Dwaalkoeël eis Gautengse leerder

Argieffoto

’n Graad 5-leerder aan ’n skool in Alexandra in Johannesburg is dood nadat ’n dwaalkoeël haar oor die naweek in haar ouerhuis getref het.

Kapt. Mavela Masondo, woordvoerder van die polisie, het aan Maroela Media gesê ’n 11-jarige meisie was Vrydagaand saam met haar familie tuis. Die kind het op ’n stoel naby die voordeur gesit terwyl die volwassenes aandete voorberei het. Die meisie het skielik op haar stoel inmekaargesak, waarna haar ouers haar te hulp gesnel het. Hulle het bloed opgemerk.

Volgens Masondo is die meisie deur ’n dwaalkoeël getref. Dié koeël het vermoedelik deur die huis se dak gekom. Sy is inderhaas na ’n plaaslike kliniek geneem, maar het egter aan haar beserings beswyk.

Steve Mabona, woordvoerder van die Gautengse departement van onderwys, het die kind as Sinesipho Mangaliso geïdentifiseer. Sy was ’n leerder aan die Zenzeleni Primary School in Alexandra.

Die departement het sy medelye met Sinesipho se familie en die skoolgemeenskap betuig.

Niemand is nog in verband met die voorval in hegtenis geneem nie.

Die polisie ondersoek ’n saak van moord.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

5 Kommentare

jongste oudste gewildste
Zacahara

Hartseer!!

Cherokee

‘vermoedelik deur die dak’. Mense moet besef wat opgaan kom weer af. So, ‘n waarskuwingskoot of ‘n watse skoot ook al, word nie in die lug opgeskiet nie, want die skut het geen beheer oor waar dit gaan val nie. Daarbenewens, maak dit ook nie sin dat ‘n vallende koeël die trefkrag kan hê om deur ‘n dak te val en ‘n slagoffer te dood, nie. ‘n Groter waarskynlikheid is hoë(r) geboue in hul onmiddellike omgewing vanwaar dit geskiet is.

Bramaputa

Ek het in 2018 ‘n soortgelyke geval gehad in Pretoria. ‘n Dwaalkoeël het deur my sinkdak en staalplafon geval reg voor my voete. Ek kan ook nie dink ‘n koeël wat net terugval kan deur alles dring nie. Hy moes nog in sy vuur trajek gewees het.

Leon

Die ou polisie museum het uitstallings gehad van soortgelyke gavalle gehad wat in die 50’s en 60’s gebeur het.

Wondermaarnet

Dit is so verskriklik hartseer. CR, weer eens ‘n onskuldige kind en jy worry om geld te bedel by buitelanders om te belê in ‘n siek en korrupte land!