Dwarskersbos: Antwoorde geëis oor ‘dubbele standaarde’  

Mari en Ludwig Gericke (Foto: Verskaf)

AfriForum se private vervolgingseenheid wil antwoorde hê op bewerings dat die munisipale bestuurder van die Bergrivier-munisipaliteit haar werksaamhede hervat het.

Die burgerregte-organisasie het ’n skrywe aan die burgemeester van die munisipaliteit gerig oor bewerings dat adv. Hanlie Linde reeds op 20 Julie weer haar werksaamhede hervat het.

Die private vervolgingseenheid het op 16 Julie verskeie inwoners van Dwarskersbos aan die Weskus bygestaan in die munisipale ondersoek na die beweerde wangedrag van Jerome Pedro en Tertius Pool, verkeersbeamptes van die munisipaliteit, asook dié van Linde, tydens die inperking.

Natasha Venter, veldtogbestuurder by AfriForum, het gesê die private vervolgingseenheid het verder verneem dat dissiplinêre optrede ná afloop van ’n spesiale sitting van die munisipale raad op 18 Julie teen Pedro geneem gaan word, maar dat geen aksie teen Linde geneem gaan word nie.

Ludwig Gericke en sy vrou, Mari, het in Julie in hul getuienis gesê Linde se bevinding in die aanvanklike munisipale ondersoek, asook haar uitlatings oor die voorval was ontstellend en vernederend.

Die munisipaliteit, onder die leiding van Linde, het aanvanklik self die ondersoek teen die optrede van Pedro en Pool se hantering van lede van die gemeenskap behartig en bevind dat daar niks met hulle optrede geskort het nie. Die bevindinge is met die media gedeel.

Linde het glo ook op haar private blog neerhalende inskrywings oor die Gerickes gemaak. Nie die burgemeester of die munisipaliteit het sedertdien iets gedoen om die persepsies wat deur Linde se stellings geskep is, in die openbaar reg te stel nie.

Adv. Gerrie Nel saam met Ilze en Dirk Visser, twee van die inwoners wat AfriForum se privaatvervolgingseenheid verteenwoordig het (Foto: Verskaf)

“Wanneer ʼn mens die aard van die munisipale bestuurder se openbare opmerkings in aanmerking neem, is die stilte van die burgemeesterskantoor onrusbarend. Die afleiding kan dus gemaak word dat dié kantoor adv. Linde se verkleinerende opmerkings – dat sekere lede van hulle gemeenskap die virus verdien – ondersteun en goedkeur,” het Venter gesê.

Die getuies het tydens die formele ondersoek die geleentheid gekry om op Pedro en Pool se weergawes kommentaar te lewer. Adv. Etienne Vermaak onder wie se voorsitterskap die munisipale ondersoek in Julie gedoen is, het egter nooit tydens die ondersoek die munisipale bestuurder se weergawe van die gebeure of die siening van die raad aan AfriForum se kliënte voorgehou nie. Die afleiding dat die opmerkings en optrede van die munisipale bestuurder waarskynlik hulle goedkeuring wegdra, word bevestig deur die stilswye van die Bergrivier-munisipaliteit hieroor.

“Die private vervolgingseenheid sien al hoe meer die verontrustende verskynsel dat verkose amptenare skuil agter prokureurs en amptelike prosesse, eerder as om die gemeenskappe te dien wat hulle tot hul posisies verkies het,” het Andrew Leask, hoofondersoeker by AfriForum se private vervolgingseenheid, gesê.

“Dit is betreurenswaardig dat die lede van die gemeenskap AfriForum in die eerste plek moes nader voordat die munisipaliteit na hulle weergawes van gebeure wou luister,” het hy gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

marius ·

Dagvaar die rook uit hulle . Indie hul skop oor hul pateriese regulasies wys die verbreking deur hul eie ministers en hul kader vriende oor en oor en plak plakkate op elke gebou . Laat die wroeging van die gewone mense op hul los !

Mossel ·

Maar intussen kan Anc ministers en hul kraders in massas byeen kom vir n “struggle hero” se begrafnis, geen social distancing nie, en hul staan nog oop en bloot en rook ??? Niemand is in hegtenis geneem nie, die saak word nou glo ondersoek en verwys na die direktoraat!! Diskriminasie en rassisme ooglopend!!! Publiek word summier gearresteer

Pieter ·

Dit is eerstens vreemd dat ‘n advokaat die pos van munisipale bestuurder beklee, net soos die DG by openbare werke. Verder lyk dit of sy ‘n goed vuil politieke streep het en geen rasionaliteit besit nie.

Simon ·

Twyfel of sy die kwalifikasie het. Wanneer die son sak……

Elna ·

Ek woon in Dwarskersbos, en dink van die begin af die saak is groter opgeblaas as wat nodig was.
Feit, as die man net saam met Mnr Pedro gestap het om sy boete te kry ( hy was NA 9:00 uit sy woning ) sou die hele voorval tien teen een nie plaas gevind het nie.
Adv Linde bestuur Bergrivier Mun. puik, ons as inwoners is baie tevrede met haar en die Mun se werk wat hulle doen en trots op ons dorp en hoe dinge bestuur word.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.