Duurder elektrisiteitstarief vir Pta’ners opgeskort

Argieffoto

Die Tshwane-metro het aangekondig dat hy van 17 Julie nie met die implementering van die onwettige verhoogde tarief vir die 2019/2020-termyn sal voortgaan nie. Dit volg ná volgehoue druk en ’n hofsaak wat AfriForum teen die munisipaliteit aanhangig gemaak het om die proses te stop.

Die afskaffing van ’n verhoogde tarief is egter nie finaal nie en Nersa moet nog ’n tarief vir die 2019/2020-termyn goedkeur. Dié besluit sal geneem word ná die sewe werksdae wat die Tshwane-metro het om aanvullende inligting aan Nersa te verskaf oor die tarief wat hy in werking wil stel.

Volgens Morné Mostert, AfriForum se hoof van plaaslikeregeringsake, verwelkom AfriForum dié aankondiging. “Ons is bly dat die verhoogde tarief nie langer gehef sal word nie. Die proses is van die begin af verkeerd gevolg. Ons verwelkom die Tshwane-metro se besluit om die vorige termyn se tarief weer toe te pas en die nodige goedkeuring van Nersa te kry voordat enige verhoging geïmplementeer word. Kragverbruikers sal nou die vorige termyn se tarief – dus sonder die verhoging – betaal.”

Mostert beklemtoon dat nog net voorafbetalende kragverbruikers deur die verhoogde tarief geraak is. Die Tshwane-metro het egter onderneem om dié verbruikers te vergoed deur die geld terug te betaal wat verbruikers ekstra vir eenhede moes betaal.

Mostert voeg by dat die metro nou op ’n skoon bladsy kan begin om ’n verhoogde tarief – wat ál Pretoria se inwoners in ag neem – in werking te stel. “Dit is jammer dat ons deur ’n hofproses moes gaan om die implementering van die tarief te staak. Ons hoop dat die metro in die toekoms beter met sy inwoners sal kommunikeer om soortgelyke optrede te vermy.”

AfriForum sal voortgaan om die proses fyn dop te hou en ook, waar nodig, aan die proses deelneem. Die organisasie sal ook in die toekoms nou saam met die metro werk om te verseker dat ’n billike tarief vir sy inwoners geïmplementeer word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

19 Kommentare

sweis ·

Wys net wat gedoen kan word met bevoegde mense en organisasies,kan julle dink wat gedoen kan word as ons ons eie staat gehad het met bevoegde polisie,hospitale, skole en geen diskriminerende wette om een groep van die bevolking te benaadeel nie.

Susan ·

Gaan die eenhede outomaties teruggegee word of moet ons vra daarvoor

Johanna Botha ·

Al wat die DA gebring het was hoer pryse en die strate lyk nog vuil en straatligte brand 24/7

Empatie61 ·

So, Johanna. Jy is seker dan in ekstase dat die ANC weer in beheer is in Tshwane? (Of weet jy dit dalk nog nie? Weet seker ook nie dat die EFF aandring dat een van hulle burgermeester moet wees nie?)

sweis ·

Die DA was nie goed vir Pretoria nie ek kon n duidelike verskil sien in die area waarin ek woon naamlik Rietfontein maar die raadslid was ook nie betrokke met enige probleme nie ,ek glo die VF+ sal in die volgende verkiesing die wyk wen en tyd sal leer.

John ·

… en sodra die winter inskop dan skop Eskom se eise ook in wat die verbruikers gereeld ‘n skop in die maag gee. Maar wie gee om? Eskom glo hy is die enigste tandarts op die duikboot. En net hy kan ‘n tand stop en dit gaan kos. Al gehoor van tande trek? Gee die arme tandmuis ook ‘n slag wat hom toekom. Eskom sit met 47 000-16 000=31 000 te veel fat cats wat nie eens ‘n ou muis kan vang nie.

Martin ·

Yep, DA was aan bewind maar, 98% van die mense wat daar gewerk het was nog steeds ANC wat nog steeds laks was.

Zachrys ·

Bakgat Afriforum ‘n ware burger regte waghond…. Met tande!

KP ·

Johanna Botha en wie sal jy nou voorstel moet julle raad regeer? die ANC?? Dink voor jy kla. Ek bly in Weskaap en sien wat die DA hier verrig. Die meeste DA munisipaliteite het skoon oudits gekry!!!

sweis ·

Ek glo die VF+ behoort die DA te kelder in die volgende verkiesing veral in die moot dink ek hulle dae is getel.

Manie ·

Die da wurm al die geld uit die wat betaal. Die wat niks betaal is hulle te bang om aan te vat

Hein ·

Dankie AfriForum – mense ondersteun Afriforum, al skenk jy net ‘n paar Rand per maand. Hulle help beslis !!

w ·

Johanna. Ek het self in die Kaap gebly. woon nou in Guateng. Kom kyk na ons Lisensie kantoor. Die toonbeeld van korrupsie.Dan probeer jy om Dr. Johan Kok te skakelom te kla(40 keer). Of die Tswane korrupsie eeneid. Die DA is ten minste so sleg as die ANC.

Theresa ·

Dankie Afriforum vi die werk wat jul doen…… Ons waardeer dit opreg.

Deon ·

WAARSKUWING: Pretoria inwoners, wees versigtig wanneer die krag en water afdeling sonder waarskuwing jou water- en kragmeters vervang. Jy kom dit eers agter wanneer jy laatmiddag by die huis kom. Die nuwe meters begin wel by 0, maar ‘n paar maande later toon jou munisipale rekening dat die finale lesing van die vorige meters baie meer is as wat dit werklik was. Jy weet wat was die laaste lesing, maar die munisipaliteit soek bewyse, net soos wat ek nie bewyse kry vir die finale lesing nie. Die vorige paar maande is nie eers melding gemaak van die vorige meter nie. Die finale lesing is dan die “actual”, en word nou voorgegee as die “regstelling”. Dit is myns insiens bedrog. Ek is nou besig om dit met my DA raadslid op te volg, maar ek werwag nie veel sukses nie. Enige ander inwoner net dieselfde probleem?

Ekke ·

Ek stem saam DA doen nie veel nie, ek het al hoevele klagtes ingedien rakende ‘n spoed hobbel wat nie gemerk is nie, my voertuig het al skade as gevolg van hierdie grond hobbel, met geen waarskuwings borde nie, en die beste is hierdie grond hobbel is in skaduwee, jy sien glad nie die ding nie!!!

Annatjie Brink ·

As dit so is dat Krag nie gaan verhoog, hoekom betaal voor af betaalde kliente dan meer bv vir R450 het jy 215 eenhede krag gekry nou net 192 vir Julie

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.