Dwarskersbos: Skorsing geëis oor afsonderingsreëls-arrestasies

Dwarskersbos (Foto: Property24)

Jerome Pedro, ʼn verkeersbeampte in Dwarskersbos in die Wes-Kaap, se skorsing word geëis hangende ʼn billike en regverdige ondersoek na sy optrede.

AfriForum se privaat vervolgingseenheid het Maandag in ’n brief aan burgemeester Ray van Rooy geëis dat Pedro geskors word hangende die ondersoek. Dwarskersbos is ʼn vissersdorp met minder as 700 inwoners, net noord van Velddrif en ongeveer 160 km van Kaapstad.

“Die eenheid tree namens vyf mense op wat tydens die afsonderingsperiode deurgeloop het weens Pedro se beweerde onbillike en arbitrêre optrede,” het Natasha Venter, AfriForum se woordvoerder vir hierdie saak, in ʼn verklaring gesê. Die burgerregteorganisasie versoek ook in die brief dat die strafregtelike klagtes teen die betrokke individue vir die sogenaamde oortreding van afsonderingsregulasies teruggetrek word.

AfriForum het verlede maand aangekondig dat die privaat vervolgingseenheid vir Ludwig Gericke bystaan. Gericke is op 9 Mei 2020 voor sy vrou en jong kinders deur Pedro en nog ’n verkeersbeampte in Dwarskersbos in hegtenis geneem en na bewering hardhandig behandel. Gericke het op die dag, tydens risikovlak 4, vir sy vrou en driejarige kind, wat noodsaaklike items by die winkel gaan koop het, op die strand staan en wag. Hy het die gesin se 10 maande oue baba in ʼn buidelsak om sy lyf gedra. Kragtens ʼn toegewing deur ʼn plaaslike polisiebevelvoerder was dit wettig om tydens die afsonderingsperiode op die strand te stap in Dwarskersbos.

Pedro het hom genader en hom daarvan beskuldig dat hy die afsonderingsregulasies oortree. Toe Gericke omdraai om die strand te verlaat, het Pedro hom glo gegryp, hardhandig behandel en uiteindelik in hegtenis geneem.

Terwyl Gericke in die polisievoertuig gesit het, het Pedro en sy kollega glo ook terug gehardloop strand toe om ander persone aan te keer, “asof hulle besig was met ʼn trofeejag”, lui Nel se brief aan die burgemeester.

“Sedert die aankondiging gemaak is, het AfriForum verskeie klagtes van die gemeenskap van Dwarskersbos gekry oor Pedro se optrede,” het Venter bygevoeg. “Die privaat vervolgingseenheid versoek ook al die bewysstukke wat adv. Hanlie Linde, munisipale bestuurder, in haar ondersoek na Pedro se optrede in die Gericke-geval gebruik het. Hierdie ondersoek het bevind Pedro is onskuldig aan enige wangedrag.”

Volgens Venter is nie een van die gemeenskapslede, wat deur AfriForum verteenwoordig word, versoek om hul weergawes in die ondersoek te gee nie. “Die afleiding word dus gemaak dat adv. Linde bloot op Pedro se weergawe van gebeure staatgemaak het.”

Adv. Gerrie Nel, hoof van die privaat vervolgingseenheid, het verder in die brief gemeld dat die eenheid bekommerd is omdat hulle al hoe meer gevalle sien waar die regering vinnige, eensydige ondersoeke na onbehoorlike optrede van amptenare van stapel stuur. “Hierdie ondersoeke bevind gewoonlik dat die amptenare onskuldig is, maar bewysstukke dui daarop dat sulke oorhaastige bevindings gewoonlik irrasioneel is,” het Venter gesê.

“Ons kan nie toelaat dat wetstoepassers gewone, wetsgehoorsame mense in misdadigers verander nie. Die minister van polisie blyk baie trots te wees op die inhegtenisneming van meer as 230 000 mense vir die sogenaamde oortreding van afsonderingsregulasies, terwyl die ondersoeke na korrupte politici ver agterweë bly. Dit lyk asof hierdie houding jeens die kriminalisering van die publiek oorspoel na sommige wetstoepassers. Teen hierdie trant gaan baie wetsgehoorsame burgers, eerder as diegene wat dit eintlik verdien, ’n kriminele rekord hê.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Juffrou ·

Weereens: magsbehep op die verkeerde plekke! Dis om van naar te word. Té bang om die moordenaars, diewe en kriminele te jag!

Anel ·

Komunisme, dis wat dit is. Maak die gewone mense bang sodat die regering hul wil kan afdwing. So keelvol.

Mathys ·

My liewe leesgenote, geesgenote en feesgenote, doen jouself ‘n guns en kyk ‘n Film, geheet: “the Stanford project”, dit handel juis oor die iniskriminerende wyse waarop baltjies en dus outoriteit blindelings uitgedeel word aan diegene wat eerder hulle posisie, as die subjekte , van die wette, wil beskerm

Die Wolf ·

Ongelukkig sit ons met n probleem dat baie persone in sulke posisies nie werklik geskoold is nie. Sy toesighouer moet ook aangekla word, aangesien volgens my die oordra van inligting egedurende hulle daaglikse aanmeldings parade gedoen moet word. Bestaan daar so iets by hulle? Die Munisipale bestuurder moet ook pakslae kry.

Jakes ·

Die optrede van Pedro is maar mags misbruik van n person wat nou die geleendheid omhels het om te wys dat hy die nodige mag het om na willekeur arrestasies uit te voer. Weereens word die meriete van die aanstelling van beamptes bevraagteken.

Oujongvrou ·

Daar gaan niks van kom nie. Die publiek is magteloos . Ek praat gister met my kind in KZN, en wat se sy vir my. Mammie ek is nie bang vir siek word nie, ek isbang vir polisie en speedcops, so ek gaan nie uit nie. Snik. Skaam vir julle ANC,

andre ·

Burgermeester,Munisipale bestuurder en verkeersbeamptes moet gaan.Boetes werk nie ,want die eerlike opgevoede belastingbetaler betaal dit indirek

Pampoenboer ·

Die regering en sy trawante is boelies dis tyd dat ons die boelies n les leer

AH ·

Ek hoop dat die “niets ” wat “iets” geword het, asook Advokaat Linde hulle dag in die hof kry. Dit is regtig nou ‘n geval van jag maak op alle sagte teikens terwyl daar ‘n blinde oog na ernstige misdade gedraai word. As ek kan raai is Mnr Gericke seker blank……………….???

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.