Dwelmeenheid dringend nodig ná ‘Mercedes’-konkoksie

Argieffoto

Argieffoto

Die Demokratiese Alliansie het Sondag gesê die jongste dwelmverwante sterfgevalle in KwaZulu-Natal is ‘n bewys dat die polisie se voorgestelde gespesialiseerde eenheid teen dwelmmiddels dringend ingestel moet word.

“Polisieminister Nathi Nhleko moet eenhede van die Narkotika Buro bespoedig om onwettige dwelmhandel te bekamp,” het Zakhele Mbhele, woordvoerder van die DA, gesê.

Vier tieners is dood en 36 was in ‘n kritieke toestand nadat hulle glo ‘n nuwe vorm van ecstasy, genaamd Mercedes, ingekry het. Die tieners het die einde van die kwartaal gevier toe hulle vergiftig is.

Mbhele het gesê hy het ‘n skrywe aan Nhleko gerig nadat pres. Jacob Zuma die oprigting van die gespesialiseerde anti-dwelm-eenhede aangekondig het, maar hy het tot dusver nog nie enige reaksie ontvang nie. Volgens hom behoort dit nie moeilik te wees om die eenhede op die been te bring nie. “Die polisie kan die personeel, wat oorgebly het ná die gespesialiseerde dwelmeenhede tragies deur die destydse nasionale polisiekommissaris Jackie Selebi in 2006 ontbind is, saamroep.” Hy het bygevoeg die volgende stap sou wees om die prioriteitsgebiede te identifiseer waar die eenhede met hul gefokusde ondersoek kan begin.

Volgens Mbhele het die 2014/15-misdaadstatistiek ‘n riglyn gebied wat daarop wys dat KwaMashu ‘n prioriteitsgebied moet wees, aangesien dit tussen twee KwaZulu-Natal-polisiedistrikte geleë is waar die hoogste aantal dwelmverwante misdade in die provinsie aangemeld is, naamlik Durban Sentraal en Phoenix.

Hy het verduidelik ‘n taakspan om die krisis aan te spreek is nie voldoende vir ‘n langtermyn volhoubare oplossing nie.

“Die DA betuig sy medelye met die families van die vier jongmense wat hul lewens verloor het weens giftige dwelmmiddels wat te veel gemeenskappe teister, en simpatiseer met die 36 ander wat kritiek deur die sogenaamde ‘Mercedes’-konkoksie geraak is,” het hy gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

HEVW ·

Blykbaar snap julle nie wat in die kommentaar hierbo genoem word nie. Is dit volgens jul goedkeuring? Hoe kan mens van gemors sterftes praat en dan nog bekommerd wees dat dit met 95% beperk sal word. As u kind a.g. v. dwelms sterf, sal u tevrede wees as sy sterwe as n gemorssterfte getipeer word?

sannie ·

HEVW as jy iets oor jouself bring is jy al een wat verantwoordelik daarvoor is. Dit wil sê as jy dwelms gebruik….kan jy defnitief nie iemand anders daarvoor blameer nie

Marous ·

Waarom het julle Sanab ontbind??? Waarom die bedrogeenhede??? Julle het jul pelle beskerm!

Rens Roodt ·

Stem saam – dwelmhandel het hoe geldinkomste – daarom het die regering die regering hierdie eenhede verbied – hulle self het n vinger in die pie

sarie van heerden ·

My innigste simpatie met die families wat hul kinders verloor agv van oordosering van dwelms maar ons kinders moet ook geleer word dat die lewe bestaan uit keuses, besluite, goed of sleg, met gepaardgaande nagevolge. Kinders wat dit nog nie weet nie moet weet wat die gevare van dwelms is en dan is dit hul keuse wat hul met daardie inligting sal doen.

GES ·

Dit is nogal raaiselagtig. Skielik is die anc bekommerd oor dwelmverwante sterftes maar plaasmoorde geniet feitlik geen aandag. Gaan die verkeerde mense dood?

cs ·

Wil net graag weet hoe vier kinders einde van die Kwartaal met dwelms, nogal extacy! In ons tyd het ons ‘n groep gemaak en sommer piekniek by die swembad gehou of in die Kerksaal tafeltennis of speletjies gespeel.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.