African and do things the “the African way.”
Al misluk die meeste van hul projekte en pogings klaaglik.

Dirk Mostert ·

Nog geld in n bodemlose put deur ‘n onbeholpe regering. Asof die land nie al diep genoeg in die skuld is nie.

Persheks Adri ·

Goeie genade R2 miljard gemors! Normale mense beplan alles en doen ordentlike navorsing, maar ja wat verwag ons van die klomp wat absoluut NIKS van beplanning af weet nie gggmmmfff pateties

Snowball ·

Domastrant – DOM en ASTRANT. Dink hulle kan, misluk klaaglik en trek dan skouers op en blameer alles en almal anders. Met miljoene in die drein af – ANC bloudruk.

annie ·

Hoekom ruik die parkidee so baie na Kuba… nie dat enigiets soos dit daar sou werk nie, maar die droom dat soiets sou kon werk as ons net kon kom help… teen betaling natuurlik. Die Kubane sou ook ‘n waterpyplyding tussen Bloemfontein en die Gariepdam ontwerp en het maande lekker in gastehuise gerus. Wat het van die droom geword?

KB ·

As dinge in Kuba gewerk het, sou die Kubane nie hier kom “werk” het nie!
NIKS werk in Kuba nie, slegs Kommunisme.

Stephan ·

Daar bestaan ñ baie groot wanindruk by “our piepol”. Nie net landbou, maar in alle sektore. Die wanindruk is duidelik sigbaar by die bestuur(totale gebrek daaraan) van staatsinstellings. Hierdie wanindruk dryf ook die onteiening sonder vergoeding geraasmakers. “our piepol” is oortuig daarvan dat as jy môre ñ stuk grond kry, is jy oormôre ryk, en het jy ñ nuwe hilux en ñ mercedes en ñ huis en ñ stoor met trekkers, en sit jy op die stoep en kyk hoe die plaas homself boer. Daar is geen idee van hoeveel geslagte, in baie gevalle, dit gevat het om daar te kom. Geen idee van wat jy moet doen en moet leer om daar te kom. Daar bestaan nie ñ ding soos ñ kits boer, maar die regering en “our piepol” glo hulle weet presies hoe om ñ kits boer te maak, en enige organisasie wat weet waarvan hulle praat kan sê net wat hulle wil, “our piepol” weet beter. Julle gaan net ons planne wil kaap, dink hulle. Julle is te wit ouens, al het julle al die kennis. Stuur nog 100miljoen asb. “our piepol” het ñ plan.

Ovelia ·

Almal wat n bees of skaap sien is ni boere ni. Hul moet opgelei word

SomeOne ·

ek wil “boer”, alles moet daar wees, dit moet alles outomaties werk en geen mense betrokke want ek mag nie my hande vuilmaak nie en ek wil in sonskyn land bly met net die beste vir my en “miljarde” Œ in “my” bank hê

Wielspore ·

My broer bly op ‘n plaas naby Newcastle KZN, die regering het ‘n gemeenskaplike diere dip laat oprig vier vee en huisdiere. Toe die projek voltooi is het die seremonie en die reuse kennisgewing bord twee keer meer as die projek gekos. Intussen het die wind die bord omgewaai en is nie meer sigbaar van die pad af agv die lang gras. Weereens ‘n vermorsing van belasting geld

Mariana ·

Raak die geldboompie se blare dan nooit op nie. Die projekte word net daargestel vir swart boere, geen wit opkomende boere nie. Weereens iets wat aangepak is ten duurste wat geflop het.

koos ·

Geld kom mos op in die landerye as jy boer, net soos mielies

Hoekom ·

5 jaar? Dit het die Japanese en Duitsers na die tweede wêreld oorlog 5 jaar gevat om weer internationaal te kompeteer met hulle ekonomie. Die ANC is net niks werd…

Willem ·

Nie net n verskuilde agenda nie, maar ook onbekwame anc leiers?!

Janee ·

Is daar iets wat goed beplan word.??? Beplanning om dit vas te lê wel……

Madz ·

Verbaas…? Hoekom? Dis SA onthou…. gin wonder SARS is bankrot nie!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.