Dwaalkoeël eis seun se lewe by begrafnis

Argieffoto

ʼn Elfjarige seun van Port Elizabeth is die naweek noodlottig gewond toe ʼn man na bewering skote begin afvuur het tydens ʼn vermeende bendebaas se begrafnis.

Kapt. André Beetge, Oos-Kaapse polisiewoordvoerder, sê die seun, wat geïdentifiseer is as Mbasa Dlamini, het Saterdagmiddag in Makubalostraat in die township KwaZakhele gestaan naby ʼn huis waarin die begrafnisdiens van die vermeende bekende bendeleier “Ncuncu” aan die gang was.

Die seun het blykbaar daarheen gestap om die verrigtinge dop te hou toe ʼn onbekende persoon kort voor 15:00 ʼn aantal skote in die lug afgevuur het. ʼn Dwaalkoeël het Mbasa getref, waarna hy in die pad ineengesak het.

ʼn Vrou wat daar verbygestap het, het nie besef hy is getref nie en het haar na hom gehaas om te kyk wat skort. Volgens ooggetuienis het hy nog geleef, want hy het geantwoord toe sy hom vra wat sy naam is. Daarna het hy sy oë toegemaak en nie weer gepraat nie. Hy is in die Dora Nginza-hospitaal dood verklaar.

Motherwell se eenheid vir geweldsmisdade ondersoek ʼn moordsaak, maar niemand is nog in hegtenis geneem nie.

Lutho Sokudela, DA-raadslid vir die gebied, sê KwaZakhele is een van die vyf gebiede in Suid-Afrika wat die ergste onder misdaad deurloop.

Hy sê misdaad soos moord, dwelmmisbruik en motorkapings neem skrikwekkende afmetings aan. “Ek glo sigbare polisiëring en patrollies sal baie vir die buurt beteken.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Willie ·

Ek stem…die ANC en EFF doen dit gereeld by hulle beyeenkomste… geen wet en orde nie… Weer n onskuldige seun wat sterf deur n rampokker….

Karolis ·

Is die almagtige polisiemag dan te bang om hierdie 5 gebiede skoon te maak?

Hennie ·

Sigbare polisiering gaan niks help nie, die polisie is deel van bende bedrywighede. As daar hoegenaamd polisie in die gebied was wat ‘n verskil wou maak, sou dit al gewys het. Tipies van bendelede, voer die polisie vet en hulle eet uit jou hand uit!

LouE ·

Hy het daar by die graf gestaan en skiet – nou weet niemand wie dit was nie? Miskien was sy Monopoly geld op datum.

Jepetto ·

Kan iemand vir my vertel wat i die land aangaan hoe kan so iets gebeur dis moeilik om te glo

Poppie ·

Ai, en ons land se mense is so trigger happy. En nou die dag was daar ook n kind in PE wat dood is as gevolg van bende skietery. Daar word niks aan hulle gedoen nie, maar laat jy nou net jou vuurwapen vir selfverdediging gebruik dan dans die hele EFF groep voor jou deur.

Johan H. ·

Lyk my die polisie raak soos hul regering. Wat n skande en vuil land het die nie geraak nie!

t ·

Ek het so ‘n voorval beleef op 17 November 2018. ‘n Dwaalkoeël het deur my dak geval omtrent 20cm voor my in die gang. Die Polisie het die punt kom haal en ‘n verklaring afgeneem. Fotos van binne-af geneem. Ek moes die fotos op die dak gaan neem omdat die forensiese dame te bang was om op die dak te klim in die nag. Geen hoek opmetings nie, niks. Een van die vrae van die Poliesman wat my bevestig het dat hierdie saak nie baie aandag gaan kry nie, is toe hy my vra of ek die doppie het en of ek die skieter ken…

Elna ·

@t jy praat so . Bel n mens hulle na 15 verskillende nommers toe dan bestaan 14 van die nommers nie en as mens gelukkig is om deur te kom om te vra vir hulp dan word daar vir jou gese:” Jammer ons het net een voertuig op die pad maar ons sal kyk of ons daar kan uit kom” dit nadat n mens bel en se jys aangeval in jou huis deur inbrekers. ? Dis die reaksie van die polisie. Waar kan mens hulle rapporteer?. Sterkte aan die familie met die verlies van n geliefde mag ons hemelse vader vir julle vertroosting bring.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.