Dwelmbeskuldigde ‘dog hy werk in medisynefabriek’

Die laboratorium waarop die polisie toegeslaan het. (Foto: ANA)

Borgtog is Dinsdag in die Durban-landdroshof toegestaan aan sewe verdagtes wat verlede maand in verband met ’n R50 miljoen-dwelmvonds in hegtenis geneem is.

Zainudeen Abrahams, een van die beskuldigdes, is borgtog van R15 000 toegestaan terwyl Millicent Skippers, Natasha September, Joseph Groenewald, Jamie May, Stephanie Hamke en Randall Jacobs op borgtog van R5 000 elk vrygelaat is. Al sewe beskuldigdes het in die hof aangedui dat hulle onskuldig op die aanklagte teen hulle sal pleit.

Die beskuldigdes se aansoek om borgtog is toegestaan op voorwaarde dat die groep gereeld by hul plaaslike polisieskantoor aanmeld. Dit volg nadat die staat aanvanklik borgtog teengestaan het. Die staat het aangevoer dat die sewe beskuldigdes – almal van Kaapstad – invloedryke bande het, ’n vlugrisiko inhou en getuies kan intimideer.

Die staatsaanklaer, Mahen Naidu, het gesê die verdagtes is onderskeidelik van Athlone, Delft en Mitchells‑plein in die Kaap – al drie gebiede bekend vir hul dwelmaktiwiteite.

Die staat voer aan dat die beskuldigdes hul tuiste verlaat het met die doel om in ʼn toegeruste laboratorium in KwaZulu-Natal te werk.

Die laboratorium waarop die polisie toegeslaan het. (Foto: ANA)

Abrahams het egter aan die hof gesê hy was onder die indruk dat hy in ’n laboratorium werk wat medisyne vir Vigs- en kankerbehandeling vervaardig. Hy het beweer ’n man genaamd Ismail Chetty het hom gewerf en gevra om ses ander mense te kry om in dié laboratorium te gaan werk.

Abrahams het op sy beurt die ander verdagtes uit die Kaap gewerf. Volgens Abrahams het hy R7 000 per week verdien terwyl die ander beskuldigdes elkeen R4 000 per week betaal was.

Die sewe se inhegtenisneming het gekom nadat polisie in Maart vanjaar op ʼn laboratorium in die Springfield Park-nywerheidsgebied aan die buitewyke van Durban toegeslaan het waar twee mans en vroue op ʼn masjien wat heroïenkapsules vervaardig, gewerk het. Dié vier is op die plek in hegtenis geneem, het die polisie destyds gesê.

Daar is ook op duisende kilogram metakalonpoeier – wat gebruik word om Mandrax‑tablette te meng – asook 60 kleurstowwe, ongeveer 10 000 Mandrax‑tablette en ongeveer 40 000 leë kapsules beslag gelê. Dié goedere waarop daar beslag gelê is, het ’n geraamde waarde van meer as R50 miljoen.

Dié klopjag het die polisie na ’n huis in Westville gelei waar nóg drie verdagtes aangekeer is nadat ongeveer 20 kilogram metakalonpoeier in dié huis gevind is.  Al sewe is verlede maand aangekla van die vervaardiging en handel met heroïene en Mandrax asook oortreding van die Wet op Medisynebeheer. Die saak is tot 2 Julie uitgestel.

Dié goedere waarop daar beslag gelê is, het ’n geraamde waarde van meer as R50 miljoen. (Foto: ANA)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Wonder ·

Dis uiteraard wonderlik dat hul gearresteer is en daar beslag op die dwelms gelê is, maar wat my wel bekommer is, met ons polisiemag wat grotendeels korrup is, daardie dwelms sal waarskynlik net “verdwyn” en hul pad terug straat toe vind waar onskuldige mense se lewens verwoes word.

Boet Fasie ·

Hi shame, regtig hy het gedink hy werk in ‘n wettige laboratoruim , gee hom en sy makkers tronkstraf hulle kan gratis in die tronk gaan dink.

Heksie ·

Daai pharmaseutiese fabriek se winsgrens is hoog as hul sulke salarisse kan betaal.

Hess ·

Hoekom het hul borg gekry? Die Wes Kaap sukkel dan reeds met dwelms en bendes. Is hulle nie deel van die probleem nie. Hul is los gelaat dat hul die dwelm base weer kan voorsien . Hulle gaan aanhou met hul vuil werk. Hou hulle toegesluit. Hoe kon die staatsaanklaers en howe dit toelaat.

SjN ·

Die definisie van n wanindruk, dit is n matriek meisie wat vakansies in n kondoom fabriek werk, sy is onder die indruk hul maak slaapsakke vir veldmuise.

Knersis ·

Ja man mens kry werk in laboritorium vir R7,000 ‘n week. Die maan is ook van kaas gemaak.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.