Dwarskersbos: Aanbevelings nou na munisipale raad vir oorweging

Adv. Gerrie Nel (Foto: Verskaf)

AfriForum se private vervolgingseenheid het Donderdag lede van die gemeenskap in Dwarskersbos bygestaan in die munisipale ondersoek na die beweerde wangedrag van Jerome Pedro en Tertius Pool, albei verkeersbeamptes verbonde aan die Bergrivier-munisipaliteit, asook adv. Hanlie Linde, die munisipale bestuurder.

Ludwig Gericke, sy vrou, Mari, en ander inwoners het tydens die verrigtinge getuig oor voorvalle van beweerde magsmisbruik waarby Pedro en Pool glo betrokke was.

Adv. Etienne Vermaak het as voorsitter van die ondersoek opgetree.

Pedro en Pool het Gericke op 9 Mei vanjaar voor sy vrou en jong kinders op ʼn strand in hegtenis geneem en glo hardhandig behandel. Gericke het op die betrokke dag, terwyl vlak 4 van die afsonderingsregulasies nog gegeld het, vir sy vrou en driejarige kind op die strand gewag terwyl hulle noodsaaklike items by ʼn winkel gaan koop het. Hy het die egpaar se tien maande oue baba in ʼn buidelsak om sy lyf gedra.

Kragtens ʼn toegewing deur kapt. Predon Ackeer, stasiebevelvoerder van die Laaiplek-polisiestasie, was dit wettig om tydens die afsonderingstydperk in Dwarskersbos op die strand te stap. Pedro het volgens Ludwig egter gesê dat hy nie met dié vergunning van Ackeer saamstem nie.

Carina Bester, woordvoerder van die burgerregtegroep AfriForum, sê die Gericke-egpaar, asook Ilze en Dirk Visser, albei ooggetuies, het Donderdag getuig dat Pool tydens die voorval aan Mari Gericke gesê het hy kan nie verstaan hoe mense soos hulle toegelaat word om kinders te hê nie.

Pedro en Pool het vir Ludwig gesê dat hy nie die baba by hom as versagtende omstandighede moet voorhou nie.

Mari en Ludwig Gericke (Foto: Verskaf)

Bester sê Mari het getuig dat sy aan die verkeersbeamptes probeer verduidelik het dat die gesin van die winkel op pad huis toe was. Sy het ook getuig dat die voorval haar kinders histeries en in trane gelaat het.

Volgens Bester het Ludwig getuig dat adv. Linde se bevinding in die aanvanklike munisipale ondersoek, asook haar uitlatings oor die voorval, ontstellend en vernederend was. Die munisipaliteit het aanvanklik self die ondersoek teen Pedro en Pool behartig en bevind dat daar niks met hul optrede geskort het nie. Linde het ná afloop van Ludwig se inhegtenisneming ook op haar private blog neerhalende opmerkings oor die Gericke-egpaar gemaak.

“Ludwig sê die hele voorval het veroorsaak dat hy en sy gesin vervreem is van die plek en gemeenskap waar hulle gekies het om te belê en hulle te vestig. Mari het ook getuig dat die munisipale raad nog glad nie vir haar of Ludwig genader het om hul weergawe van die voorval te kry nie,” sê Bester.

Ander slagoffers van Pedro en Pool se beweerde magsmisbruik het getuig hoe hul sogenaamde minagtende en onprofessionele optrede dié slagoffers getraumatiseer en soos misdadigers laat voel het.

Vermaak sal nou die getuienis oorweeg en dan sy bevinding en aanbeveling aan die munisipale raad vir verdere optrede stuur.

Adv. Gerrie Nel, hoof van AfriForum se private vervolgingseenheid, sê hoewel hulle die proses steun, is hulle steeds verontrus dat maande verloop het sedert die munisipale bestuurder se openbare skuldigbevinding van die Gericke-egpaar.

“Die munisipale raad én die burgemeester het ondanks verskeie vertoë en kommunikasie eers gereageer nadat ons tot die aangeleentheid toegetree het. Ons sal nie toelaat dat vinnige en eensydige ondersoeke beamptes kwytskeld nie,” sê Nel.

Die eenheid het ook Woensdag die staat oorreed om klagte teen vyf inwoners van Dwarskersbos vir die beweerde oortreding van inperkingsregulasies te laat vaar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Johannes Andries ·

Dit is reg dat die verkeersbeamptes aangespreek word aangesien hulle hulle skuldig maak aan magsvergryping. Hulle moet geleer word dat hulle nie op ‘n onaantasbare wyse gewig kan rond gooi nie

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.